In 2019 het NWK ’n skenking van tien naaldwerkmasjiene aan die Vroue Landbou-Unie (VLU) se Delareyville-tak gemaak. Dié tak se Laslapprojek, wat gebore is na afloop van ’n VLU-geleentheid met gemeenskapsontwikkeling as tema in 2015, gaan steeds van krag tot krag.
Tillie Dupper, voorsitter van die Delareyville-tak, is die “moeder” van die projek. Sy het die inisiatief geneem en aanvanklik lede van die tak se huishulpe na die eerste byeenkoms genooi. Nou leer die lede vroue van die Atamelang-gemeenskap om naaldwerk te doen sodat hulle met dié vaardigheid ’n ekstra inkomste kan verdien.

Die span by NWK se Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie-afdeling het onlangs weer by die projek gaan inloer. Hulle het die vroue verras met ’n skenking van stoomstrykysters, strykplanke, watteersel, ongebleikte linne, aanstryk-vilene, verlengkoorde en multiproppe. NWK was weereens aangenaam verras met die vroue se kreatiwiteit.
Kunswerke in eie reg
Die baba het beslis intussen sy kinderskoene ontgroei en gegroei tot ’n selfstandige peuter wat besig is om verskeie vaardighede te bemeester. Die aantal leerlinge het gegroei van agt tot 24 vroue, maar ongelukkig moes die meeste van die leerlinge met die hand naaldwerk doen. Vanjaar is die aantal vroue verminder na slegs tien leerlinge sodat elkeen ’n naaldwerkmasjien tot haar beskikking het gedurende die klasse.
Afvalmateriaal word van heinde en ver aan die tak gestuur. Hierdie lap word dan omtower in die mooiste kunswerke. Selfs manshemde is al vir sommige van hul projekte ingespan! Buiten vir watteersel wat aangekoop word, word slegs afvalmateriaal gebruik. Die dames maak onder meer pragtige vatlappe, tafellopers, drasakke, matte, kwilte en dekens.

Klasse word een keer ’n maand op die plaas Duikerbos, in die Geysdorp-omgewing, aangebied. Tillie se drie staatmaker-regterhande – Trudie van der Merwe, René van Rensburg en Elsebé Ollewagen (almal lede van Delareyville VLU) – staan haar altyd by.
Trudie speel ’n ondersteunende rol en het haar vriendin in Pretoria oor die projek ingelig, en sy stuur nou gereeld afvallappe. René en Tillie is verantwoordelik vir die vooraf sny van die korrekte grootte lappies vir spesifieke projekte, en sit ook hand by met die opleiding van die leerlinge tydens klasse. Een kwilt bestaan uit 225 laslappies! Elsebé help met die bedien van eet- en drinkgoed. Daar word beurte gemaak om verversings vir die leerlinge te neem.

René van Rensburg, Elsebé Ollewagen en Trudie van der Merwe weet hoe ’n groot verskil dié nuwe
toerusting gaan maak.