
Minder diesel, minder arbeid en minder meganiese ingryping klink na ’n eenvoudige antwoord vir ’n komplekse probleem. Tog is geenbewerking nie ’n kitsoplossing nie, maar ’n strategiese besluit wat deeglike beplanning en dissipline vereis.
Met die insetkoste wat jaarliks styg en graanpryse wat produsente se marges onder druk plaas, is dit verstaanbaar dat geenbewerking toenemend as ’n aantreklike alternatief gesien word.
Die kernvraag is nie of geenbewerking goedkoper is nie, maar of dit die doeltreffendste gebruik van beskikbare water en ander hulpbronne bevorder. In Suid-Afrikaanse graanproduksie bly water die grootste opbrengsbepaler, veral in die westelike produksiegebiede waar dit tot soveel as driekwart van die opbrengspotensiaal kan bepaal. Enige stelsel wat vogbestuur ignoreer, is oor die lang termyn tot teleurstelling gedoem.
Konvensionele grondbewerking het histories ’n duidelike doel gedien – dit het ’n goeie saadbed geskep, wortelontwikkeling bevorder, asook onkruidbeheer en waterinfiltrasie verbeter. Die probleem was nie noodwendig die bewerking self nie, maar die blootstelling van die grondoppervlak. Sonder beskerming word die grond deur die reëndruppelimpak en wind beïnvloed, wat waterinfiltrasie beperk en verdamping verhoog.
Geenbewerking probeer hierdie probleem oplos deur die grond so min as moontlik te versteur en oesreste op die oppervlak te behou. Wanneer dit reg gedoen word, beskerm plantmateriaal die grond teen afloop, beperk verdamping en verbeter infiltrasie. Met tyd bevorder dit ook biologiese aktiwiteit en verbeter waterbeweging dieper in die profiel. Dit is hier waar geenbewerking se werklike waarde lê.
Die uitdaging is egter dat geenbewerking dikwels slegs halfpad toegepas word. Lande word wel met geenbewerkingsplanters geplant, maar die oesresidu word nie behoorlik bestuur nie. Willekeurige verkeer oor die land, swaar trekkers en oppervlakkige losmaakaksies lei tot nuwe verdigtingslae. Die gevolg is ’n stelsel wat nie die voordele van bewaringslandbou lewer nie, maar wel die nadele van verminderde infiltrasie en laer beskikbare vog tot gevolg het.
Verdigting bly een van die grootste struikelblokke vir suksesvolle geenbewerking. In baie gronde kan dit slegs deur meganiese ingryping opgehef word – iets wat vóór die oorgang na geenbewerking gedoen móét word. Net so is chemiese regstellings, veral kalk en fosfaat, noodsaaklik voordat bewerking gestaak word. Sonder hierdie grondslag word geenbewerking ’n risiko eerder as ’n voordeel.
Geenbewerking vra ook ’n ander benadering tot bemesting. Stikstofbestuur word uiters belangrik, veral waar oesreste op die oppervlak stikstof tydelik kan vaslê. Hierdie realiteite vereis aanpassing, beplanning en soms ’n groter aanvanklike inset as wat produsente verwag.
Die werklikheid is eenvoudig: Geenbewerking wérk, maar net as dit volledig en doelbewus toegepas word. Onder baie spesifieke toestande kan die vermindering van die bewerkingsrisiko die bestuur en opbrengspotensiaal beskerm. Vir dié wat dit as ’n kortpad sien, kan dit duur lesse inhou.







