Katoen is in die verlede plaaslik op ’n groot skaal onder besproeiing en tot ’n kleiner mate onder droëlandtoestande geproduseer. Met klimaatsverandering en sosio-ekonomiese uitdagings, het die produksie onder besproeiing geweldig afgeneem en het die fokus na droëland-produksie begin skuif.
Die potensiaal van katoen om onder droëlandproduksie geproduseer te word, met die doel van wisselbou, word bevraagteken weens dié gewas se oënskynlike hoë grondvogverbruik. In hierdie artikel word die fokus op die potensiaal van die gewas en sy grondvogonttrekking geplaas deur spesifiek te fokus op die verhouding tussen grondtipes en grondvog, en die uitwerking wat dit op droëlandkatoenproduksie in die Schweizer-Reneke-distrik het. As gevolg van die omvang van die volledige studie, sal daar in hierdie artikel slegs na een land in een produksieseisoen verwys word.
Katoenproduksie het die afgelope dekade drasties begin afneem in Suid-Afrika. Dit word hoofsaaklik aan ’n reeks faktore, onder meer hoë insetkoste, onsekerheid oor die aanpassing van die gewas in die omgewing, winsmarge, die wisselkoers en ’n tekort aan tegniese kennis, toegeskryf.
Tabel 1 toon die katoenproduksie van die afgelope drie produksieseisoene. Dit is duidelik dat die totale produksie merkwaardig afgeneem het en dat daar hoofsaaklik op droëlandproduksie gefokus word.
Volgens Katoen SA (2021) is 27 850 hektaar katoen tydens die 2019/2020-produksieseisoen geproduseer, waarvan 16 275 hektaar onder droëlandtoestande geproduseer is. Suid-Afrika se tweede grootste droëlandkatoenprodusent is in Noordwes, met ongeveer 5 000 hektaar wat jaarliks geplant word. Hierdie studie is op dié plaas uitgevoer.
Oorsig oor die studie
Die potensiaal van droëlandkatoen in terme van grondtipes en die geassosieerde grondvog is in ’n studie onder die vergrootglas geplaas. Die studie is oor twee produksieseisoene – 2019/2020 en 2020/2021– onderneem. In elkeen van dié seisoene is die vier dominante grondtipes en drie herhalings van elkeen van die grondtipes geïdentifiseer.

Die grondvog is maandeliks regdeur die groeiseisoen met ’n neutronvogmeter bepaal. Teen die einde van die seisoen is veselmonsters by elk van die metingspunte geneem om die gehalte van die katoen te bepaal. Die opbrengs is vanaf die stroper se datastel na die metingspunte geëkstrapoleer.
PRODUKSIEPRAKTYKE
Op die spesifieke plaas word katoen jaarliks in ’n geenbewerkingstelsel (no-till) geproduseer as deel van die wisselbousiklus. In die siklus word katoen in die jaar ná mielies aangeplant, waarna die lande vir een seisoen oorlê en dan weer met mielies aangeplant word. Die mieliereste word op die lande agtergelaat om die grondvog vir die komende seisoen te bewaar (Foto 1). Die katoenkultivar was DP 1541, met ’n plantestand van 45 000 plante per hektaar.
GRONDBESKRYWINGS
Die dominante grondtipes is die Bainsvlei-, Bloemdal-, Sepane- en Westleigh-vorm. Tabel 2 illustreer die tekstuur van die onderskeie grondtipes. Dit is duidelik dat die tekstuur van die Bainsvlei- en Bloemdal-vorms albei sand-klei-leem is, terwyl Sepane en Westleigh ’n sanderige kleitekstuur het.
Die sanderige kleigronde hou uiteraard meer grondwater as sand-klei-leemgronde, maar dit is nie noodwendig meer plantbeskikbaar nie. Die algemene tekstuur is kenmerkend van dié gronde en kom algemeen in NWK se produksiegebied voor.
GRONDVOG
Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat die grondtipes met die hoogste klei-inhoud (Westleigh en Sepane) deurentyd die meeste grondwater in die profiel gehad het vir bykans die hele seisoen. Die algemene tendens was dat die grootste onttrekking van grondvog plaasgevind het vanaf die bolvormingstadium tot by bolbars (middel Februarie 2021 tot middel April 2021).
In die tydperk vanaf April 2021 is die wintermaande ingegaan en verliese in grondwater is beperk weens lae temperature en bykans geen wateropname deur die katoen nie. As die geheelbeeld in ag geneem word, is dit duidelik dat die katoen in werklikheid nie so baie grondwater onttrek het nie en dat dit tog kan meeding met tradisionele gewasse soos mielies en koring.

KATOENVESELOPBRENGS EN GEHALTE
Tabel 3 illustreer die opbrengs in katoenvesel in die spesifieke land met die kultivar DP 1541. Dit is duidelik dat die opbrengs hoër as Suid-Afrika se droëlandgemiddeld van 1 500 kg/ha is. Die sanderige kleigrondtipes, naamlik Westleigh en Sepane, het ’n hoër opbrengs gelewer in vergelyking met die sand-klei-leemgrondtipes, Bainsvlei en Bloemdal.
Wat merkwaardig is, is dat die sanderige kleigronde se grondwaterinhoud deur die seisoen hoër as dié van die sand-klei-leemgronde was. Alhoewel die opbrengs hoër was op die sanderige kleigrondtipes, is dit nie statisties verskillend van die sand-klei-leemgronde nie.
Tabel 4 toon die verskille in die gehalte van die vesel geproduseer op die verskillende grondtipes. Dit is duidelik dat die vesel geproduseer op die Bloemdal-grondtipe van die beste gehalte is en dat die pryspremie hoër is vir die vesel. Dit is merkwaardig aangesien die Bloemdal-grondtipe ’n relatief laer grondwaterinhoud gehad het in vergelyking met die ander grondtipes, veral deur die sensitiewe groeistadiums van die katoen.
Katoen se waarde
Wanneer bogenoemde inligting oorweeg word, is dit duidelik dat daar wel goeie waarde in die produksie van katoen onder droëland is. Tabel 5 illustreer die randwaarde van die katoen, gebaseer op die verskillende grondtipes en die geassosieerde veselopbrengs en gehaltefaktor. Dit is duidelik dat die opbrengs die bepalende faktor bly in die totale winsgewendheid van katoenproduksie.
Die gemiddelde insetkoste per hektaar droëlandkatoen het van R11 500 tot R13 500 gewissel. Die insetkoste verbonde aan katoenproduksie is hoog, maar indien die risiko’s beperk is, kan dit ’n goeie ekonomiese opsie in enige wisselboustelsel wees.
Gevolgtrekking
Alhoewel katoen ’n hoë produksiekoste en bepaalde risiko’s inhou, kan dit wel in ’n wisselboustelsel as ’n goeie voorafgaande kandidaat vir tradisionele gewasse soos mielies ingesluit word. Die katoen het in hierdie studie getoon dat dit ’n goeie potensiaal het en ’n hoë opbrengs kan lewer oor ’n verskeidenheid grondtipes met verskillende teksture in Noordwes. Indien die risiko’s beperk word, kan dit ’n winsgewende gewas wees om in ’n wisselboustelsel in te sluit.
Bronnelys
Cotton SA, 2021. Cotton hectares planting and yield for the Republic of South Africa. [28 November 2021]
Gagiano R, 2022. The effect of soil forms on soil moisture and dryand cotton production. Masters’ dissertation. North-West University. Potchefstroom