
El Niño steek sy kop uit
Die weerprofete voorspel ’n verandering vanaf ’n La Niña na neutraal gedurende die wintermaande, met die moontlikheid van ’n sterk El Niño die komende seisoen.
“Dit wil dus lyk of ons die komende seisoen onder-normale reënval vir Suid-Afrika gaan hê. Dit is egter nog baie vroeg om ’n akkurate voorspelling te maak en enigiets is nog moontlik,” sê Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK.
Onkruidbeheer is nou belangrik
Uitmuntende onkruidbeheer is nou van die uiterste belang om die laat herfs- en winterreën in die grond te bewaar. Begin deur winteronkruid betyds te beheer. Onthou dat oorgedraagde vog ’n groot bydrae lewer tot die nuwe seisoen se gewaspotensiaal, so benut dit met oorgawe.
Oorhoofse bespuitings oor die ongestroopte gewasse is ’n goeie praktyk om winteronkruid te neutraliseer. In wye rye kan onkruid ook geskoffel word. Andersins moet dit direk ná strooptyd geskoffel word.
AgTech@NWK is hier om te help
- Evalueer grondbewerkingstelsel: Daar is nog ’n laaste kans om wortelstudies in profielgate uit te voer om te evalueer tot watter mate die plantwortels die bewerkingstelsel ervaar. Dit is ook die ideale tyd om die lande vir die voorkoms van verdigte sones te toets. Die presisiespan is gereed om verdigtings met ’n penetrometer te kom meet en om produsente oor die aangewese bewerkingsmetodes te adviseer.
- Chemiese presisie: Dit is nou ’n uitstekende tyd om chemiese presisie op die gestroopte lande uit te voer. Dit gee produsente genoeg tyd om moontlike regstellings te doen. Die presisiespan kan hiermee help en is boonop agente vir Bastion-kalk, wat ’n wye keuse van kalksoorte bied sodat die produsent die regte hoeveelhede op die regte plekke in die landerye kan toedien.
- Droë grondprofiele: Laat die ondergrondse vog in lande toets. Lande met geen ondergrondse vog nie moet eerder oorgelê word om vir die volgende seisoen op te gaar.
Advies vir veeprodusente vir die komende maande
BEESTE
- Kalwers wat van April tot Junie gespeen word, moet met Multimin en vitamien A ingespuit word. Inentings teen knopvelsiekte, Slenkdalkoors, beesvirusdiarree (BVD), asook spons-, lam- en miltsiekte, moet gedoen word. Diere moet ook ontwurm word.
- Verse wat nie op die ouderdom van vier tot agt maande met Stam 19 teen besmetlike misgeboorte ingeënt is nie, moet hul tweede dosis RB51 in Mei/Junie kry, op die ouderdom van 18 maande. Hulle moet ook teen BVD ingespuit word, ontwurm word, en waar nodig, vir lewerslak behandel word. Dit is ook belangrik om elke drie maande Multimin en vitamien A te gee.
SKAPE
- Skape ouer as drie maande moet teen bloednier geënt word, veral waar beoog word om byvoorbeeld oesreste of wintergroenvoer te benut. Ent ongeveer twee weke voor skape op oesreste begin wei en en volg op met ’n skraagdosis ses weke later.
- Speenlammers moet die volgende inentings ontvang: Ensoötiese aborsie 1 en 2, bloednier 1 en 2, bloutong
A, B en C, Slenkdalkoors 1 en 2. Doseer en herhaal sowat vier weke later.
Ontmoet twee nuwe AgTech-gesigte
Karla Schutte (23) is ’n nuwe grondkundige by NWK. Dié pos is vir Karla haar droompos omdat die wetenskap agter wat hulle doen, vir haar ’n passie is. Sy geniet veral die veldwerk. “Maar die opwindendste deel is al die mense wat ek langs die pad ontmoet. Ek hou nie daarvan as elke dag presies dieselfde is nie, so dinge moet nooit te voorspelbaar wees nie,” vertel sy.
Dié musikale jong dame speel klavier. Haar stokperdjies is perdry en Airsoft speel. “Ek moet erken dat braai saam met vriende of om net rustig saam met my hond by die huis te wees waarskynlik ’n meer akkurate opsomming van my vrye tyd is.”
Die 23-jarige Divan Miller is ’n nuwe landboukundige in die AgTech-span. Hy het al van kleins af geweet dat hy in ’n landbourigting wou studeer. Hy geniet plaasbesoeke, waar hy produsente met raad kan bedien en van planttyd tot strooptyd ’n pad saam met hulle kan stap. “Elke seisoen lyk anders met sy eie uitdagings, en dit is opwindend om nuwe en unieke oplossings vir elke uitdaging te vind.”
Divan is ’n kranige skut wat die meeste van sy vrye tyd op die skietbaan deurbring. Hy neem graag deel aan skietkompetisies, maar is ook baie lief vir visvang, jag, sport en braai. “Ek geniet dit ook om tyd saam met my meisie, familie en vriende te spandeer.”





