Dié fyn blondekop is die eerste vroulike deelnemer aan NWK se Beginnerboerprojek. Met 100 ha onder mielies, is sy kinderlik opgewonde om te sien wat haar eerste oes gaan oplewer.
’n Terugkeer na haar wortels
Delene het ekonomie en risikobestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus gestudeer voordat sy by NWK se afdeling vir graanbemarking as portefeuljebestuurder gewerk het. Sy is hierna na Louis Dreyfus Company in Sandton, waar sy vir sowat twee en ’n half jaar koring verhandel het.
’n Brasiliaanse maatskappy in Johannesburg het haar toe gewerf, waar sy vir drie jaar ook in graanverhandeling werksaam was. Dié maatskappy het egter tot niet gegaan, en dis tóé dat Delene se pa, Rudi Roode, haar voor ’n keuse stel – óf sy gaan na ’n ander maatskappy óf sy kom Doornhoek toe.
Sy middelste dogter het toe na die plaas teruggekeer. “Ek was lus vir ’n verandering,” verduidelik sy haar besluit.
Aan die diep kant ingegooi
Rudi produseer mielies, soja, sonneblom en aartappels, en het op ’n kleiner skaal met skape geboer. Hy het die skape aan Delene se sorg toevertrou en sedertdien het die kudde al met 400 ooie gegroei. “Veeboerdery is makliker om aan te leer as saaiboerdery. Dit is nie so arbeidsintensief nie en ek kan met net twee mense se hulp regkom,” voeg sy by.
Haar oupa het destyds op Merino’s besluit omdat dié skaapras ’n goeie dubbeldoelras is. “Hoewel ons op die vleis fokus, is die wolkomponent ’n bonus wat help om die koste van medisyne, voer en ander uitgawes te dek.”
Corrie Claasen was verantwoordelik vir die skape op Doornhoek voordat Delene daar begin het. “Hy was my mentor en het my alles van dieregesondheid en dosering geleer.” Hy het egter ses maande later afgetree en Delene is aan die diep kant ingegooi.
Boonop het sy die skaapboerdery tydens ’n droë jaar geërf. Hulle het twee lamseisoene – een in die winter en een in die somer. Toe die ooie daardie somer lam, het Delene talle lammers aan Cryptosporidium – ’n bakterie wat diarree veroorsaak – verloor. “Ek het die helfte van my lammers daardie Desember verloor. Ek wou naderhand weghardloop. Die een dag is hulle nog gesond; die volgende dag wil hulle net nie drink nie. Hulle ontwater vinnig en vrek dan.”

OMSWAAI
Delene het met talle veeartse gesels en baie navorsing gedoen oor hoe om Cryptosporidium te voorkom. Met dié kennis het sy die ingeligte besluit geneem om die lamseisoen op Doornhoek om te swaai. Die meeste lammers word nou in die winter gebore.
Sy het ook van die ouer diere ontslae geraak en ramme by die ooie gesit sodra hulle klaar gespeen het. “Sowat 250 van my ooie het die afgelope Desember gelam. My groot lamseisoen is egter nou in die winter. Jy het baie minder siektes en bakterieë tydens die kouer maande,” vertel sy.
Nadat Corrie afgetree het, het Delene by SA Vleismerino-teelgroepe aangesluit en by Grieta van Rensburg van Sannieshof gaan kers opsteek. “Sy is baie behulpsaam. Skape is nie eenvoudig en gesond nie, en jy moet elke week iets nuuts leer. Jy het ook met meer siektes te kampe as jy intensief boer, pleks van ekstensief. Tannie Grieta se goeie raad het my al baie gehelp.”
’N VERBETERDE BESTUURSTELSEL
Gedurende die afgelope twee jaar is daar klem geplaas op verbeterde stelsels, met die volgende voordele:
- Danksy gefokusde kuddebestuur weet Delene nou presies watter lam aan watter ooi behoort.
- Lam- en speengewigte word noukeurig bygehou.
- Verbeterde lamkampe is gevestig om die lamproses te vergemaklik.

Vroue welkom in dié bedryf
Anders as toe sy graan verhandel het, het manlike produsente haar met ope arms in die boerderybedryf verwelkom. “Ek moes my man in die verhandelingswêreld staan om ’n indruk te maak en moes kompeteer met buitelandse mans, met sterk menings en persoonlikhede. Manlike produsente gee my egter baie komplimente en moedig my aan. Ek voel glad nie geoordeel of onderdruk nie. Hulle wil sien dat meer vroue betrokke raak en ’n sukses hiervan maak.”
Sy voeg met ’n glimlag en rollende oë by dat sy wel ’n seksistiese opmerking moes verduur toe sy vir NWK se Beginnerboerprojek gekies is. “Een ou het vir my gesê dit is seker omdat ek ’n vrou is.”
SY WAAG HAAR HAND AAN SAAIERY
Saaiery is ’n groot komponent van pa Rudi se bedryf. Dit is juis waarom dit vir Delene belangrik is om die bestuur daarvan te verstaan en waarom sy verlede jaar by NWK se Beginnerboerprojek betrokke geraak het. “Die saaiery was vir my baie onbekend, so dit was ’n goeie geleentheid om betrokke te raak en eerstehands te sien hoe dit op kleinskaal werk.”
Rudi het vir haar 100 ha beskikbaar gestel, wat sy by hom huur en waarop sy mielies geplant het. Dit maak haar geweldig trots. “Dit is soos my eie klein onderneming en die risiko is op my,” glimlag sy.
Toekomsdrome
Delene sal graag ’n beter voerkraalopset wil vestig en wil die bestuurstelsel selfs meer verfyn deur behoorlike dataversameling, sodat sy meer presies kan boer. “Ons kan nie noodwendig uitbrei nie weens die beperkte beskikbaarheid van veld, maar ek wil beslis my lampersentasie verbeter,” voeg sy by.
Sy is positief oor die nuwe geleenthede wat landbou bied. Haar raad aan ander vroue wat wil boer, is: “Go for it! Moenie bang wees om foute te maak nie, wees bereid om hard te werk en álles te gee. Jy werk sewe dae per week en dis beslis nie ’n gewone werksdag van nege tot vyf nie. Die gesegde ‘’n Boer maak ’n plan’ kom al vir eeue saam met ons en dit bly elke dag my leuse!”
NWK se Beginnerboerprojek
- Die Beginnerboerprojek is in 2014 van stapel gestuur.
- Dit strek oor ses jaar en het ten doel om nuwe toetreders tot landbou by te staan.
- Die einddoel is om ’n produsent te vestig met genoeg sekuriteit om na ses jaar kommersieel te kan boer.
- Die eerste sewe produsente wat in 2014 by die projek aangesluit het, het dit verlede jaar voltooi en boer nou op eie stoom kommersieel.
OOR DIE EERSTE VROULIKE LID
Arno van Vuuren, bestuurder van Landboubestuursdienste by NWK, sê dat hy kan sien dat Delene van ’n groot span mentors gebruik maak op om hoogte te bly van tendense en die vereistes vir sukses in ’n skaapboerdery. “Sy hanteer tans ’n redelike groot boerdery met groot sukses en sy maak erns met die wetenskap daarvan. Ek dink sy gaan nog ver kom hiermee.”
Hy het bygevoeg dat dit tradisioneel hoofsaaklik plaasseuns is wat die leisels by hul pa’s oorneem. “Daar is by my egter geen twyfel dat ’n vrou dit net so goed kan doen nie.”
