Hoë produksiekoste is een van landbou se grootste struikelblokke. Met die jaarlikse verhoging op elektrisiteitstariewe wat nie tred hou met inflasie nie, én die onstabiliteit van kragverskaffing, is volhoubare en alternatiewe oplossings noodsaaklik.
Suid-Afrika sal teen 2050 vier werkende kragvoorsieners soos Eskom benodig om die land se ekonomie van elektrisiteit te voorsien. Met die vraag na elektrisiteit wat gedurig die aanbod oorskry, is dit voor die hand liggend dat die prys van elektrisiteit gaan styg. As gevolg van die druk op die elektrisiteitsnetwerk is dit onvermydelik dat die instel van beurtkrag ’n werklikheid is wat toenemend sal voorkom.
’n Goeie alternatief
Die meeste produsente bedryf ’n besproeiingsbesigheid wat heeltemal van elektrisiteit afhanklik is en waar kragopwekkers nie ’n opsie is nie. Met hierdie verwagting van te min krag en krag wat al duurder word, word produsente gedwing om self iets aan die saak te doen.
Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) het op 1 April 2021 ’n gemiddelde styging van 15,06% vir Eskom se direkte klante goedgekeur. Vanaf 1 Julie 2021 het Eskom se munisipale kliënte ’n gemiddelde verhoging van 17,80% ontvang (Kruger, 2019). Wat is die werklike impak van hierdie tariefstygings op boerderybedrywighede (Tabel 1)? Is ’n boerdery met sulke kostestygings nog lewensvatbaar en winsgewend?
Krag is een van landbou se grootste uitgawes, maar dis ook waar ’n produsent daadwerklik koste kan bespaar. Sonkragstelsels is nie goedkoop nie, maar die langtermyn finansiële voordele weeg baie swaarder as die aanvanklike kapitale uitleg.
Die sonaangedrewe pompe is ontwikkel om die doeltreffendheid van besproeiing te verhoog met die minste nodige energie. Hierdie pompe word al hoe meer vir landboubesproeiing en boorgate gebruik om kragkoste te bespaar. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat sonaangedrewe pompe (solank die son skyn) water teen ’n laer volume lewer en dus langer neem om dieselfde hoeveelheid water as ’n elektriesaangedrewe pomp te lewer.
SENTER SPILPUNTBESPROEIING
Voordele van ’n sonkragstelsel:
- Minimale arbeid.
- Goeie verspreiding van water.
- Krag kan voorsien word deur die nasionale netwerk of op sonkrag – slegs gedurende die dag sonder battery óf dag en nag met lithiumbatterye.
Nadele van ’n sonkragstelsel:
- Medium instandhoudingskoste.
- Medium stelselkoste.
- Besproei slegs in ’n sirkel.
- Hoë energie verbruik (1 kW – 1,5 kW per hektaar vir groot spilpunt (Frost, 2021).
- Lae energie verbruik (0,3 kW – 0,6 kW per hektaar vir klein spilpunte (Frost, 2021).
’n Langtermynbelegging
Sonenergie is ’n medium- tot langtermynbelegging wat ’n energie-produksieleeftyd van 25 jaar plus het. Wanneer ’n belegging in sonkrag oorweeg word, is daar sekere faktore wat in gedagte gehou moet word, naamlik die verwagte kapitale uitleg en die huidige prys van elektrisiteit. Daarby kan daar met sagtewaremodulering ’n redelik akkurate voorspelling gemaak word van die daaglikse kilowattuur-opbrengs van die stelsel oor sy lewensduur (Tabel 2). Dit gee ’n goeie beginpunt om die ekonomiese lewensvatbaarheid van die belegging te beoordeel.
Sedert 2016 is ’n belastingvoordeel toegestaan om die gebruik van sonkrag aan te moedig. Die koste om die stelsel te installeer, beloop R12 000 tot R15 000 per kilowatt, wat alles teen belasting afgeskryf kan word. Volgens die toegewing kan 100% van die koste van die stelsel in die eerste jaar afgeskryf word, wat sowat 28% van die koopprys verteenwoordig. Dit verbeter die rendement op die belegging in ’n sonkragstelsel met ongeveer 38% (Badenhorst en Nieuwoudt, 2017).
’n Goeie sonpaneelwaarborg moet uitgeneem word, voordat só ’n stelsel oorweeg word. Met tyd sal sonpanele se doeltreffendheid egter afneem en sal professionele onderhoud benodig word. ’n Goeie sonkragonderneming sal ’n waarborg van tussen 15 en 25 jaar gee en verseker dat die panele se energieproduksie konstant 85% en hoër bly (SolarReviews, 2020).
Die moontlike kostebesparings moet vooraf bepaal word en hierdie jaarlikse besparings moet teen die aanvanklike kapitale uitleg gemeet word, om te bepaal na hoeveel jaar die sonkragstelsel deur middel van besparings, afbetaal kan word.
Sonkrag
Daar is verskeie maniere om sonkrag aan te wend, naamlik:
Off-grid: As daar besluit word om van die netwerk af te gaan, moet die koste-aspek deeglik ondersoek word. Die kapitale uitleg sal aanvanklik baie hoog wees, maar sodra die kapitaal verhaal is, sal die elektrisiteit amper verniet wees. Gedurende ’n sonskyndag, trek die pomp al sy krag van die sonpanele af en alle oortollige energie word in die batterye gestoor totdat dit vol gelaai is. Saans, of tydens bewolkte dae, trek die pomp dan krag vanaf die energie wat in die batterye gestoor is.
Grid-tied: Indien die roete van elektrisiteitslewering en weer onttrekking gevolg word, is die voordeel dat die prys van elektrisiteit vir die volgende 25 jaar vasgepen word. Eskom-verhogings sal dus geen verdere impak op die tarief hê nie en ’n onmiddellike besparing in energiekoste tot gevolg hê. Toestemming vanaf Eskom is egter hiervoor nodig en kan met koste gepaard gaan.
Die nadeel is dat die rekening jaarliks afgesluit word en enige surplusse verlore sal gaan. Die besigheid bly in hierdie geval steeds afhanklik van Eskom vir kraglewering, dus indien daar beurtkrag is, sit die boerdery ook sonder krag.
Sonkrag verkoop: In die stelsel waar die krag aan Eskom verkoop word, is dit belangrik dat die stelsel sy eie wins moet kan maak. Die sonpanele bestaan uit fotovoltaïese selle, wat gebruik word om sonlig na gelykstroom-elektrisiteit (DC) om te skakel. Hierdie krag word dan deur middel van omskakelaars (inverters) omgesit na wisselstroom-elektrisiteit wat in die Eskom-netwerk gebruik kan word. Op dié manier word daar ’n inkomste geskep.
DOELTREFFENDHEID VAN SONPANELE
Vir sonpanele om hul maksimum doeltreffendheid te bereik, moet die hoeveelheid stof op die panele beperk word. Daarom moet die panele op ’n gereelde basis skoongemaak word. Die hoek waarteen hierdie panele ten opsigte van die son opgestel word, bepaal ook tot ’n groot mate hul doeltreffendheid.
Die stelsel kan of op die grond of op dakke geïnstalleer word.
- Dakstelsels beskik oor die voordeel dat diefstal uitgeskakel word. Die nadeel is egter dat ’n dak se invalshoek dit moeilik maak om rond te beweeg, panele skoon te maak en nie noodwendig ideaal is ten opsigte van die son nie. Verder is dit gewoonlik baie warm op so ’n dak en word die effektiwiteit van die sonpanele benadeel.
- Sonpanele op die grond is blootgestel aan diefstal en baie meer stofbedekking. Die area moet ten alle tye met veiligheidsheinings toegespan wees. Met sonpanele op die grond kan die panele maklik skoongemaak word en kan die hoek van die sonpanele ten opsigte van die son maklik verander word. Verder is dit ook heelwat koeler en sal die effektiwiteit van die sonpanele verbeter (Van Schalkwyk, 2020).
Samevatting
Die hoofmotivering vir die gebruik van sonenergie by besproeiingstelsels is om soveel moontlik energiekoste te besnoei. Die uitgawe om sonaangedrewe pompe te installeer, is aanvanklik groot, maar dit kan eerder as ’n belegging gesien word, aangesien dit op die langtermyn tot groot kostebesparing lei.
Boerdery in Suid-Afrika word deur vele finansiële uitdagings gekonfronteer en daarom begin al hoe meer produsente na alternatiewe kyk om koste te bespaar en die boerdery se voortbestaan te verseker. Sonplase vir volhoubare en goedkoop elektrisiteit is inderdaad ’n werklikheid vir die toekoms.
Bronnelys
Badenhorst F en Nieuwoudt M, 2017. Sonkrag in damme los probleme op. AgriOrbit. Beskikbaar by https://www.agriorbit.com/sonkrag-dam-los-probleme-op/ [5 Julie 2021]
Frost H, 2021. ‘Renewable farming’, Irrigation Water Management congress 2021. Cape Town, 14 Junie 2021
Jansen E.M, 2020. Krag: Hernubare energiebedryf staan reg om te help. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/krag-hernubare-energiebedryf-staan-reg-om-te-help/ [5 Julie 2021]
Kruger C, 2019. Registreer binnekort jou sonkrag-boerdery. https://www.netwerk24.com/landbou/Nuus/registreer-binnekort-jou-sonkragboerdery-20190306 [23 Junie 2021]
SolarReviews, 2020. Solar panel maintenance: Everything you need to know. https://www.solarreviews.com/blog/solar-panel-maintenance-everything-you-need-to-know [20 Julie 2021]
Tariff history, 2019. Eskom-powering your world. https://www.eskom.co.za/CustomerCare/TariffsAndCharges/Pages/Tariff_History.aspx [23 Junie 2021]
Van Schalkwyk N, 2020. Kies die regte sonkragstelsel. SA Graan/SA Grain. https://sagrainmag.co.za/2020/08/03/kies-die-regte-sonkragstelsel/ [10 Junie 2021]