• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, May 11, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

Divan Miller, Landboukundige

11 May 2026
in Tegniek
Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

Foto 1: Besmetting met Fusarium-aarskroei. Bron: Bayer, 2021

Share on Facebook

Wat op die oog af soos die onskuldige verbleiking van are lyk, kan lei tot beduidende opbrengsverliese, swakker graangehalte en die teenwoordigheid van gevaarlike mikotoksiene, wat die gewas se bemarkbaarheid bedreig. Fusarium-aarskroei ontwikkel vinnig in gunstige toestande, versprei stilweg deur spore wat met wind en reën versprei word, en vestig hom juis wanneer die gewas op sy kwesbaarste is.

’n Gesonde, belowende koringland kan binne enkele dae tydens blom na ’n bron van groot ekonomiese verliese verander wanneer Fusarium-aarskroei toeslaan. Om hierdie siekte suksesvol te bestuur, verg ’n geïntegreerde benadering, wat begrip insluit van hoe die patogeen oorleef, hoe infeksies plaasvind, watter omgewingsfaktore dit bevorder en watter praktyke produsente kan toepas om die risiko te beperk. Produsente kan ingeligte besluite neem om hul oeste en winsgewendheid te beskerm as hulle die ontwikkeling, verspreiding, identifikasie en beheer van Fusarium-aarskroei beter verstaan.

Koring

Koring is een van die belangrikste stapelvoedselgewasse in Suid-Afrika en word tans in al nege provinsies verbou. Produksie is grootliks afhanklik van die grondtipe en -diepte, beskikbare grondwater, klimaatstoestande en besproeiing in sekere streke (C de Villiers, 2017).

Fusarium-aarskroei is een van die belangrikste siektes onder besproeiing wat wêreldwyd in voorkoms en erns toeneem, veral waar vatbare kultivars in bewaringslandboupraktyke aangeplant word. Volgens ’n artikel wat in Oktober 2016 in SA Graan/Grain gepubliseer is, is 17 verskillende Fusarium-spesies wêreldwyd met Fusarium-aarskroei geassosieer sedert die aanvanklike optekening van die siekte op koring, gars en ander kleingrane.

Internasionaal is Fusarium graminearum die oorheersende spesie, wat vir ongeveer 85% van die gevalle verantwoordelik is, gevolg deur F. culmorum en F. avenaceum.

Die meeste Fusarium-swamme is grondlewend en kan op beide lewende plantmateriaal en dooie organiese materiaal groei, wat hulle help om tussen oeste te oorleef en in opvolgende seisoene weer infeksies te veroorsaak. Hierdie diversiteit van swamspesies en hul vermoë om beide grondreste en gewasse te koloniseer, maak die beheer van Fusarium-aarskroei besonder uitdagend vir koringprodusente.

Op Foto 1 kan die simptome van Fusarium-aarskroei op koringare gesien word. Links op Foto 2 is koringsaad wat met Fusarium-aarskroei besmet is, met gesonde koringare aan die regterkant.

Foto 2: Links is koringkorrels vanuit Fusarium-besmette are. Die gesonde koringkorrels lê regs.
Bron: Bayer, 2021

Siektesiklus en simptoomontwikkeling

Oesreste van kleingrane en mielies is belangrike bronne van inokulum (spore) vir aanvanklike infeksie (Bayer, 2021). In ’n artikel wat in die South African Journal of Science (Sinegugu PNS et al., 2020) gepu­bliseer is, word daar beskryf dat die patogeen oorleef as ’n voorloper van preritecia, ’n seksuele voortplantingstruktuur, waaruit askospore (primêre inokulum) onder gunstige, warm en vogtige toestande binne 48 tot 72 uur vrygestel word. Sien Figuur 1.

Figuur 1: Fusarium graminearum, die veroorsakende agent van Fusarium-aarskroei op koring, se lewensiklus.

Die optimale temperatuur vir Fusarium-infeksie is 28°C. Die spore word deur wind en reën versprei en infekteer vatbare plantweefsel. Ná penetrasie groei die hifes (swamdrade) eers tussen selle en later binne-in selle, wat dooie selle en weefselnekrose veroorsaak as gevolg van mikotoksiene soos deoksinivalenol (DON).

Tekens en simptome van ’n infeksie kan reeds binne drie dae ná blootstelling begin kop uitsteek, maar kan tot sewe dae neem voordat dit sigbaar word. Simptome is aanvanklik waterige letsels op die blompakkies op die are, wat later wit of gebleik voorkom. Daarna verskyn wit of pienkerige miselium (swamgroei) (Foto 3a) en ’n pienk/oranje sporemassa (Foto 3b) op besmette dele.

Donker, ronde peritecia (pakkies met spore) (Foto 3c) ontwikkel later en stel nuwe spore vry. Besmette pitte is dikwels gekrimp, verkleur en ligbruin of pienkerig-wit. Hierdie Fusarium-beskadigde pitte bevat dikwels hoë vlakke mikotoksiene en het swak ontkieming en groeikragtigheid, wat dit ongeskik maak vir voedsel, voer of saad.

Foto 3: Besmette koringare wat gebleikte blompakkies toon, met wit-pienkerige miselium (a), oranje spore (b)
en swart peritecia (c).
Bron: Moonjey, 2023

Beheer- en bestuurstrategieë

Koringprodusente kan verskeie strategieë volg om infeksie met Fusarium-aarskroei doeltreffend te voorkom en/of te beheer.

WISSELBOU

Dit behels die afwisseling van koring met nie-gas­heer­gewasse, soos peulgewasse, eerder as om koring ná ander graangewasse soos mielies, gars of sorghum te plant. Nie-gasheergewasse help om die hoeveelheid Fusarium-inokulum wat tussen seisoene in die land oorleef, te verminder. Dit verlaag die siektedruk wanneer koring weer geplant word.

BESTUUR VAN OESRESTE

Die hoeveelheid inokulum in die land word verminder deur koring- en ander gasheerreste ná oes te verwyder, in te werk of af te breek. Praktyke soos grondbewerking versnel die ontbinding van reste en verminder die kans dat spore na nuwe koringare versprei word. Grondbewerking moet noukeurig en volhoubaar geïmplementeer word omdat dit kan lei tot die vernietiging van voordelige mikroörganismes, wat die grondgesondheid en vrugbaarheid behou en bevorder.

KEUSE VAN VERDRAAGSAME OF MINDER VATBARE KULTIVARS

Die aanplant van koringkultivars wat verdraagsaam of minder vatbaar is vir Fusarium-aarskroei, help om siekte-ontwikkeling en inokulum-ophoping te beperk. Volledige weerstand is skaars, maar gedeeltelik verdraagsame kultivars kan die erns van die siekte aansienlik verminder. Die gebruik van kultivars met verskillende blomtye kan ook help om eenvormige vatbaarheid te beperk.

HOË GEHALTE SAAD EN SAADBEHANDELING

Die gebruik van skoon, gesertifiseerde saad wat vry is van Fusa­rium-besmetting, voorkom dat die patogeen reeds aan die begin van die seisoen gevestig word. Saadbehandeling met toepaslike swamdoders kan saadgedraagde inokulum onderdruk en vroeë saailinginfeksies verminder.

Foto 4: Gebleikte fusarium-besmette are is maklik sigbaar in koring op groen lande.
Bron: Bayer, 2021

BESPROEIINGSBESTUUR

Fusarium-aarskroei word deur warm, vogtige toestande tydens blomtyd bevorder. Infeksie kan beperk word deur besproeiing noukeurig te bestuur en oormatige vog gedurende hierdie belangrike stadium te vermy. Die vermindering van blaarnatheid en hoë humiditeit tydens blomtyd help om siekte-ontwikkeling te verminder.

Die gebruik van grondvogmeters help produsente om besproeiing doeltreffend te monitor en te bestuur deur die voginhoud van die grond deurlopend te meet, wat dit moontlik maak om besproeiing op die regte tyd en in die regte hoeveelheid toe te dien.

TOEDIENING VAN SWAMDODERS

Vir die beste resultate, moet swamdoders op die korrekte groeistadium, ge­woonlik aan die begin van blomtyd, toegedien word. Sekere chemiese groepe, soos triasole, kan die siektevoorkoms en mikotoksienvlakke verlaag. Swamdoders werk egter die beste as deel van ’n geïntegreerde bestuursprogram.

SIEKTEVOORSPELLING EN WEERMONITERING

Voorspellingsmodelle en die monitering van weerstoestande help produsente om hoë risiko-tydperke vir Fusarium-infeksie te identifiseer. Die swamdoder-toedienings kan op grond van die humiditeit en reënval meer tydig toegedien word. Presisieboerderytegnologie soos satelliet- of hommeltuigbeelde kan ook gebruik word om Fusarium-aarinfeksies vroegtydig op te spoor.

VROEË AANPLANTING EN KULTIVAREIENSKAPPE

Vroeë aanplanting of die gebruik van kultivars met eienskappe wat minder gunstig is vir siekte-ontwikkeling kan help om die belangrike blomstadium buite piek-infeksietydperke te plaas. Dit verminder die waarskynlikheid van ernstige besmetting.

NA-OES HANTERING

Praktyke soos die verhoging van die stroper se waaispoed om ligte, besmette pitte uit te blaas, asook die verlaging van graanvog en behoorlike berging, kan ná oestyd help om mikotoksienbesmetting te beperk. Die skeiding van beskadigde of ligte pitte verminder die risiko van gehalteverliese.

GEÏNTEGREERDE BESTUUR

Geen enkele metode bied volledige beheer teen Fusarium-aarskroei nie. Die kombinasie van verskeie praktyke bied die doeltreffendste en mees volhoubare beheer van die siekte en gepaardgaande mikotoksiene.

Samevatting

Fusarium-aarskroei bly ’n groot risiko vir koringproduksie en vereis ’n proaktiewe en geïntegreerde bestuursbenadering. Produsente kan die risiko van ernstige infeksie verminder deur siekte-verdraagsame kultivarkeuses te maak en koring vroegtydig te plant.

In kombinasie met tegnologie, weerinligting en goeie bestuurspraktyke, kan produsente risiko’s vroeg identifiseer en tydige besluite neem. Hierdie benadering help om infeksies te beperk en dra by tot meer volhoubare en winsgewende koringproduksie.

Bronnelys

Almeida L, Inoue S, Marques JM & Rosario da Silva JK, 2025. A review of antifungal activity of bacterial strains and their secondary metabolites against Fusarium species. Reviews in Environmental Science and Biotechnology 24(3):695-732. DOI: 10.1007/s11157-025-09733-7 [https://www.researchgate.net/figure/Fusarium-graminearum-life-cycle-the-causal-agent-of-Fusarium-head-blight-on-wheat_fig3_392734787]

Bayer, 2021. Managing Fusarium head blight in winter wheat. Crop Science US. Bayer, US. www.cropscience.bayer.us/articles/bayer/managing-fusarium-head-blight-wheat [4 Maart 2026]

De Villiers C, 2017. Die infeksieproses van Fusarium-aarskroei. SA Graan/Grain. Julie 2017. Graan SA. www.grainsa.co.za/die-infeksieproses-van-fusarium-aarskroei [2 Maart 2026]

De Villiers & Scott S, 2016. The dangers of mycotoxin-producing Fusarium species on wheat – SA Grain. Grain SA, Oct. 2016. sagrainmag.co.za/2016/10/17/the dangers of mycotoxin-producing Fusarium species on wheat

Genetics and Biology, Vol. 169, 1 Dec. 2023, p. 103829. www.sciencedirect.com/science/article/pii/S1087184523000609 https://doi.org/10.1016/j.fgb.2023.103829 [24 Februarie 2026]

Moonjely S et al. 2023. Update on the state of research to manage Fusarium head blight.

Fungal Friskop A, Bergstrom G, Bradley C, Kleczewski N, Marshall J, Smith D, Tenuta A, & Wise K, 2021. An overview of Fusarium head blight. Crop Protection Network. CPN-3005. doi.org/10.31274/cpn-20211109-0 [24 Februarie 2026]

Scott S & De Villiers C, 2014. Reducing the risk of Fusarium head blight disease for irrigated wheat. SA Grain, June 2014. Grain SA. www.grainsa.co.za/reducing-the-risk-of-fusarium-head-blight-disease-for-irrigated-wheat [3 Maart 2026]

Sinegugu PNS, Kwasi SY & Nokwazi CM, 2020. Progress in the management of Fusarium head blight of wheat: An overview. South African Journal of Science, Vol. 116, no. 11/12, 26 Nov. 2020. https://doi.org/10.17159/sajs.2020/7854 [2 Maart 2026]

Tags: Mei/Jun 2026
Previous Post

Benader presisieboerdery met ’n vars aanslag

Next Post

Landbou vandag


Recommended

Intensiewe lamstelsels lok al meer belangstelling

11 May 2026
Landbou vandag

Landbou vandag

11 May 2026
Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

11 May 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Intensiewe lamstelsels lok al meer belangstelling

11 May 2026
Landbou vandag

Landbou vandag

11 May 2026
Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

11 May 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In