Deel 1

Die kern van presisieboerdery lê nie in ’n GPS-stelsel nie, maar in kennis van jou eie lande. Wanneer presisieboerdery as ’n stel bestuursbesluite eerder as ’n stel implemente gesien word, word die spreekwoordelike olifant kleiner en die waarde daarvan vir elke boerdery groter.
Presisieboerdery is somtyds vir produsente ’n spreekwoordelike olifant in die landboubedryf – iets wat duur, ingewikkeld en buite bereik voel. Hierdie persepsie word deels versterk deurdat presisieboerdery dikwels slegs met spesifieke tegnologieë soos ’n GPS-stelsel, opbrengskaarte en veranderlike toediening geassosieer word, terwyl dit in werklikheid ’n geïntegreerde bestuursbenadering is wat op plaasvlak toegepas word.
Wat beteken presisieboerdery regtig?
Variasie is ’n groot deel van wat boerdery so uitdagend maak, of dit nou in weerstoestande oor seisoene heen (tydelike variasie) of variasie binne en tussen lande (ruimtelike variasie) is. Een resep kan eenvoudig nie blindelings oral en altyd toegepas word nie. Alhoewel variasie nie vermy of uitgeskakel kan word nie, kan dit beter verstaan en bestuur word.
Volgens die International Society of Precision Agriculture is presisieboerdery ’n bestuurstrategie wat tydelike, ruimtelike en individuele plant- en dierdata insamel, verwerk en ontleed, en dit met ander inligting kombineer om bestuursbesluite volgens beraamde variasie te ondersteun. Die doel is om die hulpbrongebruiksdoeltreffendheid, produktiwiteit, gehalte, winsgewendheid en volhoubaarheid van landbouproduksie te verbeter.
Eenvoudig gestel, is presisieboerdery wanneer ’n produsent die verskille op sy plaas verstaan en sy bestuur daarvolgens aanpas. Dit kan op ’n eenvoudige manier óf met behulp van gevorderde tegnologie toegepas word.
Presisieboerdery behels die strewe om die regte praktyk op die regte plek, op die regte tyd en teen die regte hoeveelheid toe te pas. Dit kan onder andere bewerkingspraktyke, bemesting of standbeheer insluit.
Om dit in perspektief te stel: ’n Produsent wat doelbewus ’n kol in ’n land nie plant nie omdat ’n vlak klipbank die opbrengs beperk, pas teoreties reeds ’n vorm van presisieboerdery toe. Inteendeel, voor meganisasie het produsente reeds volgens plaaswaarneming presisieboerdery toegepas deur byvoorbeeld meer kunsmis op swak kolle toe te dien. Só is ’n melkboer wat voeraanpassings maak volgens individuele diere se getoetste behoeftes ook besig met presisieboerdery.
Die belangrike besef is dat presisieboerdery ’n veel wyer en meer omvattende konsep is as wat tradisioneel daarmee geassosieer word. Tegnologie, soos GPS-navigasiestelsels en presisietoerusting wat dikwels eerste in gedagte kom, is hulpmiddels om veranderlike toediening en bestuur makliker toe te pas. Dit is egter nie die enigste, of noodwendig die eerste, vorm van presisieboerdery nie.
Inteendeel, daar is ’n goeie kans dat produsente reeds elemente van presisieboerdery toepas sonder om dit noodwendig só te noem.
Waarom maak dit dan saak dat ’n mens moet verstaan wat presisieboerdery teoreties beteken indien dit dalk reeds onwetend toegepas word? Navorsing toon dat bewustheid en begrip van presisieboerdery die aanneming van tegnologie en bestuurspraktyke beïnvloed, en onsekerheid daaroor produsente kan ontmoedig om beskikbare hulpmiddels te gebruik. Aangesien die term in verskeie afdelings van die bedryf gebruik word, kan ’n gebrek aan begrip veroorsaak dat waardevolle oplossings misgeloop word, net omdat die woord presisieboerdery gebruik word.
Presisieboerdery sluit ’n wye reeks hulpmiddels en benaderings in. ’n Produsent kan hieruit kies volgens wat nodig is en wat binne die skaal van sy boerdery pas.
Die presisiegereedskapskis
Presisieboerdery kan gesien word as ’n gereedskapskis, gevul met verskeie gereedskapstukke waaruit ’n produsent kan kies. Dit is nie ’n vaste pakket wat alles op een slag geïmplementeer hoef te word nie, maar eerder ’n versameling hulpmiddels wat gekies en gekombineer kan word volgens die behoefte en bekostigbaarheid. Sommige van die beskikbare presisiegereedskapstukke sluit die volgende in:
- Vogmeters (probes [voelstafies] en CPN-metings)
- Grondkartering
- Grondchemiese ontledings
- Verdigtingstudies
- Opbrengskaarte van stropers
- GPS-navigasie en outostuur
- Veranderlike toedieningstoerusting en -implemente (bv. presisieplanters en -spuite)
Die gesprek oor presisieboerdery begin dikwels by presisie-implemente en GPS-stelsels. Hierdie tegnologieë is waardevolle en skaalbare hulpmiddels, maar vorm slegs ’n deel van die groter prentjie. Tegnologie word gebruik om bestuursbesluite te ondersteun, nie om dit te vervang nie. Sommige van die minder bespreekte presisie-hulpmiddels is egter net so belangrik en dit is dikwels waar presisieboerdery werklik begin.
Presisie begin by waarneming, nie by toerusting nie. Dit begin by kennis van ’n mens se eie lande. Dit is moeilik om te bestuur wat ’n mens nie verstaan nie, en hoe meer kennis ’n boer oor sy lande versamel, hoe beter is hy toegerus om doeltreffende bestuursbesluite te neem.
Die grondtipes, -diepte, -chemie, koolstofinhoud en mikroklimaat kan tussen en binne lande wissel. Die produsent beweeg reeds ’n stap nader aan meer doelmatige insetbestuur deur na historiese opbrengsdata te kyk en probleemareas te identifiseer. Die volgende stappe, soos grondkartering en chemiese monsterneming, kan gebruik word om hierdie kennis verder uit te brei en bestuursones meer akkuraat af te baken.
Samevatting
Klein happies. Presisieboerdery kan dalk in dieselfde lig gesien word as sout – iets wat bestaande boerderypraktyke aanvul en volgens smaak en noodsaaklikheid bygevoeg word, eerder as ’n heeltemal nuwe, eksotiese kookkuns. Die “olifant” hoef nie op een slag opgeëet te word nie. Dit kan aangepak word op ’n manier wat by jou boerdery pas en werklik waarde toevoeg.
Dit is belangrik om te besef dat presisieboerdery dikwels nader aan die bestaande praktyke is as wat besef word. Die belangrikste komponent daarvan bly kennis van jou eie lande. Hoe hierdie kennis dan benut word om variasie te bestuur, kan wissel van “boer-maak-’n-plan”-metodes tot gevorderde tegnologie.
Presisieboerdery is nie ’n aankoop nie, maar ’n ingesteldheid en bestuursmetode.
Bronnelys
Berckmans D, 2006. Automatic on-line monitoring of animals by precision livestock farming. Livestock Production Science, 100(1-3), pp.25-37
Bramley RGV, 2009. Lessons from nearly 20 years of precision agriculture research, development and adoption as a guide to its appropriate application. Field Crops Research, 104(1-3), pp.68-75
Daberkow SG & McBride WD, 2003. Farm and operator characteristics affecting the awareness and adoption of precision agriculture technologies in the US. Precision Agriculture, 4(2), pp.163-177
Gebbers R & Adamchuk VI, 2010. Precision agriculture and food security. Science, 327(5967), pp.828-831
International Society of Precision Agriculture, n.d. Precision agriculture definition. Available at: https://www.ispag.org
Lowenberg-DeBoer J & Erickson B, 2019. Setting the record straight on precision agriculture adoption. Agronomy Journal, 111(4), pp.1552-1569
McBratney AB, Whelan BM, Ancev T & Bouma J, 2005. Future directions of precision agriculture. Precision Agriculture, 6(1), pp.7-23
Mulla DJ, 2013. Twenty-five years of remote sensing in precision agriculture: Key advances and remaining knowledge gaps. Precision Agriculture, 14(4), pp.358-371
Plant RE, 2001. Site-specific management: The application of information technology to crop production. Computers and electronics in agriculture, 30(1-3), pp.9-29
Robertson MJ, Llewellyn RS, Mandel R, Lawes R, Bramley RGV, Swift L, Metz N & O’Callaghan C, 2012. Adoption of variable rate fertiliser application in the Australian grains industry: Status, issues and prospects. Field Crops Research, 129, pp.127-136
Taylor JA & Whelan BM, 2002. A general introduction to precision agriculture. Australian Centre for Precision Agriculture, University of Sydney
Whelan BM & McBratney AB, 2003. Definition and interpretation of potential management zones in Australia. Precision Agriculture, 4(1), pp.67-79







