Beplan betyds vir die El Niño-seisoen
Met ‘n sterk El Niño-vooruitsig en ‘n verhoogde risiko vir ondergemiddelde reënval, behoort produsente hul boerderye eerder vir risikobestuur en waterdoeltreffendheid as vir maksimum opbrengspotensiaal te bestuur. Rachel du Preez, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK, deel ‘n paar belangrike aspekte vir die moontlike droë seisoen wat op hande is.
HOE MOET PRODUSENTE PLANTESTAND EN BEMESTING AANPAS?
Plantestand moet volgens die grondtipe, grondpotensiaal en beskikbare grondwater aangepas word. ‘n Relatief normale plantestand kan op hoë potensiaalgronde met ‘n goeie waterhouvermoë gehandhaaf word, terwyl die plantestand op laer potensiaalgronde verlaag behoort te word om kompetisie vir beperkte grondwater te verminder.
Die aanplant van swak tot marginale gronde behoort egter tydens ‘n sterk El Niño-seisoen baie deeglik oorweeg te word. Hierdie gronde beskik dikwels oor ‘n laer waterbergingskapasiteit en beperkte opbrengspotensiaal, wat die risiko van swak opbrengste gedurende tydperke van hitte- en droogtestremming aansienlik verhoog.
Bemesting moet ook volgens ‘n meer konserwatiewe, realistiese langtermynopbrengsmikpunt gedoen word. Stikstof (N) dra die grootste finansiële risiko. Oorweeg dus om die totale N-toediening te verdeel: ‘n Kleiner gedeelte voor of tydens plant en die res as topbemesting wanneer die reënval en gewaspotensiaal duideliker is. Dit laat die produsent toe om N later te verhoog indien die seisoen gunstiger ontwikkel.
Fosfor (P) en kalium (K) moenie drasties gesny word nie. P bly belangrik vir vroeë wortelontwikkeling, terwyl voldoende K belangrik is vir waterregulering en droogteverdraagsaamheid. Besluite moet hoofsaaklik op grondontledings en die langtermynopbrengspotensiaal gebaseer word.
- Droë toestande en onseker reënval: Gebande of ingewerkte stikstoftopbemesting is verkieslik om die risiko van vervlugtiging en oppervlakverliese te beperk en die kunsmis nader
aan die aktiewe wortelsone te plaas. - Goeie grondvog en reën kort ná toediening: Breedwerpige topbemesting kan doeltreffend toegepas word wanneer voldoende reën verwag word om die stikstof in die grondprofiel in te was.
WAT IS DIE LAASTE PLANTDATUMS VIR DIE ONDERSKEIE GEWASSE?
Deur aanplantings oor verskillende tydperke te versprei, voorkom jy dat jou totale oes gelyktydig aan droogte- en hittestres tydens belangrike groeistadiums blootgestel word. Plant egter slegs wanneer voldoende grondvog beskikbaar is en bly binne die aanbevole plantvensters.
- Mielies: 15 November tot 20 Desember
- Sojabone: 15 November tot 15 Desember
- Droëbone: 15 Desember tot 20 Januarie
- Sonneblom: 20 November tot 31 Desember
´N PAAR WENKE OOR ONKRUID- EN PLAAGBEHEER
As dit by onkruidbeheer kom, is die uitgangspunt eenvoudig: Elke millimeter grondwater wat deur onkruid gebruik word, is water wat nie vir die gewas beskikbaar is nie. Produsente moet probeer om met ‘n skoon saadbed te plant en die gewas gedurende die vroeë groeistadiums so onkruidvry as moontlik te hou. Laat beheer van groot, droogtegestremde onkruide moet vermy word, aangesien chemiese beheer onder warm en droë toestande minder doeltreffend kan wees.
Onder die verwagte El Niño-toestande behoort aalwurmbeheer op droëbone ‘n belangrike deel van die produsent se voorplantstrategie te vorm. Die kombinasie van aalwurmskade en droogtestres kan die plant se wateropname ernstig beperk en opbrengsverliese vergroot. Voorkomende bestuur is veral belangrik op sandgronde waar aalwurms reeds in vorige seisoene probleme veroorsaak het.
Wenke vir veeprodusente
Volgens Pieter le Roux, hoof-vee-en-weidingkundige by NWK, is dit belangrik om binne ses weke ‘n skraagdosis toe te dien aan jong diere wat vir die eerste keer voorkomend geënt word om hul weerstand te versterk.
November tot Januarie is ook die tyd wanneer ontwurming strategies gedoen moet word. “Doseer teen die regte parasiet op die regte tyd en doseer slegs diere wat besmet is. Hou rekord daarvan en selekteer teen diere wat chronies besmet raak,” noem hy.
3 VINNIGE WENKE VIR BEESPRODUSENTE
- Hou vol met ‘n winterlek tot genoegsame groen weiding beskikbaar is. Die beste maatstaf is om die mis dop te hou. Sodra die diere se mis oor die algemeen begin los raak, kan daar voluit oorgeskakel word na ‘n somerlek (P6 of P12 om die helfte gemeng met sout).
- In die meeste beeskuddes met ‘n kalfseisoen word die bulle in November/Desember by die koeie geplaas. Maak seker die bulle is getoets vir vrugbaarheid, trichomoniase en vibriose voor die dekseisoen begin.
- Help koeie en veral verse deur goeie voedingsbestuur om teen dektyd op ‘n kondisiepunt van 3,5 uit 5 te wees.
KRY OOIE IN TOPKONDISIE
- Ooie wat nou gepaar word, moet in kondisie toeneem om goed ram te v Dit staan bekend as ‘n positiewe energiebalans. Begin met prikkelvoeding vanaf 14 tot 21 dae voordat die ramme bykom tot 21 dae ná die ramme bygesit is.
- Koggel die ooie net vir nege dae en sit dan die ramme by. Koggelramme werk baie goed hierdie tyd van die jaar om die ooie bronstig te kry, maar 14 dae is te lank, want dan sal die vrugbaarste ooie reeds verby bronstigheid wees.
- Ooie wat binne die volgende ses weke gaan lam, moet teen bloednier, Pasteurella, blou-uier, rooiderm en bloedderm (indien dit in die omgewing voorkom) geënt word. Maak seker dat hierdie ooie nie kondisie verloor nie, veral die meerling- en tweetandooie.
Nuus uit die AgTech-ruimte
Suné Dreyer is as ‘n verkoopsverteenwoordiger aangestel by AgTech@NWK se landboukundige hommeltuigdienste (ADS). Haarbelangstelling in landbou kom van kleintyd af, terwyl haar nuuskierigheid oor hommeltuie twee jaar gelede in Amerika geprikkel is.
Sy het in 2024 deur die H-2A visaprogram op ‘n plaas naby Marion, ‘n dorpie in Arkansas, gaan werk. Die produsent se hoofgewas wasrys, maar hy het ook mielies en sojabone geplant. Hommeltuie is hoofsaaklik vir die rys gebruik om dit gereed vir stroop te kry.
Wat is volgens jou die grootste voordeel van ‘n hommeltuig op ‘n plaas?
Ek dink die grootste voordeel is dat die hommeltuie in plekkies kan kom waar geen ander implement of trekker kan kom nie. Dit help om jou gewasse te teiken waar die uitleg te moeilik is vir ander implemente om dit te bereik. Hommeltuie help om beter presiese resultate ná jou oes te kry.
Wat is jou stokperdjies?
Ek geniet dit om in die middae te gaan stap en ook ‘n bietjie met ‘n off-road tweewiel te ry wanneer ek die kans kry. Dan is ek ‘n groot diereliefhebber, so ek probeer myself in my vrye tyd met diere omring, en ek geniet dit om kreatief te wees.
As veekundige deel Dawid van Heerden, veekundige by Agtech@NWK, nie net raad uit aan veeprodusente nie, maar pas dit ook in sy eie boerdery toe. Maak seker jy lees albei sy artikels in dié uitgawe:
- Dawid se eerste artikel verskyn op bladsy 24 en handel oor die belangrikheid van bulseleksie. In vergelyking met ‘n swak koei wat dalk een swak kalf in ‘n kalfseisoen kan lewer, kan ‘n swak bul 30 swak kalwers gee.
- In die tydskrif skryf hy oor die voordele van kunsmatige inseminasie (KI) tydens die dekseisoen. Dawid is baie trots op sy kalwers wat uit KI geteel is. Dié saad is twee jaar gelede vanaf Australië ingevoer.







