Die Verenigde State van Amerika (VSA) het vroeg vanjaar ’n verbod op reisigers vanaf Suid-Afrika ingestel weens die Suid-Afrikaanse variant van die COVID-19-virus. Suid-Afrikaners se landboukundige arbeid is egter só gesog daar dat Amerika dié verbod gewysig het om diegene met ’n H2A-visum toe te laat. Hierdie visum bied aan tydelike werkers wat landboukundige arbeid verrig tien maande se toegang tot Amerika.
Barry het op ’n plaas in die Lichtenburg-omgewing grootgeword en ná matriek dierkunde en biochemie by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit gestudeer. Dit was egter nie wat hy wou doen nie, en hy het hierna landbou by die Potchefstroom Landboukollege gestudeer.
Droogte lei tot groot besluit
Ná afloop van sy studies het hy grond gehuur en vir sowat drie jaar geboer. Hy het egter paaiemente op trekkers gehad om te betaal, en die fel droogte in 2015 het veroorsaak dat hy hiermee agter geraak het. Barry moes ’n plan maak.
Hy het toe verskeie agente gekontak om vir hom werk op ’n plaas in Amerika te reël. Die agente het twee moontlikhede aan hom gebied: Werk op ’n plaas in Mississippi en ook stroperkontrakteurwerk. Barry het egter by ander Suid-Afrikaners wat reeds daar was, gehoor dat laasgenoemde baie eentonig kan raak en hy het toe die werk in Mississippi aanvaar.
Die land van melk en heuning
Hy sê sonder skroom dat die geld in Amerika beter is. “Veral vir ’n jong outjie wat pas uit die skool gekom het. Hulle verdien tot $3 000 per maand. Die minimumloon was onlangs amper $12 per uur. Dit verander elke jaar en raak net beter.”
In Mississippi was die geld boonop belastingvry. “Die produsent betaal die belasting namens jou. Dit kom nie eens op jou salaristjek nie.”
Hoewel jy tussen R40 000 en R50 000 per maand kan verdien, maan Barry dat die lewenskoste in Amerika baie hoog is. “Jy is daar vir slegs agt maande en kan dus nie jou somme oor ’n twaalfmaandetydperk maak nie. Jy moet ook vir vier maande in Suid-Afrika kan oorleef. Jy kry dit nie altyd reg om elke maand R10 000 huis toe te stuur nie.”
Barry beveel aan dat diegene wat oorgaan sover moontlik op een plek bly, aangesien werkgewers jou ook bonusse gee en later in bestuursposte aanstel.
Hy beskryf Mississippi as ’n lekker plek, met gawe mense en baie om te doen. “Ek het baie vriende in Dakota gehad wat oorgekom het Mississippi toe, omdat hulle baie afgesonder was daar. Mississippi is naby Memphis en Nashville. Ons het boot gery, geski en visgevang en het een jaar selfs afgery na Louisiana en tuna gevang in die Mexikaanse Golf.”
Suid-Afrikaners wat oorgaan na Amerika, moet verblyf kry wat deur die Suid-Afrikaanse ambassade goedgekeur is. Dit moet oor basiese geriewe beskik, soos ordentlike beddegoed, eetgerei, ’n stoof, ketel, mikrogolfoond en televisie. “Jy móét ’n voertuig hê. Baie van die produsente in Amerika gee vir jou ’n werksbakkie en dan ’n ouer, kleiner voertuig vir persoonlike gebruik. Jy kan na enige plek daarmee ry, solank jy jou eie brandstof betaal,” vertel Barry.
Brandstof is goedkoop in Amerika, en ’n Ford F250 kan met tussen $40 en $50 volgemaak word.
DAAR WORD NA PRODUSENTE OMGESIEN
Barry meen produsente is baie gemakliker in Amerika en sukkel nie soos hulle eweknieë in Suid-Afrika nie. “Hoewel die staat hulle nie direk subsidieer nie, is hulle saad, chemie, trekkers en implemente goedkoper. Saadkoste sluit boonop oesversekering in. As jou saad nie opkom nie, betaal hulle jou gemiddelde oes uit of jy kry nuwe saad om te plant.”
Landboudiesel kos die helfte minder as sogenaamde highway-diesel. “Produsente word baie gehelp. Dit is wonderlik om te sien, want hulle is positief.”
Uitdagings
“Mississippi is ontsettend warm,” sê Barry. “Die kwik styg tot 50°C, met 100% humiditeit. In Suid-Afrika mag dit in sekere plekke voel of jy langs ’n vuur staan, maar dáár voel dit of jy in ’n oond is. Jy sweet jou dood. As jy uit jou voertuig klim, wasem jou donkerbril toe.”
Anders as in Suid-Afrika, waar produsente al soggens teen 04:00 of 05:00 die hand aan die ploeg slaan, begin jy daar eers 07:00 werk, vertel Barry. “Hier (in Suid-Afrika) probeer jy so vinnig as moontlik werk. In Amerika word jy per uur betaal. So as jy nie werk nie, word jy nie betaal nie. Die produsente daar maan jou ook om stadiger te werk en take nie af te rammel nie. Jy werk nie noodwendig harder nie, maar jy werk verseker langer ure, want jy word dan meer betaal.”
Hulle het snags tot 23:00 gewerk. Barry moes sy eie kruideniersware koop, kos maak en wasgoed was. “Jy kom eers teen 01:30 in die bed. Ek moes een keer om 02:00 by Wallmart gaan kos koop, want ons het niks in die huis gehad nie. Jy leer daar om jou tyd beter te bestuur.”
Daar is ook baie muskiete en slange, so jy kan nie saans buite braai nie.
In Amerika word meestal sojabone, katoen, mielies en rys verbou. Die plantseisoen in Mississippi is baie kort omdat hulle winterreën kry. “Jy probeer die oeste afkry voor die winter aanbreek, want dan reën dit en jy het nie werk nie.”
Barry sou met die aanbreek van ’n nuwe seisoen op die plaas aankom, plant, stikstof toedien en besproei. “Hulle het baie vloedbesproeiing en spilpunte. Dan moet jy dit oprol en wegsit, begin doodspuit en stroop. As jy gelukkig is, kry jy die lande voorberei voordat jy terugkeer na Suid-Afrika.
“Hulle stelsels is baie anders as hier. Dit is baie meer gemeganiseerd, met min arbeid. Jy het een mens vir elke 1 000 hektaar. Tog is dit maklik omdat hulle groot trekkers met groot implemente het, en dit werk maklik. Hulle mors nie tyd om ’n ding reg te maak nie, maar koop eerder ’n nuwe een. Hier maak ons ratkaste op spilpunte reg. In Amerika gooi hulle dit weg en sit nuwes in.”
Vir Barry was die grootste uitdaging om die verskil in afmetings baas te raak. “In Amerika werk hulle in duime, so jy het twee stelle gereedskap in jou gereedskapkis. Dis elke keer ’n geraai. Daar is ouens wat hulle eie maatbande saamvat, omdat die afmetings nie vir hulle sin maak nie.”
’n Lewensveranderende ervaring
Barry sal so ’n ervaring beslis vir enige jong man aanbeveel. “Dis ’n ervaring wat elkeen moet deurmaak. Dit maak jou oë oop. Daar is ’n groot wêreld daarbuite. Jy hoef nie altyd te sukkel nie.”
Hy beskryf dit as ’n lekker leerskool en as vreeslik opwindend. “Jy ontmoet elke jaar nuwe Suid-Afrikaners wat in Amerika aankom. Die eerste jaar wat ek daar was, het ek maar vyf ander Suid-Afrikaners in my omgewing raakgeloop. Verlede jaar was ons meer as honderd Suid-Afrikaners in Mississippi.”
Tog raai Barry diegene wat wil oorgaan na Amerika aan om vir so lank as moontlik te probeer om nie daarheen te emigreer nie. “Hulle dwing jou na ’n aantal jare om vir burgerskap aansoek te doen, want hulle meen jy probeer belasting ontduik en dan keur hulle jou visumaansoek af. Indien jy emigreer, verloor jy jou voordele rakende verblyf en ’n voertuig, en dan is jou uitgawes nóg meer. Diegene wat wel emigreer, bly selde op plase omdat hulle dan nie soveel geld maak nie.”
Oos wes, tuis bes
Ná vyf jaar in Amerika, is hy terug in Suid-Afrika om te bly en boer hy en sy broer saam buite Lichtenburg. “Ek gaan nou meer verloor as ek weggaan as wat ek bly.”
Barry meen dat die meeste Suid-Afrikaners wat in Amerika op plase gaan werk, wel terugkeer na Suid-Afrika en dus nie vir die plaaslike bedryf verlore gaan nie.
Hy besing die lof van Suid-Afrikaanse produsente. “Hulle is erg oor ons in Amerika omdat ons dinge oppas en omgee vir hulle oeste. Hulle spog as hulle Suid-Afrikaners op hul plase het. Van die beste produsente in die wêreld kom vanaf Suid-Afrika.”
Volgens Barry kan Suid-Afrikaanse produsente enige plek ter wêreld neergesit word en ’n sukses daarvan maak, omdat hulle leer om in die unieke Suid-Afrikaanse toestande en uitdagings te plant en te oorleef. “Daardie groot Amerikaanse manne sal dit nie twee jaar hier hou nie,” sê hy.
