Op Oppaslaagte was Anneri Otto die “boer se vrou”, maar sy moes ná haar man se dood haar rol vinnig aanpas na dié van ’n vroueboer. Intussen het sy haar merk in dié bedryf gemaak. “Daardie vrou sal enige man onder die tafel in boer,” merk iemand op toe daar oor Anneri uitgevra word.
Anneri Otto bedryf die Mooifontein Hereford-stoet, asook die Hot Angus-stoet, op die plaas Oppaslaagte naby Coligny. Sy sien haarself egter nie as ’n beesboer nie. “Ek is ’n goeie beesversorger,” antwoord sy beskeie oor waarom sy welslae met dié stoeterye behaal. Sy het onlangs ook begin met die produksie van pekanneute.
Voltydse ma en produsent
Sy is oorspronklik van Centurion in Pretoria en is in 1999 met Derik Otto getroud. Hy het alreeds in 1995 met Hereford-beeste begin boer en ná sy universiteitsopleiding droëbone en mielies saam met sy pa, Hardus Otto, verbou. Derik is egter in 2003 oorlede – dieselfde jaar waarin hy met Herefords wou begin skou.
“Derik het juis op Herefords besluit omdat soveel ander produsente in die omgewing reeds Bonsmaras, Brahmane en Simmentalers gehad het. Hy het geweet hulle het goeie vleis- en moedereienskappe en is rustige diere wat jy maklik kan hanteer,” verduidelik sy.
Anneri was skielik ’n alleenouer van twee klein seuntjies en aan die diep kant ingegooi met die boerdery. Oor haar besluit om die boerderybedrywighede oor te neem, sê sy: “Ek is baie sentimenteel en wou nie hê dat al sy harde werk verlore moes gaan nie.” Sy het egter afgesien van die saaiboerdery omdat sy nie trekkers of implemente gehad het nie. Vandag verhuur sy sowat 450 hektaar grond aan naburige produsente, waarop mielies, droëbone en sonneblom geproduseer word.

“Dit was ingewikkeld,” vertel sy van die begin toe sy haar hand aan boerdery gewaag het. Hoewel sy dikwels vir Derik bygestaan het as hy die Hereford-beeste versorg het, het sy maar min van dié beesras geweet en aanvanklik dikwels by Erich Schulenburg en Piet Rossouw vir raad aangeklop. “Ek is lief vir lees en het baie gegoogle en opgelees.” Sy het ook verskeie boeredae en demonstrasies bygewoon om haar kennis te verbreed.
Die Herefords was aanvanklik op die plaas Syferpan, maar is later na Oppaslaagte verskuif. Hier het hulle skielik siek geword met rooiwater. “Dit is vleiland hierdie,” verduidelik Anneri. Sy sou vinnig leer dat sy dadelik van bosluise, wat die draers van talle siektes is, moes ontslae raak.
Spesiaal vir hierdie omgewing geteel
Daar is meer Hereford-kuddes in KwaZulu-Natal en in die Kaap as in die Coligny-omgewing. Anneri sê baie produsente meen dat dié beesras nie aangepas is vir hierdie robuuste omgewing nie, omdat dit oorspronklik ’n Britse ras is en wit oë het. Suid-Afrikaanse kuddes het ’n donker pigment rondom die oë, wat beter beskerming teen die son se fel ultravioletstrale bied.
Anneri teel haar Herefords egter met lang wimpers wat afwaarts wys – ’n eienskap wat hulle oë voldoende teen fel sonlig en stof beskerm. “Die lang wimpers hou insekte uit hulle oë. Veral muggies en vlieë is volop in die vleiland. Dit hou ook sade uit hulle oë wanneer hulle in lang gras wei.” Sy teel hulle boonop met sterk oogbanke, wat ’n skadu oor die oë gooi en bykomende beskerming aan die oë bied.
“Dis ’n wanopvatting dat net Herefords seer oë kry. Dit hang baie af van die plaas waarop jy hulle aanhou. Angus-beeste sukkel ook met dieselfde probleem,” meen sy.
Sy het ’n kursus in kunsmatige inseminasie voltooi en kombineer dit vandag met natuurlike dekking om haar kuddes uit te brei. “Daar is niks so donker soos die binnekant van ’n bees nie,” lag sy.
Hardus het met Angus-beeste geboer en Anneri het later ook hierdie beesras by hom oorgeneem. Sy verkies egter ’n Hereford se rustiger temperament. “Wanneer jy die diere moet behandel, kry jy gouer klaar met ’n Hereford. ’n Angus wil altyd eers gaan lê of bo-op die ander klim!”
Dekking vind só plaas dat albei rasse gelyktydig kalf, omdat dit die doserings en die behandeling van siektetoestande vergemaklik.
Sy het byvoorbeeld in 2016 met Cryptosporidium begin sukkel, maar behandel dit vandag suksesvol met Halocur. Anneri handhaaf ’n interkalfperiode van 392 dae op die Herefords, met ’n gemiddelde speenkalfgewig van 210 kg. Die Angus-beeste se interkalfperiode is 401 dae, met ’n gemiddelde speenkalfgewig van 205 kg.
Die diere wei in 14 kampe op natuurlike weiding en in ’n bykomende vier kampe waarin tef of Smutsvingergras aangeplant is. Sy laat ook die beeste op die oesreste wei. In die somer ontvang hulle ’n fosfaatlek. Die diere kry ook ’n winterlek en vitamien A, D en E en Multimin. Die veldtoestande word visueel geëvalueer, waarna Anneri die diere na ’n volgende kamp skuif om die vorige een die kans te gun om te herstel.

Behandel simptomaties, maar ook proaktief
Anneri weet nou al watter siektes in watter kampe voorkom. Daarom is sy selektief met doserings en beplan sy dit volgens hulle weidings en die tyd van die jaar. Sy hou die beeste teen Maart en April fyn dop vir moontlike besmettings deur peervormige slakke en lewerslakke, wat dan gewoonlik in die vleie voorkom, en doseer hulle hierteen indien nodig.
Hulle word ook teen brusellose, spons- en miltsiekte, lamsiekte, knopvelsiekte en Slenkdalkoors ingeënt. Brusellose, oftewel besmetlike misgeboorte (BM), is in Maart vanjaar by 24 van Anneri se koeie gediagnoseer en sy het dadelik van hulle ontslae geraak. Sy krap nou nog kop oor die oorsprong van hierdie besmetting. Die staatsveeartse het verlede jaar weens die inperking nie by haar vir BM kom toets nie.
Haar verse word vanaf die ouderdom van vier maande met RB51 hierteen ingespuit en kry drie weke later ’n opvolginspuiting. Hulle word wéér hierteen gespuit in die jaar voordat die bulle by hulle gesit word.
“Ek weet nie of die Cryptosporidium moontlik ’n invloed op hulle immuniteit gehad het nie. Ek het ook onlangs geweldig met jakkalse gesukkel en kan nie die moontlikheid uitsluit dat hulle dalk met BM op ’n ander plaas in aanraking was nie.
“Dit is ’n baie skelm siekte. Jy weet nie wat in ander produsente se kuddes aangaan nie. Brusellose-sertifikate is boonop nie ’n vereiste by gewone veilings nie, maar slegs by stoetveilings,” verduidelik sy.
Anneri hou nie produksieveilings nie. Haar grootste afsetpunt vir die Hereford-kudde is Vryburg en sy verkoop die meeste van haar bulle by die stoetveeveiling hier. Die Angus-beeste word meestal in die Potchefstroom-omgewing bemark.
Sy het nie genoeg grond om haar kuddes noemenswaardig uit te brei nie. “Ek soek net funksionele beeste wat hul kalwers goed grootmaak.”
Pekanneute het talle groeipyne
Hardus was in 1988 een van die eerste produsente in die Coligny-omgewing om pekanneutbome te plant – op sowat 15 hektaar op Syferpan en 16 hektaar op Oppaslaagte. “Daardie tyd was daar maar min inligting oor pekanneute se verbouing in dié omgewing beskikbaar,” sê Anneri.
Haar skoonpa het net een sproeierkop per boom laat insit en elkeen bemes met slegs ’n “graafvol kunsmis wat oorgebly het ná die mielies geplant is”. “Tog het hy per hektaar meer gemaak met pekanneute as met die mielies,” vertel sy.
Anneri het intussen drie bykomende besproeiingspuite om elke boom laat aanbring. “Dáár waar die boom water kry, konsentreer die wortels. As daar net een sproeier is wat op ’n bepaalde plek spuit, sal die wortels hoofsaaklik in daardie rigting groei,” verduidelik sy.
Die boord is in tien blokke verdeel, wat elk 240 liter water per uur, vir vier ure lank, drie keer elke twee weke, ontvang.
Hardus het ook nie die bome soos nou aanbeveel word, laat snoei nie. “As dit nie van jongs af reg gedoen word nie, kry jy ’n sogenaamde hoenderklou waar die takke onderaan die boom gesentreer is. Die gewig van die neute aan hierdie takke laat dit later afskeur en dit ly tot groot verliese,” verduidelik sy.
Sy moes in elk geval ’n groot aantal van hierdie onderste takke laat afsaag omdat dit meganiese arbeid bemoeilik het. Daar kon nie met ’n trekker tussendeur die bome gery word nie. Anneri het ook ’n boomskudder aangeskaf om die neute vinniger te oes. Daar word tans sowat 1,3 t/ha geoes, maar sy sal dit graag na sowat 1,5 t/ha wil verhoog.
Die span landboukundiges van NWK Landboubestuursdienste ondersteun vir Anneri in verskeie aspekte van die pekanneutboerdery.
Die werklike vermoë van die grond om water vas te hou, is by wyse van kernmonsters bepaal sodat dit meer akkuraat besproei kan word. Die werklike hoeveelheid water wat die grond kort om weer tot by die veldwaterkapasiteit gebring te word, word nou toegedien.
Dit voorkom oorbesproeiing, wat onnodige koste veroorsaak en plantvoedingstowwe wegloog, en onderbesproeiing, wat tot droogtestres lei. Die bemesting word ook op presisiemonsterneming geskoei. Die stikstofinhoud van die grond gaan ook hierdie seisoen gemeet word, want Anneri glo “om te meet is, om te weet”.

Kennis is mag
Anneri sê dat hoe langer sy boer, hoe meer respek kry sy vir ander produsente. “Jy moet geweldig baie kennis hê om suksesvol te wees. Gewasse verskil, diere verskil, alles moet bestuur word en die administrasie is baie. Dit wat jy verlede jaar nie geweet het nie, kan hierdie jaar ’n groot verskil maak!”
Sy gaan voort: “Alles kos geld, baie geld! Wind, weer, hael en droogtes verwoes sommer vinnig alles, al het jy alles reg gedoen. Om ’n plaas te kan hê en te boer, is ’n groot voorreg, maar dit is nóg ’n groter voorreg as alles ten volle betaal is en jy net die werk kan doen. Selfs dán kan dinge egter steeds skeefloop!”
Anneri wonder dikwels wat Derik sou gesê het as hy haar vandag kon sien boer. “Ek weet daar is baie dinge wat ek verkeerd gedoen het, maar ook baie dinge wat ek reg gedoen het. Ek het darem nie niks gedoen nie!”