Deel 1
Plant- en dierereste beland alles weer as organiese materiaal op die grond, en kort voor lank is dit weg. Dit is die werk van grondlewende organismes. Stel jouself voor hoe ons wêreld sou gelyk het as die afgelope miljoene jare se plant- en dierelewe op die grond moes ophoop. Dit is grondlewende organismes se rol om die aarde vir ons leefbaar te hou.
Grondlewende diere word in makrospesies (groot) en mikrospesies (klein) verdeel. Die makrospesies word verder in herbivore (plantvretende diere), detritivore (wat op dooie en verrottende plante leef) en predatore verdeel (Figuur 1). In hierdie artikel word die makrospesies bespreek.
Grondlewende herbivore
Die grondlewende herbivore sluit die plantvretende diere wat in die grond leef, in. Hulle voed op lewende bogrondse en/of ondergrondse plantdele en inkorporeer hierdie plantdele in die grond. Hulle het ’n betekenisvolle impak op die grond.
SOOGDIERE
Verskeie soogdiere grawe gate in die grond waarin hulle woon. Die meeste van hulle voed op plante (herbivore), soos erdvarke, grondeekhorings, ystervarke, springhase, muise en molle. Sommige van hulle voed ook op lewende plantwortels, bolle en knolle, soos molle en ystervarke.
Die grootste impak van grondlewende soogdiere is die gate wat hulle in die grond grawe. Die gate dra by tot deurlugting, maar oor miljoene jare dra dit ook by tot die proses van pedoturbasie (omkeer van grond) deurdat vrugbare bogrond in die verlate gate inspoel.
Sulke opgevulde soogdiergate word dikwels in profielgate waargeneem as ’n verdonkerde kol in die wand van die profielgat en word ’n krotovina genoem. Hulle dra ook gras en ander plantmateriaal in die grond in as nesmateriaal. Hierdie organiese materiaal wat in die grond ingebring word, verhoog die grond se vrugbaarheid.
REPTIELE
Sommige reptiele, soos ouvolk, sommige akkedisspesies en erdslange, grawe ook gate in die grond, met dieselfde uitwerking as die grondlewende soogdiere.
INSEKTE
Insekte is die grootste groep van die grondlewende makrospesies en etlike miljoene kan per hektaar voorkom. Grondlewende miere, termiete en kewers het ’n reuse uitwerking op grond, veral omdat hulle so baie is.
Grasdraertermiete en houttermiete maak uitgebreide tonnelnetwerke in die grond en dra oor jare baie tonne organiese materiaal (gras en hout) in die grond in. Hulle kweek swamme op die gras en hout waarvan hulle leef. Dit is alles toegevoegde organiese materiaal tot die grond en dra direk tot die grond se vrugbaarheid by.
Plantvretende miere dra ook plantmateriaal in die grond in, wat in die grond na plantvoedingstowwe en boustene van humus afbreek. Die organiese gomme wat hulle afskei om die gronddeeltjies aan die wande van die tonnels te laat kleef, stimuleer struktuurvorming. Hulle het ook ’n groot uitwerking op perdoturbasie deurdat hulle ondergrond na die oppervlakte dra en wanneer die nes verlate raak, spoel daar weer bogrond in die gate in.
Die tonnels wat gegrawe word, verhoog die grond se porositeit (die volume porieë) en verlaag die bruto digtheid, wat beide gunstig is vir plantontwikkeling. Die nesgange verhoog waterinfiltrasie en ook dreinering.
Aan die chemiese kant verhoog miere en termiete die grond se pH tot rondom neutraal. Verder verhoog hulle die beskikbaarheid van fosfor, stikstof, kalsium en magnesium in die grond. Die inkorporering van organiese materiaal en organiese afskeidings verhoog die koolstof- en stikstofinhoud van die grond.
Grondlewende detritivore
Duisendpote, myte, slakke, kewers en erdwurms is belangrike fauna van hierdie groepering. Hulle leef hoofsaaklik op dooie en halfverteerde organiese materiaal om dit tot die basiese organiese komponente af te breek, wat weer as plantvoedingstowwe dien, of wat as humus in die grond ingebind word. Hulle is onontbeerlik in die ekosisteem en dra betekenisvol tot grondvrugbaarheid by.
Hiervan geniet erdwurms die meeste aandag, veral omdat hulle in sommige gronde só ’n groot rol speel om organiese materiaal in die grond in te meng en die grond se vrugbaarheid te verbeter.
Detritivore is verantwoordelik vir die verdere afbreking van sowat 80% van alle organiese materiaal wat in die grond land. Wanneer detritivore op organiese materiaal voed, ent hulle die materiaal met mikrobes, wat help met die verdere afbreking van hul neweprodukte tot plantvoedingstowwe en boustene van humus in die grond. Kewers in hierdie groepering voed normaalweg op die hardste materiale soos sellulose, terwyl ander soos slakke en erdwurms meer op sagter materiale voed.
Die detritivore is redelik uitgelewer aan predasie deur ’n verskeidenheid predatore. Om predasie te probeer vryspring, leef hulle dikwels net onder die grondoppervlakte en kom hulle snags uit om die organiese materiaal op die grondoppervlakte te kom haal. Hierdeur maak hulle baie gate in die grond en dra hulle ook die organiese materiaal in die grond in.
Hulle uitskeidings beland ook alles as organiese verbindings in die grond, wat die grond se koolstofinhoud verhoog en daarmee saam die ander plantvoedingstowwe soos organiese sure, wat deur plante opgeneem kan word.
Sommige detritivore is spesialiste in terme van die tipe materiale waarop hulle voed, terwyl ander algemeniste is. Die regte kos is dus nodig vir sekere spesies om te floreer. Verder is hulle ook onderhewig aan omgewingskommelinge omdat hulle op en net onder die grondoppervlakte leef. Landbouchemiese middels is dikwels baie nadelig vir detritivore om te floreer.
Grondlewende predatore
Sommige grondlewende soogdiere is primêre predatore wat op ander diere voed. Miere, kewers, myte en spinnekoppe, asook soogdiere soos molle, muishonde en meerkatte, is voorbeelde hiervan, en voed op onder andere die detritivore. Hulle dra derhalwe ook organiese materiaal in die grond in deurdat hulle uitskeidings in die grond maak. Hulle sorg verder dat die herbivore en detritivore se populasies nie handuit ruk nie.
Die predatore grawe in die grond agter hul prooi aan en daardeur versteur hulle die grondoppervlakte. Hulle woon ook in die grond en maak gate in die grond. Dit bevorder waterinfiltrasie en meng organiese materiaal in die grond in. Deur hulle aksie in die grond, dra hulle ook by tot pedoturbasie en bevorder hulle plantegroei.
Samevatting
Die grondlewende makrospesies het ’n besliste impak op die grond en bevorder op hul manier ook plantegroei. Alhoewel die uitwerking oor die kort termyn (enkele dekades) min is, raak dit betekenisvol oor miljoene jare. Hulle is baie gevoelig vir die mens se impak en is deel van ’n baie sensitiewe grondekosisteem, wat die grondgebruiker in ag moet neem wanneer hy veral op bewerkingspraktyke en landbouchemikalieë besluit.
In die volgende artikel gaan daar verder op spesifieke grondlewende organismes gefokus word en sal sommiges onder die vergrootglas geplaas word.
Bronnelys
Brady NC, 1990. The nature and properties of soils. Tenth Edition. Macmillan Publishing Company. New York. USA
Frouz J and Jilkova V, 2008. The effect of ants on soil properties and processes (Hymenoptera: Formicidae). Beskikbaar by: https://myrmecologicalnews.org/cms/index.php?filename=volume11/mn11_191-199_printable.pdf&format=raw&option=com_download&view=download#:~:text=Ants%20are%20ecosystem%20engineers%2C%20greatly,particles%20according%20to%20their%20size [16 Maart 2022]
Schowalter TD, 2016. Detritivores – an overview. Beskikbaar by: https://www.sciencedirect.com/topics/agricultural-and-biological-sciences/detritivores [16 Maart 2022]