• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, May 11, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Ontgin nuwe potensiaal: Kanola as alternatiewe wintergewas in Noordwes

Rachel du Preez, Bestuurder: Presisieboerdery, AgTech@NWK

11 May 2026
in Tegniek
Ontgin nuwe potensiaal: Kanola as alternatiewe wintergewas in Noordwes

Foto: Cathy van Eeden

Share on Facebook

’n Ondersoek deur AgTech@NWK toon dat die verbouing van kanola onder besproeiing in sommige dele van NWK se bedieningsgebied ’n belowende alternatief vir koring – waarvan die winsgewendheid daal – kan bied.

Die meerderheid van die kanolakultivars wat tans in die Wes-Kaap verbou word, behoort aan die Brassica napus-spesie. Kanola-olie is wêreldwyd bekend vir besonderse gesondheidseienskappe en word as kookolie en in die vervaardiging van margarien gebruik.

Kanola word ook in beide die oliekoek- en volvetvorm met groot vrug as veevoer in voerrantsoene ingesluit. Dié gewas se graan bevat sowat 40% tot 45% olie en 18% tot 22% proteïen. Kanola-oliekoek bevat sowat 34% tot 38% proteïen (Landbou.com, 2022).

Alhoewel hierdie wintergewas nog nie wyd gevestig is nie, is dit goed aangepas by winterreënvalgebiede en toon dit potensiaal onder besproeiing in die sentrale en noordelike dele van Suid-Afrika.

Kanolaproduksie in Suid-Afrika

  • Die Wes-Kaap plant meer as 50% van die land se kanola, maar het weens ongunstige weerstoestande in die 2025/2026-seisoen ’n daling van sowat 5% vanaf die vorige seisoen ervaar.
  • Beter opbrengste as wat verwag is, is egter in die Noord-Kaap, Vrystaat, Oos-Kaap en Limpopo behaal.
  • Oppervlaktes het verhoog vanaf 17 000 ha in 1998/1999 tot 174 515 ha in 2025/2026 (Cronje, 2025). Die styging in oppervlakte kan toegeskryf word aan ’n groter vraag na olie en oliekoek, asook prysmededinging.

VOORDELE

Kanola is ’n uitstekende wisselbougewas as gevolg van sy besonderse biobe­rokingseienskappe, wat help in die stryd teen vrotpootjie, witoor, knopwortel­aalwurm en Phytophera. (Koeppen, 2018).

Indien kanola vroeër geoes kan word, beteken dit dat die besproeiingsland vinniger beskikbaar is vir ’n opvolggewas. Kanola moet dus vroeg gevestig word (April of vroeg Mei) om in Oktober te kan oes. Sodoende kan jy vroeg in November reeds besproeiingsmielies begin plant.

Kanola is ’n swaar voeder wat beduidende hoeveelhede makrovoedingstowwe, veral stikstof, fosfor en swael, uit die grond onttrek. Gevolglik is dit belangrik om voldoende fosfor naby die mieliesaad as opvolggewas toe te dien om vroeë wortelontwikkeling en optimale vestiging te verseker (Landbou.com, 2022).

NADELE

Hierdie gewas is gevoelig vir letsel- (Pratylenchus spp.) en stubby root-aalwurms (Trichodorus spp.), wat wortelontwikkeling beperk en die opbrengs negatief kan beïnvloed. Dit is ook vatbaar vir plae soos plantluise en siektes soos swartstam en Sclerotinia stamvrot (Cilliers, 2025). Rotasie tussen kanola en bone word daarom nie aanbeveel in kort rotasiestelsels of in gebiede met hoë Sclerotinia-druk nie, aangesien dit tot ’n opbou van inokulum in die grond kan lei en die risiko van infeksie verhoog.

Wanneer die kanolagewas ongeveer 30% van sy blomstadium (20 oop blomme aan die hoofhalm) bereik, word behandeling teen Sclerotinia aanbeveel. Die opbrengsverlies as gevolg van Sclerotinia-infeksie is die helfte van die besmettingsvlak – dus veroorsaak 20% besmetting ’n 10% opbrengsverlies (Lombaard, 2025).

Foto: Anre Olivier

Produksie

KULTIVARTIPES

Die klassifikasie van kultivartipes kan op grond van onkruiddoderverdraagsaamheid geskied. Die opvolg­gewas bepaal watter geneties aangepaste kultivars soos Cl Clearfield® (imasamoks-verdraagsaam), TT-kultivars (triasien-verdraagsaam) of konvensionele kultivars
(imasamoks- en triasien-verdraagsaam) geplant moet word (Lombaard, 2025).

’n Wye verskeidenheid kultivars is beskikbaar en word gewoonlik op grond van die kultivars se kouebehoeftes onderskei.

  • Laat aanplantings lei gewoonlik tot ’n vinniger oorgang ná blom, aangesien die plant onder warmer toestande en ’n langer daglengte reproduktief raak, wat die vege­tatiewe fase verkort.
  • In teenstelling hiermee het vroeë aanplantings ’n langer vegetatiewe groeifase weens koeler temperature en kor­ter daglengtes, wat die tyd tot die blomperiode verleng.

Vroeë aanplantings (April tot vroeg Mei) wissel van 100 dae tot 120 dae tot blom. Optimale aanplanting (Mei) wissel van sowat 90 dae tot 110 dae tot blom, en laat aanplantings (Junie) van 80 dae tot 95 dae tot blom (Lombaard, 2025).

Saadmaatskappye soos Advanta Seeds, Agricol en Pioneer speel ’n belangrike rol in die keuse van geskikte kanolakultivars. Kort tot medium groeilengte kanolakultivars word vir die besproeiingstoestande in Noordwes aanbeveel.

Vroeë plantdatums (April tot vroeg Mei), in kombinasie met kort tot medium groeilengte kultivars, help om te verseker dat die blomperiode hoë temperature ontsnap. Dit lei tot beter bestuiwing en saadset.

Hibriede kultivars kan betekenisvolle opbrengsverhogings tot gevolg hê, maar nuwe saad moet jaarliks aangekoop word omdat dit meestal nie vrugbare saad produseer nie.

GRONDVEREISTES

  • Goed gedreineerde, leem- of kleileemgronde met ’n grond-pH(KCl) van tussen 5 en 7 is ideaal vir kanolaverbouing.
  • Dit kan op ligte sandgronde onder besproeiing verbou word, maar verg egter baie goeie bestuur om suksesvol te wees.
  • Beperkings soos verdigtingslae, brak- of suurgrond kan die opbrengs ernstig benadeel.
  • Soos koring, word kanola ook as matig verdraag­saam teenoor brakgronde beskou (Koeppen, 2018).

PLANTESTAND

Kanola kan, soos koring, breedwerpig gesaai of in rye geplant word. Die ideale plantdigtheid vir kanola is 400 000 tot 800 000 plante per hektaar, met ongeveer 50% ontkie­mingsukses en dus ideaal 40 plante per vierkante meter wat realiseer. Om hierdie plantestand te verkry, word 3 kg tot 4 kg saad per hektaar benodig, afhangende van die saadgrootte en ontkiemings­persentasie (Lombaard, 2025).

Kanola beskik oor ’n sterk vermoë om vir ’n laer plante­stand te kompenseer deur verhoogde vertakking en peulvorming per plant, en aanvaarbare opbrengste kan dus steeds by relatief lae stande behaal word.

KLIMAAT

Matige temperature van 20°C tot 25°C is optimaal vir fotosintese en droëmateriaalakkumulasie. Hoewel 5°C as die minimum groeitemperatuur vir kanola beskou word, word ontkieming grootliks vertraag deur lae temperature en is temperature van 15°C tot 20°C optimaal vir ontkieming.

Temperature hoër as 30°C kan bestuiwing tydens die blomperiode benadeel en sal die peul- en saadontwikkelingstadium sodanig verkort dat beide die opbrengs en gehalte benadeel word (Lombaard, 2025).

Kanola is redelik rypbestand tydens die vroeë groeistadiums, mits die groeipunt nie beskadig word nie. As ’n onbepaalde groeier beskik kanola oor ’n sterk kompensasievermoë, waar die plant redelik goed kan herstel van skade tydens die blomperiode, maar voldoende grondvog bly noodsaaklik vir suksesvolle vestiging en saadset.

Aangesien die saad van kanola baie klein is en daar dus minder kontak met gronddeeltjies plaasvind, word natter grondwaterinhoude in vergelyking met koring vir suksesvolle ontkieming vereis. Ná vestiging kan kanola weens sy penwortelstelsel, wat so diep as 100 cm in die grond kan indring om water en voedingstowwe op te neem, droë tydperke beter as koring weerstaan.

Kanola benodig ongeveer 350 mm tot 500 mm water per groeiseisoen (Tabel 1). Waterstremming tydens blom kan die opbrengs met meer as 30% verminder.

BEMESTING

Stikstofbemesting

Indien kanola onder besproeiing in ’n wisselboustelsel met peulgewasse verbou word, benodig dit ongeveer 120 kg tot 160 kg N/ha (afhangende van die grondeienskappe en opbrengsmikpunt), wat soos volg toegedien word (FERTASA, 2019):

  • 30 kg N/ha breedwerpig met plant of 20 kg N/ha gebandplaas
  • 40 kg – 50 kg N/ha 20 dae ná opkoms
  • 40 kg – 50 kg N/ha 50 dae ná opkoms
  • 40 kg – 50 kg N/ha 70 tot 80 dae ná opkoms (tydens stamverlenging)

Swaelbemesting

Die swaelbehoefte van kanola is ongeveer vier keer groter as dié van koring. Spesiale aandag sal dus aan die swaelbemestingsprogram gegee moet word. Aangesien swael weens ’n antagonistiese uitwerking soms die opname van boor en molibdeen onderdruk, sal hierdie elemente as blaarvoeding ook aandag moet geniet. Vir optimale produksie moet swael verkieslik in kombinasie met stikstof in ’n N:S-verhouding van ongeveer 7:1 as topbemesting gedurende die groeiseisoen toegedien word.

Opbrengspotensiaal

Die opbrengspotensiaal van kanola onder besproeiing kan onder ideale toestande 4 t/ha tot 5 t/ha bereik, maar realistiese kommersiële opbrengste in Suid-Afrika wissel tipies tussen ongeveer 3,5 t/ha tot 4 t/ha wat behaal kan word (Koeppen, 2018).

Kanola kan geoes word deur direkte stroop, plat sny (windrye) of deur die gebruik van ontblaringsmiddels om rypwording te versnel. Kanola is gereed vir oes sodra die peule geel verkleur het, die sade donker van kleur is en ’n geritsel in die peule as dit geskud word.

Sodra die kanolaplant volwasse is, raak dit gewoonlik baie vinnig ryp en kan die optimale oestydperk so kort as slegs enkele dae wees. Rypwording begin by die basis van die stingel en beweeg opwaarts.

Indien drogingsfasiliteite beskikbaar is, kan daar vanaf 12% vog gestroop word. Kanola kan egter slegs met ’n voginhoud van < 8% geberg word. Met ’n lae voginhoud en temperatuur onder 20oC kan dit lank gestoor word (Lombaard, 2025).

Winsgewendheid

Die twee kanolaperse in die noorde (Krugersdorp en Marble Hall) het tans saam die kapasiteit om 60 000 ton kanola te pers. Volgens Strauss word ’n ekonomiese eenheid as 3 t/ha beskou. Daar is dus ruimte vir die aanplant van 20 000 ha kanola om aan dié twee perse te voorsien. Tans word slegs sowat 3 000 ha kanola onder besproeiing in die noorde aangeplant (Cilliers, 2025).

Die voordeel vir produsente in die noorde is dat enige surplus kanola in die Wes-Kaap vanaf Kaapstad uitgevoer word. Die mark in die noorde sal dus nie deur Kaapse kanola oorversadig word nie en produsente sal altyd ’n afset hê.

Tabel 4 toon 2025 se insetkoste vir koring en kanola onder besproeiing in die Noord-Kaap, soos saamgestel deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP). ’n Koringopbrengs van 6 t/ha word met ’n kanola-opbrengs van 3,5 t/ha vergelyk. Volgens die begroting maak kanola R1 354/ha meer wins as koring. Die begrotings is aangepas om die twee gewasse meer vergelykbaar te maak.

Tabel 5 is nog ’n kanolabegroting wat vir die Noord-Kaap gedoen is. Volgens hierdie begroting maak kanola ’n wins van R2 090/ha.

Samevatting

Die verbouing van kanola onder besproeiing gedurende die winter in die noordelike dele van Suid-Afrika hou aansienlike potensiaal vir produsente in. Met die regte praktyke en bestuurstrategieë kan kanola ’n waardevolle toevoeging tot die landboubedryf in die noordelike dele van Suid-Afrika word.

Bronnelys

BFAP, B. f. 2025. Income & cost budgets – winter crops. BFAP
Cilliers V, 6 Februarie 2025. Blink toekoms vir kanola in die noorde. Beskikbaar by: https://sagrainmag.co.za/2025/02/06/blink-toekoms-vir-kanola-in-die-noorde/
Cronje M, 6 Februarie 2025. Kanolasaadtekort stragies aangepak. Beskikbaar by: https://sagrainmag.co.za/2025/02/06/kanolasaadtekort-strategies-aangepak/
Els G, 2025. Guide to profitable canola production. Advanta Seeds, Northen Cape, South Africa
FERTASA, 2019. Kanola. In Bemestingshandleiding (pp. 336-339). Lynnwoodrif

Tags: Mei/Jun 2026
Previous Post

Geenbewerking wérk as dit reg toegepas word

Next Post

Benader presisieboerdery met ’n vars aanslag


Recommended

Landbou vandag

Landbou vandag

11 May 2026
Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

11 May 2026
Benader presisieboerdery met ’n vars aanslag

Benader presisieboerdery met ’n vars aanslag

11 May 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Landbou vandag

Landbou vandag

11 May 2026
Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

Die sluipende gevaar van Fusarium-aarskroei

11 May 2026
Benader presisieboerdery met ’n vars aanslag

Benader presisieboerdery met ’n vars aanslag

11 May 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In