Tydens ’n onlangse gesprek tussen stoetboere is embriospoeling en -inplanting by hul koeie bespreek. Een spesifieke onderwerp het ’n veevoedingskundige onmiddellik sy ore laat spits. Dit het gehandel oor die gebruik van sogenaamde fertiliteitsvoere wat konsepsie verseker.
Die algemene gevoel in die gesprek was dat ureumvrye aanvullings beter is vir koeie se vrugbaarheid en dat voer wat ureum bevat, fertiliteit nadelig kan beïnvloed. Die veevoedingskundige het besluit om die saak verder te ondersoek om te kyk of daar werklik meriete is in hierdie stelling.
Proteïene bestaan uit aminosure, wat organiese verbindings is wat uit ’n aminogroep (-NH2), ’n karboksielgroep (-COOH), en ’n unieke koolstofsyketting (of “R”-groep) opgemaak is.
Ureum, met die chemiese formule CO(NH2)2, word as ’n nie-proteïen stikstofbron (NPN) geklassifiseer omdat dit stikstof bevat wat nie in die vorm van ’n aminosuur is nie. Rumenmikrobes speel ’n belangrike rol in die herkouer se spysverteringstelsel sodat hulle ureum as substraat kan gebruik.
Die mikrobes breek die ureum af na ammoniak (NH3), wat as boublok vir nuwe mikrobiese proteïene dien. In hierdie proses het 1 g ureum ’n proteïenwaarde van 2,81 g proteïene en meer proteïene word vanuit die ureum saamgestel as wat dit op sy eie in die voer geweeg het.
Hierdie proses is nie uniek vir ureum nie. Ander “natuurlike proteïene” en aminosure kan deur die fermentasieproses afgebreek word om ammoniakgroepe aan vrydrywende koolstofkettings te skenk sodat nie-essensiële aminosure opgebou kan word. Daarom is proteïenaanvulling by herkouers minder gefokus op aminosuurprofiele as by aanvullings vir varke en hoenders.
Wanneer hierdie rumenmikrobes afsterf, beweeg dit saam met die voer deur die spysverteringstelsel na die dunderm, waar dit as ’n proteïenbron vir herkouers dien.
Aangesien ureum goedkoop is en maklik deur industriële prosesse in grootmaat vervaardig kan word, is dit ’n baie bekostigbare bron van stikstof vir herkouervoeding. Daarom gebruik baie produsente ureum in lekke en voerkrale voeg dit ook dikwels by hul hoëproteïenkonsentrate (HPK’s).
Uitwerking van ureum op vrugbaarheid
Die mees voor die hand liggende risiko wat ureum vir vrugbaarheid inhou, is die gevaar van ureumvergiftiging wanneer die ureum wat aan die dier gevoer word té vinnig in ammoniak omgeskakel word.
Streng gesproke is dit dus eerder ’n geval van ammoniakvergiftiging. Die opeenhoping van ammoniak in die grootpens (rumen) veroorsaak rumenalkalose – ’n toestand waarin die rumen se pH abnormaal hoog raak. Die ammoniakgas laat die dier opblaas en moontlike vrektes kan vinnig volg.
Kan sub-akute ureumvergiftiging – met ander woorde, laer vlakke van ammoniak wat nie noodwendig dodelik is nie – ’n negatiewe invloed hê op vrugbaarheid? Hierdie teorie word toenemend aanvaar. Dit hou verband met die feit dat selfs ’n effense styging in die rumen-pH as gevolg van oormatige ammoniak mettertyd ook die bloed se pH kan beïnvloed.
’n Verhoogde bloed-pH kan op sy beurt die baarmoeder se pH verander, wat dit meer alkalies maak. Hierdie verandering van die fisiologiese balans kan die suksesvolle aanhegting van embrio’s in die uterus belemmer en dus vrugbaarheid negatief beïnvloed, selfs al toon die dier geen uiterlike simptome van siekte nie.
Hoe kan die hipotese getoets word?
Metodes om die weidingsinname te bepaal, is óf baie onakkuraat óf dit vereis intensiewe hantering, wat op sy beurt weer stres in die dier kan veroorsaak en die resultate van reproduksie-verwante navorsing beïnvloed. Verskeie studies het al bewys dat stres ’n beduidende invloed op reproduksie het.
Daar moet verkieslik dan eerder op meer indirekte metodes staatgemaak word. Een só ’n metode is om die ureumvlakke in die dier se melk te meet en dit dan met die reproduksieprestasie te vergelyk.
Die meting van melkureumvlakke bied verskeie voordele. Eerstens vereis dit nie ekstra hantering nie. Melkerye het boonop dikwels uitstekende rekordhoudingstelsels, insluitende datums van kunsmatige inseminasie (KI) en kalfdatums, wat dit makliker maak om die reproduksieprestasie oor tyd te monitor.
Een só ’n studie is in 2001 in die Journal of Dairy Science gepubliseer, onder die vaandel van die Amerikaanse Melkraad. Die artikel, getiteld “Association between milk urea nitrogen and fertility in Ohio dairy cows”, het ’n beduidende korrelasie gevind tussen verhoogde melkureumstikstof (milk urea nitrogen, of MUN) en swakker reproduksieprestasie. Die kuddes met hoër MUN-vlakke het gemiddeld meer KI’s benodig om dragtigheid te bereik, wat ’n aanduiding van laer vrugbaarheid is.
Nie so eenvoudig nie
Voordat jy nou as bekommerde veeprodusent daardie ureumlek eerder oor jou lande uitstrooi as kunsmis, en lusernhooi en soja-oliekoek as voer aankoop, wag net ’n oomblik.
Selfs in die Ohio-studie noem die outeurs dat daar min direkte korrelasie tussen die ureum in die voer self en die reproduksieprestasie van die koeie gevind is. Die melkureumstikstof (MUN) wat in die studie gemeet is, word deur ’n verskeidenheid faktore beïnvloed, waarvan die dieet maar net een is.
Dié studie het in werklikheid bloot bestaande data van 24 melkerye ontleed en was dus eerder ’n interpretasie van sekondêre data, en nie ’n beheerde proefneming nie. ’n Hoë MUN beteken nie noodwendig daar is té veel ureum in die voer nie.
Hierdie standpunt word verder ondersteun deur ’n studie wat in 2012 in The South African Journal of Animal Science gepubliseer is (Kgole et al., 2012). Die artikel, getiteld “Environmental factors influencing milk urea nitrogen in South African Holstein cattle”, het data van 9 901 Holstein-koeie uit 40 verskillende troppe oor drie jaar ontleed om te bepaal watter faktore MUN-vlakke beïnvloed.
Daaruit het dit geblyk dat ’n reeks faktore die MUN beïnvloed, insluitend die trop, toetsdatum, die jaar van kalwing, laktasienommer, stadium van laktasie, aantal melkbeurte per dag, asook melk-, proteïen- en vetopbrengs. Al hierdie faktore dra by tot die variasie in MUN en maak dit dus baie moeilik om net die ureuminname as oorsaak vir enige waargenome uitwerking op vrugbaarheid uit te sonder.
Dit bring ’n mens by die konsep van ’n skynkorrelasie (reverse correlation), waar ’n derde veranderlike die kamma-verband tussen twee ander veranderlikes beïnvloed. ’n Klassieke voorbeeld is die korrelasie tussen roomysverkope en sonbrand (Grafiek 1). Vanuit die positiewe korrelasie kan die gevolgtrekking gemaak word dat roomysverkope sonbrand veroorsaak! Daar is egter ’n derde faktor ter sprake: Warm weer.

In die geval van die Ohio-studie, is die waarskynlikste derde faktor melkproduksie. Die groepe koeie met die hoogste MUN én die swakste vrugbaarheid was ook dié wat die hoogste melkproduksie gehad het. Die koeie se metabolisme was dus meer gefokus op melkproduksie, ten koste van reproduksieprestasie.
Die werklike uitwerking van ureum op vrugbaarheid
Twee artikels wat in die Journal of Animal Science (Bolt & Oltjen, 1973) gepubliseer is, dra waardevol by tot die gesprek oor ureum se werklike invloed op die reproduksieprestasie van herkouers. Hierdie studies is merkwaardig omdat die diere op ’n volvoerbasis gevoer is. Daarom kan net die veranderlike – ureumvlakke in die voer – ondersoek word.
Die eerste artikel, wat in die tweede uitgawe van 1973 verskyn het, getiteld “Effects of dietary urea on reproduction in ruminants”, het gefokus op die reproduksieprestasie van koeie, skaapooie, bulle en ramme wat met ureum- of soja-gebaseerde rantsoene gevoer is. Hier word slegs op die koeie se data gefokus.
In hierdie studie is 153 Angus- en 87 Hereford-koeie in vier groepe verdeel. Twee groepe is gevoer met kuilvoer as basis, aangevul met óf ureum óf sojaboonmeel. Die ander twee groepe het ’n lae gehalte hooi-dieet ontvang, ook met óf ureum óf soja as proteïenaanvulling. Al die rantsoene is gebalanseer om dieselfde vlakke van energie en proteïen te bevat.
Geen betekenisvolle verskille is tussen die groepe in hierdie studie waargeneem ten opsigte van die volgende nie:
- Gereedheid van estrus (hitte).
- Konsepsietempo per siklus.
- Kalfpersentasie.
- Duur van die dragtigheid.
- Embrio-ontwikkeling.
Verder was daar ook geen verskil in die kalwers se geboortegewigte of die koeie se liggaamsontwikkeling nie. Soortgelyke resultate is ook aangeteken by die reproduksieprestasie van skape. Dit is noemenswaardig, aangesien skape meer gevoelig is vir ureumvergiftiging as beeste.
In die tweede studie, gepubliseer in die vierde uitgawe van 1973, getiteld “Growth and reproductive performance of beef females fed high urea-containing diets”, is twaalf pare tweelingverse gebruik, wat ewekansig verdeel is in drie groepe met soortgelyke rantsoene. Elke dieet het bestaan uit 50% lae gehalte ruvoer, aangevul met óf sojameel alleen óf ’n kombinasie van soja en ureum, óf ureum alleen as proteïenbron. Die proteïne en energievlakke van al drie diëte was dieselfde.
Gedurende die proefneming is daar geen beduidende verskille aangeteken tussen die groepe nie in terme van:
- Lengte van die estrussiklus.
- Aantal inseminasies tot dragtigheid.
- Kalwers se geboortegewig.
- Melkproduksie.
- Gemiddelde daaglikse groei van die kalwers.
- Die tyd tussen kalwing en die volgende hitteperiode.
Die enigste moontlike verskil was dat koeie in die sojagroep (sonder ureum) effens swaarder was op die ouderdom van eerste dragtigheid en kalwing. Hulle dragtigheidsperiodes was ook langer. Albei studies het tot dieselfde gevolgtrekking gekom, naamlik dat ureum gevoer in die regte hoeveelheid en wyse geen negatiewe uitwerking op reproduksie het nie.
Verseker vrugbaarheid met proteïenaanvulling
Die gebruik van ’n sogenaamde “wondervoermengsel” wat glo vrugbaarheid moet verbeter, kan maklik verdedig word met die feit dat dit duurder is.
Daar ís meriete in sekere van die duurder aanvullings. Só is dit byvoorbeeld algemene kennis dat prikkelvoeding (flushing) ovulasie stimuleer en dat sekere vitamiene en minerale, soos vitamien E en sink (Zn), belangrik is om konsepsie en embrio-oorlewing te bevorder. Dit verbeter ook die behoud van deurvloeiproteïen (rumen-beskermde proteïne), wat nie in die grootpens afgebreek word nie.
Samevatting
Die geheim lê nie in duur produkte nie, maar in die regte hoeveelheid proteïen op die regte tyd. Oorvoorsiening van maklik-afbreekbare proteïene, veral ureum, kan lei tot rumen-alkalose weens die vrystelling van oormatige ammoniak. Dit veroorsaak ’n versteuring van die rumen en kan negatief inwerk op die uterusomgewing, wat weer embrio-aanhegting belemmer.
Hierdie probleem ontstaan veral wanneer winterlekke wat ureum bevat op groen, proteïenryke weiding gevoer word. Die natuurlike proteïene van die weiding saam met ureum kan tot oormatige ammoniakvorming lei. Aan die ander kant is ureum op droë winterweiding noodsaaklik om die verteerbaarheid van swak gehalte ruvoer te verbeter. As dit ontbreek, daal die liggaamskondisie. ’n Swak liggaamskondisie word met swak reproduksie geassosieer.
Daarom kan die volgende beginsels gevolg word om ’n hoë reproduksiesyfer te verseker:
- Verskaf die regte lek op die regte tyd.
- Stel voedingsgebreke reg.
- Dien bykomende vitamiene en minerale toe (soos vitamiene E, selenium en sink) voor die dekseisoen.
- Laat dek vroulike diere tydens ’n opwaartse kurwe in hul liggaamskondisie.
- Hou akkurate rekords en prul diere wat nie voldoende produseer nie.
- Laat dek verse eers wanneer hulle ten minste 60% van hul volwasse liggaamsgewig bereik het en verkieslik ’n maand voor die koeie gedek word.
As hierdie beginsels van voeding en reproduksiebestuur korrek toegepas word, sal die kudde se reproduksiesukses verbeter sonder dat daar gesoek hoef te word na “wondervoere”.
Bronnelys
- Bond J and Oltjen RR, 1973. Growth and reproductive performance of beef females fed high urea-containing diets. Journal of Animal Science, 1040-1047
- Kgole ML, Visser C and Banga CB, 2012. Environmental factors influencing milk urea nitrogen in South African Holstein cattle. South African Journal of Animal Science
- Pfiefer LF, Rodrigues WB and Nogueira E, 2021. Relationship between body condition score index and fertility in beef cows subjected to timed artificial insemination. Livestock Science
- Rajala-Schultz PJ, Saville WJ and Frazer GS, 2001. Association between milk urea nitrogen and fertility in Ohio dairy cows. Journal of Dairy Sciences