Dit is die mening van Brandon de Kock, direkteur van storievertelling by Whyfive, ‘n maatskappy wat spesialiseer in die ontleding van verbruikerspatrone. De Kock het Agri SA se virtuele kongres op Donderdag, 8 Oktober 2020 toegespreek.

(Erkenning: Whyfive)
“Verbruikers en besluitnemers met mag het meer bewustheid as ooit tevore en julle moet dit gebruik om die waarde van landbou en produsente in die voedselketting en in die samelewing te beklemtoon,” het hy bygevoeg.
De Kock het kongresgangers toegespreek oor hoé COVID-19 verbruikersgedrag verander het en wat dit vir produsente en die landbou beteken. Hy meen dis nog te vroeg om te raai wat die werklike uitwerking van COVID-19 gaan wees, maar dat dit wel belangrik is vir produsente om kennis te neem van die Suid-Afrikaanse verbruiker.
Bestaande swakhede ontbloot
“COVID-19 het niks geskep nie, maar bloot bestaande swakhede ontbloot. Dit het byvoorbeeld nie ko-morbiditeite soos diabetes en hoë bloeddruk geskep nie, maar wel daaruit voordeel getrek.”
Hy het die Suid-Afrikaanse verbruiker teen hierdie agtergrond blootgelê. Tot 70% van Suid-Afrika se bevolking verdien minder as R10 000 per maand, met slegs 5% wat R40 000 of meer per maand verdien.
Suid-Afrika is een van die jongste lande ter wêreld, met 20,6 miljoen individue tussen die ouderdomme van 15 en 34 jaar (35,1%) en 15,9 miljoen tussen die ouderdomme van 35 en 59 jaar (27,1%). Slegs 5,3 miljoen mense (9%) is ouer as 60 jaar. “Dit het ‘n reuse impak op die verbruikersmark in Suid-Afrika, omdat jongmense meer eet, drink en doen en dus meer geld spandeer.
Hy het ook verwys na die jong Gretha Thunberg wat haar beywer vir klimaatsverandering en beklemtoon dat jongmense die vermoë het om die wêreld te verander. “Jongmense gaan nog agterkom dat tot 30% van kos wat produsente produseer, vermors word. Hulle moet opnuut ‘n verbintenis met kos vorm, wat geweldig moeilik is in ‘n tyd waarin kitskos geïdealiseer word.
Op ‘n vraag oor wat gedoen kan word om jongmense se belangstelling in landbou te prikkel, het De Kock geantwoord dat opvoeding ‘n belangrike rol speel. “Jongmense het geen verwysingsraamwerk wanneer dit by die voedselketting kom nie. Hulle weet nie waar kos vandaan kom nie. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het saamgestem en gesê dat Agri SA hier ‘n belangrike rol het om te vervul.
Wees versigtig vir neigings
De Kock sê dit is ‘n wanopvatting dat al hoe meer verbruikers veganiste is. “Buigsaamheid is eerder die nuutste kosneiging. Hoewel tot 25% van verbruikers aangedui het dat hulle minder vleis wil eet, het slegs 6% aangedui dat hulle vegetariërs wil word en 4% veganisme oorweeg.”
Verbruikers is wel meer bewus van wat hulle inneem. “Hulle soek oorspronklike, natuurlike, plaaslike en volhoubare kos. Varsproduktemarkte is hoogmode. Baie van hierdie markte in die Kaap het reeds aangedui dat hulle amper weer op dieselfde vlak as voor die inperking, sake doen.”
Kyk uit vir keerpunte
De Kock het verwys na ‘n subway – ‘n gewilde Amerikaanse toebroodjie wat onlangs geherklassifiseer is as ‘n pastei weens die hoë suikerinhoud. Dit gaan ‘n prysstyging van tot 25% tot gevolg hê en verbruikers se keuse dus geweldig beïnvloed.
Gebeurtenisse of tendense is op ‘n 40 tot 60-skaal, waarvan 60 uiteraard die swaarste weeg. Volgens hom is werkloosheid, huiseienaarskap, misdaad en ko-morbiditeite keerpunte in Suid-Afrika waarteen gewaak moet word. Hy het ook verwys na groot tydskriftitels in Suid-Afrika wat hierdie jaar hul deure moes sluit omdat COVID-19 die finale spyker in hul doodskiste was.
COVID-19 bring wel groot skuiwe in die sogenaamde digitale-, noodsaaklike-, nesmaak- en omgee-ekonomieë mee. Mense maak meer op tegnologie vir virtuele vergaderings staat. Hulle koop minder luukshede en werk meer van die huis af. “Gaan mense ooit weer so baie uitgaan soos voorheen, of eerder meer mense oornooi vir ete?” het hy gevra.
“Ons het verbruikers ook gevra hoe belangrik dit is dat maatskappye waarby hulle koop, moet terugploeg in die gemeenskap. Tot 42% het aangedui dat hulle eerder sulke ondernemings sal ondersteun.”
Of verbruikers wel nog geld gaan hê as die inperking in sy geheel opgeweeg word, is ‘n ope vraag, met tot 35% van verbruikers wat moontlik vanaf die middelklas na die laer klas kan skuif weens skuld wat hulle tydens die inperking moes aangaan.