Mielies is een van die gewasse wat die meeste in Suid-Afrika geproduseer word. Die 2019/2020-seisoen het ’n opbrengs van ongeveer 14,6 miljoen ton mielies opgelewer en die nuutste nasionale oesskatting dui op ’n oes van meer as 17 miljoen ton. Daar is verskeie redes vir oesverliese, soos natuurrampe, insekplae, voedingstekorte en die omval van mielies. In hierdie artikel gaan gekyk word na wat die omval van mielies behels en wat die oorsake daarvan is.
Hoofredes vir omval
Navorsing wat in die Verenigde State van Amerika (VSA) gedoen is, dui daarop dat die omval van mielies tot ’n oesverlies van tussen 15% en 20% kan lei. Indien dieselfde oesverliese in Suid-Afrika voorkom, kan die omval van mielies as ’n noemenswaardige probleem beskou word. Mielies wat omgeval het, moet teen koste met die hand opgetel word om groot verliese te voorkom.
Die omval van mielies kan as die permanente verplasing van die stam vanaf sy regop posisie beskryf word. Dit kan beide die omval van die hele plant of slegs die knak van die stam behels. Tydens stamomval word die stam gebreek of gebuig. Omval word gewoonlik veroorsaak deur stormwinde of hael, maar die plant kan ook verswak word deur die skade wat deur siektes, swamme en insekte veroorsaak word.
Dit is gewoonlik nie eweredig versprei nie, maar kom lukraak in kolle of blokke in lande voor. Die omval van mielies en grane kan in twee hoofgroepe verdeel word, naamlik:
- Stamomval, wat verwys na die knakking of breking van die stam tussen die wortels en onder die mieliekop.
- Wortelomval, wat verwys na omval waar versteuring van die wortels die stam laat kantel het.
Die hoofredes vir die omval van mielies is stremmingsfaktore soos blaarsiektes, wortelskade, beperkte wortelontwikkeling, stamboorders, stam- en wortelvrot, uiterste weerstoestande (stormweer) en ’n té hoë plantestand vir die kultivar of grondpotensiaal.
Hierdie stresfaktore lei daartoe dat fotosintese vertraag en dat minder koolhidrate vir graanvulling beskikbaar gestel word. Die mielie sal dan koolhidrate ontrek uit die stam, blare en wortels om vir die ontwikkelende graan te gee, wat dan tot verswakking lei. In ander gevalle, soos uiterste weerstoestande, is die plante net eenvoudig nie sterk genoeg om die kragte wat daarop inwerk, te weerstaan nie.
Faktore
’n Paar faktore wat ’n invloed op plantomval het, is:
OMGEWINGSFAKTORE
WIND
Omgewingsfaktore soos stormwinde en hael kan nie beheer word nie en het moontlik die grootste invloed op die omval van mielies. Onstuimige storms met hoë windsnelhede is grootliks verantwoordelik vir die omval van mielies. Studies het gewys dat ’n windspoed van meer as 57 km/h aanleiding gee tot die omval van mielies. Dit is gewoonlik erger as die grond baie nat is.
SONLIG EN TEMPERATUUR
Daar bestaan ’n kwantitatiewe verhouding tussen sonstraling en mielieomval deurdat die sellulose- en lignieninhoud noemenswaardig daardeur beïnvloed word, wat tot ’n verswakking van die mielieplant se stam lei. Hoë ligintensiteit vertraag die aksie van planthormone soos gibberellien, wat seldeling en -verlenging beïnvloed. Dit veroorsaak dus dat selle verleng eerder as verdeel, wat ’n swakker stam tot gevolg het.
Swak beligting kan ook ’n negatiewe invloed op die ontwikkeling van die stam en internodes hê, wat die gevaar vir omval verhoog. Die heersende temperatuur beïnvloed ook die mielieplant se ontwikkeling en kan sodoende omval beïnvloed. Koue en nat toestande kan tot swamme en bakterieë lei, wat die stam aanval en verswak en sodoende aanleiding gee tot omval.

Foto: Jaco du Preez
AGRONOMIESE PRAKTYKE
Bewerkingsmetodes beïnvloed grondeienskappe, wat dan op sy beurt weer die omval van mielies beïnvloed. Omval is meer algemeen onder sekere bewerkingsmetodes as ander. Verskeie studies toon dat mielies wat onder konvensionele bewerkingstoestande verbou word, meer vatbaar vir omval is as mielies wat onder bewarings- en geenbewerkingsmetodes in Suid-Afrika verbou word.
Wisselbou kan ook die omval van mielies beïnvloed. Opvolgende gewasse kan mekaar ook beïnvloed, aangesien hulle stowwe in die grond kan afskei en ook die grondvrugbaarheid sodanig kan beïnvloed dat plante makliker kan omval. Indien enige siektes voorgekom het wat tot omval gelei het, soos witroes, kan dit weer in die opvolgende seisoen voorkom as wisselbou nie toegepas word nie.
Verskeie insekte en siektes kan die stam, wortels en blare aanval en dit meer geneig maak om om te val. Blaarvernietiging veroorsaak swakker fotosintese, wat tot swakker plante lei. Sommige insekte en swamme val die stam direk aan, soos stamboorders, wat dan die stamkern vernietig, tot die punt waar die plant nie meer homself kan ondersteun nie en omval.
Plantdigtheid speel ook ’n noemenswaardige rol by die omval van mielies. Mielies wat onder hoër digthede geplant is, het ’n sterker neiging tot omval omdat die stamme geneig is om dunner en dus swakker te wees.
PLANTEIENSKAPPE
Die karaktereienskappe van mielieplante wat die geneigdheid van omval bepaal, is:
- stamlengte;
- stamstruktuur; en
- wortelontwikkeling.
Stamlengte: Verskeie studies het geen verskille aangeteken tussen die voorkoms van omval onder dwerg-, semi-dwerg- en gewone kultivars nie. Dit blyk ook dat plante meer vatbaar is vir omval op sekere groeistadiums, wat daarop dui dat die lengte en huidige groeistadium van die plant ’n rol speel. ’n Plant wat dus vroeg lank raak, is meer geneig tot omval as ’n plant wat sy lengte later bereik.
Stamstruktuur: Die onderste internodes is ook ’n belangrike eienskap van die plant, wat die vatbaarheid vir omval bepaal. Aangesien hierdie internodes meestal hol is, word die plant se weerstandigheid teen omval bepaal deur die wanddikte van hierdie onderste gedeelte van die stam. Verskeie studies het ’n sterk korrelasie tussen hierdie twee eienskappe en omval bevestig. Die studies het getoon dat plante met dikker wande in die onderste internodes minder geneig was om om te val. Daar bestaan ook ’n sterk korrelasie tussen die lengte van die internode en die breekbaarheid daarvan. Die sellulose- en lignieninhoud van die stam beïnvloed ook die plant se vatbaarheid vir omval.
Wortelontwikkeling: Die ontwikkeling van die wortelstelsel beïnvloed die plant se vatbaarheid vir omval, aangesien dit die plant in die grond anker. Om omval te verhoed, is dit dus nodig dat die plant ’n sterk en diep wortelstelsel met genoegsame stutwortels moet ontwikkel. Daar bestaan ’n baie sterk korrelasie tussen die vatbaarheid vir omval en die aantal stutwortels wat die plant ontwikkel.
Wanneer ’n mielieplant aan uiterste strestoestande blootgestel word, sal koolhidrate vanaf die stam tydens graanvulling onttrek word. ’n Staking en/of vertraging van fotosintese kan tot ’n tekort aan koolhidrate vir graanvulling lei, wat op sy beurt tot die vroeë afsterwing van die wortels en die stamkern lei en die plant verswak.
Aangesien hierdie fisiologiese proses tydens die sesde groeistadium van mielies plaasvind, wanneer die plant klaar hoog staan, bevorder dit die geneigdheid tot omval. ’n Soortgelyke probleem word veroorsaak as daar nie genoeg voedingstowwe vir die plant beskikbaar is om sterk stutwortels te vorm nie.
GRONDEIENSKAPPE
Grond speel ’n belangrike rol in die omval van mielies, aangesien grondkenmerke ’n direkte invloed op die beskikbaarheid van voedingstowwe, water en wortelontwikkeling in die grond het. Die grondstruktuur gaan ook bepaal hoe sterk die wortels gevestig kan word. In gronde met ’n swak struktuur en wat vatbaar vir erosie is, kan die wortels uitgespoel of uitgewaai word, wat dan omval tot gevolg kan hê.
Die beskikbaarheid van voedingstowwe in die grond het ook ’n groot invloed op omval by mielies. Verskeie studies het bepaal dat die vroegtydige afsterwing van stamme weens ’n kaliumtekort ’n hoofoorsaak van omval kan wees. ’n Stikstoftekort of té hoë stikstofvlakke in die plant kan ook ’n oorsaak van omval wees. Studies het gewys dat ’n té hoë verhouding van stikstof tot kalium in die plant die omval van mielieplante kan veroorsaak.
Samevatting
- Die omval van mielies word al lank waargeneem en erken as ’n noemenswaardige faktor wat tot oesverliese kan lei.
- Omval kan bestuur word deur gereelde landinspeksies te doen en probleemlande vroegtydig te stroop. Die eerste lande wat geïnspekteer moet word, is die lande wat aan die einde van die seisoen droogte ondervind het en lande wat tekens van noordelike blaarskroei toon.
- Omval kan beperk word deur die plantrye parallel met die heersende windrigtings te plant, grondvrugbaarheid te optimaliseer, by die voorgeskrewe toedieningspeile van bemesting te bly en die korrekte agronomiese verbouingspraktyke te volg.
In Suid-Afrika is daar ’n gebrek aan navorsing ten opsigte van omval by mielies. Die veranderende weerpatrone weens aardverwarming veroorsaak dat dit nodig is om die bestaande navorsing op te dateer.
Bronnelys
Barnard N, 2017. My mielies val om: Hoekom? Graan SA. https://www.grainsa.co.za/my-mielies-val-om-hoekom
Brady NC, 1990. The nature and properties of soils, Tenth Edition. Cornell University and United States Agency for International Development. Macmillan Publishing Company, New York. Collier Macmillan Publishers, London
Fertiliser Assosiation of South Africa, 2016. Bemestingshandleiding, agtste hersiene uitgawe. FERTASA, Lynnwoodrif, Suid-Afrika
Galal S, 2021. Maize production in South Africa 2019/2020 by province. https://www.statista.com/statistics/1135488/maize-production-in-south-africa-by-province/
Lang PM, Mallet JB and Berry WA, 1986. The effect of tillage systems on lodging in maize resulting from a severe rainstorm, (In South African Journal of Plant and Soil, 3:4,165-170)
Melis M and Farina MPW, 1984. Potassium effects on stalk strength, premature death and lodging of maize (Zea mays L.). (In South African Journal of Plant and Soil, pp. 122-124)
Pringle G, 2019. Why does maize lodge? Grain SA. https://www.grainsa.co.za/why-does-maize-lodge2
Van der Watt HvH and Van Rooyen TH, 1995. A glossary of soil science. Second Edition. The Soil Science Society of South Africa, Pretoria