
’n Blonde vrou kyk met groot blou oë verskrik na regs. Die bloed wat van haar gesig af stroom, het haar T-hemp waarop “Kakiebos” staan, rooi gevlek. Dié foto van Liani van der Berg (50) is wyd op die nuus- en sosiale media versprei nadat sy op 17 Maart wreed op ’n plaas buite Coligny aangeval is. Sy is deur ’n onbekende man oorval en herhaaldelik met ’n ysterpyp geslaan. Sy kon ontsnap en hulp ontbied.
Daar is wyd oor die polisie se oënskynlike trae hantering van die saak berig. Nie net het hulle Liani eers vir ’n verklaring genader ná verskeie medianavrae nie, maar ’n polisiewoordvoerder het bevestig dat ’n klag van “blote” aanranding met die opset om ernstig te beseer, ondersoek word. Waarom nie ’n saak van poging tot moord nie? As jy na die omvang van haar beserings kyk, is dit mos duidelik dat die aanvaller in alle waarskynlikheid die bedoeling gehad het om haar dood te maak!
Goed, kom ons los die oordeel vir die Nasionale Vervolgingsgesag en die regbank. Dis nou ás ’n verdagte wel aangekeer word en die saak ooit die hof haal.
Netwerk24 het op 26 Maart berig dat die waarnemende minister van polisie, prof Firoz Chavalia, in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê het dat 25 mense slegs in die derde kwartaal van 2025/2026 in plaasaanvalle vermoor is. Vier van hulle was in Noordwes. Altesaam 269 mense is die afgelope vyf boekjare in landelike of boerderygemeenskappe vermoor, waarvan 160 swart was, 124 wit, ses bruin en vier Indiërs.
Hy het voorts aangekondig dat ’n Nasionale Landelike Veiligheidstrategie ingestel gaan word om onder andere dienslewering, reaksietye en sigbare polisiëring in landelike en boerderygemeenskappe landwyd te verbeter.
Die polisie is onderbeman en ervaar ’n reuse tekort aan hulpbronne. Feite. Maar nog erger is baie van diegene wat wel in diens is se onvoldoende opleiding, gebrekkige dienslewering en swak werksetiek.
Die oggend van 24 November 2025 het ’n man, sigbaar onder die invloed van een of ander middel, my doelbewus met sy voertuig probeer omry terwyl ek gedraf het. Ek het die polisie gebel, die voertuig se registrasienommer foneties aan die beampte in die beheerkamer oorgedra en genoem dat die verdagte vanuit Lichtenburg op die R505 in die rigting van Ottoshoop weggejaag het. Sy het onderneem om ’n voertuig soontoe te stuur.
Toe ek later opvolg om te hoor of hulle die verdagte opgespoor het, het sy geantwoord dat ek aan haar genoem het dat die verdagte in Ottoshoop is. Aangesien dit buite Lichtenburg se polisiëringswyk val, is ’n voertuig nie ontbied nie. Hoe op aarde ontstaan hierdie gaping in kommunikasie? Gelukkig het ek intussen die voertuig se besonderhede aan die plaaswag gegee en danksy die kameranetwerk wat langs die R505 opgerig is, is die verdagte in ’n japtrap gearresteer en aan die polisie oorhandig.
Lang storie kort – ék is deur die polisie geroskam omdat ek kwansuis die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi-wet) oortree het deur ’n foto van die verdagte se nommerplaat te neem. Hy is vrygelaat omdat die staatsaanklaer van mening was dat daar nie ’n kans op suksesvolle vervolging was nie.
Só kan talle misdaadslagoffers getuig van die sekondêre trauma wat die polisie se swak hantering van ’n saak dikwels veroorsaak. Daarom kan die waarde van landelike veiligheidsinisiatiewe soos dié van Agri Securitas nie onderskat word nie. Paul du Plessis van Agri Ottosdal het in ’n Facebook-video dié trustfonds bedank vir geld wat aan hulle oorhandig is om kameras langs paaie in hul gebied op te rig. 
Cobus van Zyl, voorsitter van dié fonds, het bevestig dat die skenking aan Agri Ottosdal R150 000 beloop het en dat ’n groot deel hiervan danksy NWK se Ysters vir Landbou-inisiatief is, waarmee die maatskappy R1 miljoen ingesamel het met sy deelname aan ’n Ysterman-kompetisie. Totdat die maatreëls wat die waarnemende minister aangekondig het vrugte afwerp, behoort ons alles in ons vermoë te doen om die hande van inisiatiewe soos Agri Securitas te versterk.
Liewe Liani, ek ken jou nie. Ek kan wel uit ervaring getuig dat genesing langer neem wanneer jou aanvaller nie aan die pen ry nie. Dit gaan nie oor vergelding nie. Dit gaan oor verantwoordbaarheid en die versekering dat hy nie aan ander sal doen wat hy aan jou gedoen het nie.
Ek bid vir jou. Vir elke boer. Vir ons land. Vir positiewe verandering. Vir vrede. Sterkte!







