’n Dekgewas is enige gewas wat die grond bedek wanneer geen kontantgewas geplant is nie. In hierdie artikel kyk ons van naderby na hierdie tipe gewasse.
Doel van ‘n dekgewas
Die doel van ’n dekgewas is die volgende:
- Erosiebeheer.
- Skadu oor die grondoppervlak om verdamping te beperk.
- Grondverbetering en siektebeheer.
- Stikstofaanvulling deur middel van peulplante.
- Byvoeging van plantmateriaal om die grond se koolstofvlakke te verhoog.
- Onkruidonderdrukking.
- Verbetering van die grond se fauna- en floraverskeidenheid.
In sommige gevalle word dekgewasse saam met ’n kontantgewas geplant. Die doel van só ’n dekgewas is gewoonlik as weidingsaanvulling en dit bestaan meestal uit weigewasse wat laat in die seisoen aangeplant word.
Beplanning is nodig
BOERDERYPRAKTYKE
Dekgewasse kan inpas bydie meeste boerderypraktyke, maar konvensionele ploegpraktyke verhoed dat hulvoordele ten vollebenut kan word. Met ploegpraktyke moet groenbemesting eerder oorweeg word.
Die beste ontsluiting van die voordele van dekgewasse vind in geenbewerking plaas en dit vorm dan ook deel van ’n holistiese benadering tot grondgesondheid en grondkoolstofaanvulling.
Die voor- en nadele van dekgewasaanplanting en die rede waarom dit oorweeg word, moet vooraf deeglik oordink word.
KOSTE
Om ’n dekgewas aan te plant, is nie noodwendig goedkoop nie. Dit is dus nodig om die koste van aanplanting te regverdig deur die verwagting van óf ’n aansienlike oesverbetering en/of om die dekgewas deur ’n veefaktor te benut.

Voergewasse as dekgewas speel hier ’n groot rol om die koste van die dekgewas te dek, asook om ’n moontlike bydrae tot wins uit die aanwending van dekgewasse te maak. Hawer, gars, korog en koring is goeie keuses om in die wintermaande voedsame kos aan diere te voorsien.
Plant van dekgewasse
Dekgewasse word gewoonlik ná die oes van somerkontantgewasse geplant. Dekgewasaanplantinggeskied dus hoofsaaklik in die kouer maande, wat hierdie plantsoorte kan beperk.
Die volgende is geskikte plantsoorte om as dekgewasse in die kouer maande te plant:
- Serradella.
- Hawer, gars, korog en swart hawer.
- Lupiene.
- Erte.
- Kool, kanola en ander koolagtige gewasse.
- Voerradys.
Wanneer dekgewasse op oorstaan- of braaklande geplant word, kan die volgende somergewasse geplant word:
- Akkerbone.
- Sojabone.
- Dolichos.
- Fluweelbone.
- Voersorghum.
- Wieke.
- Verskeie klawers.
Voordele van dekgewasse
GRONDVERBETERING
Die belangrikste voordeel van ’n dekgewas is waarskynlik die deklaag van dooie plantmateriaal wat gevorm word. Hierdie deklaag kan die verdamping van grondvog verminder en die infiltrasietempo van reënwater verhoog.
’n Grondtemperatuur wat minder wissel, word ook deur die deklaag bewerkstellig. Dit bied die geleentheid om vroeër te plant, beter ontkieming te kry en minder omgewingstres op kontantgewasse te plaas sodat die opbrengs kan verhoog.
Die verskeidenheid van grondfauna en -flora word ook deur ’n deklaag verhoog, wat tot minder siektes en beter voedingstofbenutting van die kontantgewas lei.
Dit is belangrik om kennis te neem daarvan dat die meeste grondverbeteringsaksies van dekgewasse eers náverskeie jare se opeenvolgende aanplanting waargeneem kan word.
Koolstofverhoging van die grond is een van die aspekte wat gewoonlik hand aan hand met dekgewasaanplanting gaan. Dekgewasse het ’n noemenswaardige impak op die hoeveelheid koolstof in die grond, maar koolstofverhoging sal eers na verskeie jare se gereelde dekgewasaanplanting plaasvind. Aangesien oesreste ook ’n groot rol in die opbou van grondkoolstof speel, moet dit dus ook in ag geneem word wanneer ’n dekgewasaanplanting beplan word.
Dekgewasse kan ook ander grondverbeteringsaksies,soos biologiese beroking, uitvoer. Dit kan bewerkstellig word deur wit mosterd of radyse aan te plant. Grondberoking verminder grondgedraagde peste en plae soos nematodes, wat kontantgewasse kan help om beter opbrengste te lewer.
OPBREEK VAN VERDIGTE LAE
’n Ander fisiese aksie wat deur dekgewasse uitgevoer kan word, is die opbreek van verdigte lae in die grondprofiel. Die verdigte lae kan egter nie so doeltreffend soos met meganiese metodes opgebreek word nie. Tonnels word deur die dekgewaswortels veroorsaak, wat deur kontantgewasse se wortels gebruik kan word om deur die verdigte lae te groei. Gewasse met sterk wortelstelsels, soos kanola, kan hiervoor gebruik word.
Die rol van vogbestuur
Vogbestuur is een van die belangrikste kwessies rondom die aanplant van dekgewasse. Die dekgewas self gebruik vog, wat baie produsente laat dink dat dekgewasse die opvolgende kontantgewas se oesopbrengs nadelig kan beïnvloed. Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die dekgewas die grondvogstatus kan verhoog deur verdamping te verminder en die infiltrasietempo van reënwater te verhoog.
Deeglike beplanning rondom die planttyd en die tyd van terminasie van die dekgewas is egter nodig om ’n balans te vind tussen die voordelewatdekgewassebied en die uitputting van die grondvog. Die terminasie van ’n dekgewas geskied gewoonlik binne 30 tot 90 dae ná aanplanting en definitief voordat die dekgewas kan saadskiet.
Die hoeveelheid blaremateriaal of grondbedekking moet in aggeneem word om ’n dekgewas se doel te bepaal. Grondvog moet ook by die ander voordele wat dekgewasse bied, gereken wordom sodoende ingeligte besluite te neem.
Samevatting
Die volgende punte kan gebruik word om te bepaal of dekgewasaanplanting ’n produsent kan help om meer winsgewend te boer:
- Dekgewasse moet ’n doel hê.
- Deeglike beplanning is ’n voorvereiste om dekgewasse suksesvol in boerderypraktyke te integreer.
- Die meeste van die voordele wat dekgewasse bied, word eers naverskeie jare se gereelde aanplanting gerealiseer.
- ’n Veefaktor kan dekgewasaanplanting ekonomies haalbaar maak.
Bronnelys
Arcuri L, 2019. Covercrops and their benefits. https://www.thespruce.com/definition-of-cover-crop-3016953 [26 Junie 2020]
Bennet C, 2018. Seeds of discord: Crossingthegreatcovercropdivide. https://www.agweb.com/article/seeds-of-discord-crossing-the-great-cover-crop-divide [26 Junie 2020]
Lyon DJ, Herber GW, Higgins R and Calderon F, 2014. Covercrop mixtures do not use water different lythansingle-species plantings. Agron. J.107, 1025-1038
Nickel R, 2018. Hold water in the soil. https://www.agriculture.com/crops/cover-crops/hold-water-in-the-soil [26 Junie 2020]
Strom S, 2016. Covercrops, a farming revolution with deep roots in the past. https://www.nytimes.com/2016/02/07/business/cover-crops-a-farming-revolution-with-deep-roots-in-the-past.html [26 Junie 2020]