Blaarsiektes kan die graanopbrengs verlaag en ’n negatiewe invloed op die winsgewendheid van ’n gewas hê. Dit is dus baie belangrik vir produsente om bewus te wees van watter tipes blaarsiektes onder watter omstandighede op mielies kan voorkom en hoe om dit te beheer.
Omgewingstoestande soos sonskyn, reënval, humiditeit en hoë temperature, wat veral die afgelope tyd voorgekom het, het ’n groot uitwerking op gewasproduksie. Dit skep ongelukkig ook gunstige toestande vir die ontwikkeling van siektes by graangewasse.
Oorsake van die ontwikkeling van siektes
Matige temperature van tussen 16°C en 25°C en ’n hoë relatiewe humiditeit (>95%) vir uitgerekte tydperke skep gunstige omstandighede vir die ontwikkeling van swamme wat met blaarsiektes geassosieer word. In die siektedriehoek (Figuur 1) word die feit dat siektes slegs waargeneem word indien die volgende drie faktore gelyktydig voorkom, duidelik geïllustreer:
- ’n Vatbare gasheerplant.
- Die patogeen.
- Gunstige omgewingstoestande.
Hierdie faktore sal dus die intensiteit en tydsduur van die epidemie bepaal.

Blaarsiektes
Van die algemeenste blaarsiektes wat op mielies voorkom, is grysblaarvlek, noordelike mielieblaarskroei, bruinroes, bakteriese blaarstreep en oogvlek. Dit is belangrik om die siekte reg te identifiseer sodat toepaslike chemiese bespuitings gedoen kan word om dit te beheer. Dit kan voorkom dat onnodige bespuitings met swamdoders toegedien word op siektes wat deur bakterieë en virusse veroorsaak word.
Dit is belangrik om die siekte betyds te identifiseer voordat dit opbrengsverliese veroorsaak. Indien enige simptome wel opgemerk word, sal dit goed wees om jou NWK-landboukundige of saad- en landbouchemikalieë-verteenwoordigers te kontak.
GRYSBLAARVLEK
Grysblaarvlek word deur die swam Cercospora zeina veroorsaak en is ’n ernstige mieliesiekte
(Foto 1). Die siekte se simptome word eerste op die oudste/onderste blare waargeneem en die aanvanklike klein vlekkies is met ’n geel ring omring. Ouer letsels verander van ligbruin na grys soos wat hulle volwasse word. Volwasse letsels is kenmerkend reghoekig en die letsels neem toe namate die epidemie uitbrei, totdat die hele blaar vol letsels is en doodgaan.

Foto: Martiens du Plessis
Die swam kan op mieliereste oorleef, maar matige tot hoë temperature en vogtige toestande (>95% humiditeit) kan die infeksie en siekteverspreiding bevorder. Indien gunstige toestande vir die swam voorkom, kan dit een van die mees verwoestende blaarsiektes by mielies wees. Oesverliese kan toegeskryf word aan die verlaging in fotosinterende blaaroppervlak, wat ’n nadelige uitwerking op graanvul het.
NOORDELIKE MIELIEBLAARSKROEI
Hierdie blaarsiekte word deur die swam Exserohilum turcicum veroorsaak en staan ook as witroes (Foto 2) bekend. Die simptome word ook eerste op die oudste of onderste blare waargeneem, waar die letsels as klein watervlekke sigbaar is. Dit versprei dan na die boonste blare, waar die letsels verleng en die kenmerkende ovaalvormige ligbruin tot wit letsels vorm.

Volwasse letsels vertoon wit en swart in die middel, waar die nuwe spore geproduseer word. In die laaste stadiums van die siekte smelt die letsels saam en sterf die ouer blare af.
Die swam oorleef ook op blaarreste van die vorige seisoen, waar dit nuwe konidia (spore) produseer en versprei na die onderste blare van jong mielieplante. Noordelike blaarskroei word bevorder deur matige temperature van tussen 18°C en 27°C, en waar blare vir lang tydperke nat bly. Oesverliese van tot 70% is al waargeneem waar epidemiese vlakke bereik is, maar dit is gewoonlik tussen 15% en 30%. Die oesverlies is weens die verlaagde fotosinterende blaaroppervlak, wat verantwoordelik is vir graanvul.
BRUINROES
Van die blaarsiektes wat op mielies voorkom, word bruinroes (Foto 3) normaalweg eerste waargeneem. Vroeë letsels is klein, wit, sirkelvormige vlekkies op die blare. Volwasse letsels vorm op beide oppervlaktes van die blare as klein poeieragtige puisies. Die swam wat deur die oppervlak van die blaar bars en poeieragtige urediniospore vrystel, is die rede vir die bruinrooi langwerpige puisies wat in die vroeë stadiums van besmetting op die blare sigbaar is.

Die geproduseerde spore sal sigbaar wees op wit klere wanneer ’n persoon deur ’n besmette land beweeg. Matige temperature van tussen 16°C en 25°C, asook hoë humiditeit (>95%), vir lang tydperke sal die ontwikkeling en verspreiding van roes bevorder. Bruinroes word deur die swam Puccinia sorghi veroorsaak en is ’n algemene tipe roes wat in Suid-Afrika voorkom.
BAKTERIESE BLAARSTREEP
Bakteriese blaarstreep word deur die bakterie Xanthomonas campestris pv. zeae veroorsaak en is ’n algemene siekte wat in die westelike produksiegebied voorkom (Foto 4).

Foto: Martiens du Plessis
Dit word hoofsaaklik tydens die blomstadium waargeneem, maar kan ook in ander groeistadiums voorkom. Bakteriese blaarstreep begin aanvanklik as donkergroen strepe in die middel van die blaar, en vergroot dan om geel sowel as deurskynende strepe oor die hele blaar te vorm. Dié strepe is parallel met die blaar se are en kan in gevorderde stadiums versprei en aaneenvloei om onreëlmatige, lang kolle of strepe te vorm, wat bruin tot gryswit van kleur is en met ’n geel rand omring is.
Swamdoders kan nie gebruik word om dié siekte te beheer nie. Dit is dus baie belangrik om dit reg te identifiseer vir doeltreffende beheer.
OOGVLEK
Oogvlek word deur die swam Aureobasidium zeae veroorsaak (Foto 5) en verskyn aanvanklik as klein, ronde vlekke op die blaar. Namate die letsels ouer raak, verkleur die deurskynende middelpunte tot ’n ligbruin/roomkleurige kleur, en dit word omring deur ’n persbruin ring en ’n geel chlorotiese buiterand. Dit verskyn as kolle op die blaar en mag soms groot dele van die blaar bedek. Soos die meeste ander swamsiektes, is plantreste die primêre bron van die infeksie.

Bron: https://www.pannar.com/products/detail/geelmielies1
Bestuursriglyne
Volgens dr Rikus Kloppers van Corteva Agriscience™ is die algemene riglyne vir die bestuur van mielieblaarsiektes om risiko’s te verminder die volgende:
- Plant weerstandbiedende basters.
- Moenie net op een baster met ’n hoë opbrengspotensiaal konsentreer nie. Plant eerder ’n mieliepakket.
- Gebruik wisselbou en bewerkings wat die siektedruk verlaag.
- Bewaringspraktyke kan blaarsiektes soos grysblaarvlek en noordelike mielieblaarskroei se oorlewing bevorder, aangesien die swamme hoofsaaklik in mielieplantreste oorleef. Dit is dus noodsaaklik dat siektebeheer in dié bewerkingstelsels in ag geneem word om die voordele daarvan te kan geniet.
- Gebruik ’n goeie swamdoderspuitprogram met geregistreerde swamdoders om swamsiektes doeltreffend te beheer.
- Die ekonomiese regverdigbaarheid, faktore soos die mielieprys, siektevatbaarheid van die baster, opbrengspotensiaal en die risiko van die siekte in die gebied is baie belangrik. Dit is belangrik om te onthou dat die primêre doel van swamdoderbespuitings siektebeheer is. Daarom moet daar nie onoordeelkundig gespuit word nie.
- ’n Geïntegreerde beheerstrategie van bogenoemde riglyne is die beste benadering om risiko’s te bestuur.
Samevatting
Die baie reën wat die afgelope tyd oor groot dele van die land voorgekom het, is ideaal om gunstige toestande vir die ontwikkeling van swamsiektes op mielieplante te skep. Dit is dus baie belangrik dat produsente gereeld deur hul lande sal beweeg om enige blaarsiektes betyds waar te neem en ook om die regte stappe te volg om siektes te beheer en groot graanopbrengsverliese te voorkom.
Bronnelys
- Bayer, 2021. Foliar diseases on maize. https://www.cropscience.bayer.africa/za/en-za/resources/articles/foliar-diseases-on-maize.html [13 Januarie 2022]
- Graan SA, 2021. Blaarsiektes: Wat hou die nuwe seisoen in? https://sagrainmag.co.za/2021/11/05/blaarsiektes-wat-hou-die-nuwe-seisoen-in/ [13 Januarie 2022]
- Pannar Feiteblad Weergawe 1, 2009. https://www.pannar.com/products/detail/geelmielies1 [14 Januarie 2022]
- Pioneer, 2021. Blaarsiektes op mielies… benut die optimale waarde van swamdoder-beskermingspotensiaal op mielies. https://www.pioneer.com/za/blog/blog-articles/blaarsiektes-op-mielies.html [14 Januarie 2022]