Hulle is skaars drie bakstene hoog en hulle het klaar sosiale media gebruikers op hol – en dit nogals omdat een van hulle in erge dorings getrap het. Dié gebeurtenis het op ‘n wintersdag op die Daly’s se plaas buite Virgina in die Vrystaat plaasgevind.
Oupa Mike Daly het vir Luka en Cayden Daly en ‘n maatjie, Blake Steyn, gevra om skape uit die mieliereste te gaan haal. Ongelukkig het Cayden sy skoene iewers gelos en is goed deur die dorings gesteek. Die ander twee was gou by om hom te dra, maar hy het telkemale in die stof beland.
Oupa Mike het dié kostelike video aan ‘n paar vriende gestuur waarna dit gou soos ‘n veldbrand versprei het.
NWK deel in die vermaak
Dié seuns se manewales het ook in die gange van NWK aandag getrek en daar is besluit om dié drie ‘n bietjie te bederf. Die hulp van die maatskappy se verskaffers is ingeroep en gou het die geskenke en koeverte begin ophoop.
Hierdie week het die NWK se bemarkingsbestuurder, Christine Fraser, die pad gevat Virginia toe – nie net met “bederfies” vir die kinders nie, maar ook ‘n paar artikels vir die oupas, oumas, pappas en mammas.
Daar was balle en frisbees, pennesakkies, maatbande, handdoeke, komberse, klere, verskeie hoede en natuurlik skoene. Sommer baie skoene, van vellies tot crocs en plakkies daarby. ‘n Klein blou flitsliggie was Cayden se gunsteling en hy wou dit nie vir ‘n oomblik uit sy sig laat verdwyn nie.

Oupa Mike is onder meer bederf met ‘n blinknuwe rooi gereedskapskas, ‘n mini-yskas en ‘n kruiwa. NWK het lugsuiweraars, kerse en vlekvrye staal vakuumflesse vir die ma’s en oumas gegee. Die seuns het ook verskeie kontantskenkings ontvang, wat vir eers deur hul ouers in veilige bewaring geneem is tot hulle kan besluit waarop dit spandeer moet word.
Fraser het haar dank uitgespreek teenoor NWK se verskaffers wat met die maatskappy hande gevat het en hul harte oopgemaak het vir die drie seuns wat op so ‘n onskuldige manier die land weer kon laat lag.

Die gesinne is steeds stomgeslaan oor die impak van die video, en oupa Mike sê hy dink dit was so gewild omdat dit mense van oral oor kon laat lag.
Die Daly seuns het intussen hulle video’s op TikTok begin plaas. Kyk gerus uit vir “Kakenjani en Pietbrand” – en net dalk sal jy hulle sien met van hulle nuwe skoene aan!








