Om suksesvol te boer, is goeie landboukundige praktyke belangrik. Die span van Landboubestuursdienste is altyd oorgehaal om produsente by te staan om optimaal te boer.
In hierdie uitgawe gee Martiens du Plessis (bestuurder: Presisieboerdery) riglyne oor die beheer van winteronkruid en waarmee die Landboubestuursdienstespan produsente behulpsaam kan wees. Pieter le Roux (senior veekundige) deel wenke oor weidingsbestuur en dieregesondheid gedurende die wintermaande.
Akkerboupraktyke
WINTERONKRUID
Gryp winteronkruid betyds aan die strot. Oorgedraagde vog lewer ’n groot bydrae tot die nuwe seisoen se gewaspotensiaal en winteronkruid gaan ruim daarmee om. Oorhoofse bespuitings oor die ongestroopte gewasse is ’n goeie praktyk om winteronkruid te neutraliseer. In wye rye kan dit ook geskoffel word. Andersins moet dit direk ná stroop geskoffel word.
CHEMIESE PRESISIE
Dit is nou ’n baie goeie tyd om chemiese presisie op die gestroopte lande uit te voer. Dit gee die produsent genoeg tyd om moontlike regstellings te doen. NWK se Presisiespan is gereed om chemiese presisie vir NWK se produsente uit te voer. Dié span is ook agente vir Bastion-kalk, wat ’n wye keuse van kalktipes bied sodat die produsent die regte hoeveelhede op die regte plekke in die landerye kan toedien.
GRONDBEWERKINGSTELSEL
Daar is nog ’n laaste kans om wortelstudies in profielgate uit te voer om te evalueer tot watter mate die plantwortels die bewerkingstelsel ervaar.
Dit is ook die ideale tyd om die lande vir die voorkoms van verdigte sones te toets. NWK se Presisiespan is gerat om verdigtings met ’n penetrometer te kom meet en om die produsent oor die aangewese bewerkingsmetode te adviseer.
NDVI-BEELDE
NWK-produsente kan hul lande se NDVI-satellietbeelde gratis op die NWK Online-toep bestudeer om kolle in die lande wat nie na wense presteer het nie, te identifiseer. NWK se span landboukundiges is bemagtig om die produsent by te staan om hierdie afwykings te ondersoek en tersaaklike aanbevelings te maak sodat dit in die volgende seisoen reggestel kan word.
KONTAK ONS
Skakel NWK Landboubestuursdienste se Presisiespan by 018 633 1143 vir meer inligting.
Weidings en voeding
- Met die aanvang van die wintermaande word spaarkampe, staandehooi, oesreste en die voerbank ingespan om ruvoer te voorsien. Waar moontlik, moet spaarkampe eerste benut word. Fokus op vleie indien dit beskikbaar is, aangesien dit in die lente vinnig uitloop en weer vroeg in die somer weiding beskikbaar stel. Hierna kan oesreste en/of aangeplante weiding/staandehooi benut word en laastens word die opgebergde voerbank gebruik, indien nodig.
- Waar daar diere met hoër voedingsbehoeftes is (verse of koeie wat laat gekalf het en nog soog), kan hulle vroeër op die staandehooi gaan. Hulle kan ook vroeër met kuilvoer gehelp word.
- Dit beteken dat daar deeglik besin moet word oor hoe en wanneer die beskikbare bronne aangewend gaan word om genoeg goeie gehalte ruvoer regdeur die winter te kan voorsien.
- Winterveld en staandehooi is laag in ruproteïen en dus moet daar op die laatste teen Mei met proteïenaanvulling begin word vir diere wat hier wei. Hou die mis dop – wanneer dit begin droog en hard raak, moes aanvulling alreeds begin het. Tipiese winterlekke met ’n ruproteïeninhoud van 40% tot 45% kan teen ongeveer 500 g/bees/dag aangebied word.
- Onthou om diere altyd eers op ureumbevattende lekke aan te pas.
- Maak seker dat lekbakbestuur korrek gedoen word en dat diere daagliks die korrekte hoeveelhede inneem.
Dieregesondheid en bestuur
BEESTE
Somerdek
- Kalwers wat van April tot Junie gespeen word, word met Multimin en vitamien A ingespuit. Inentings teen knopvelsiekte, Slenkdalkoors, beesvirusdiarree (BVD), asook spons-, lam- en miltsiekte, moet gedoen word. Diere moet ook ontwurm word.
- Insekoordraagbare siektes soos knopvelsiekte en drie-dae-stywesiekte moet beheer word. Inentings teen hierdie siektes kan nou reeds vir die komende seisoen gedoen word.
- Doen dragtigheidsondersoeke in Mei en seleksie in Junie, in ag genome diere wat nie dragtig is nie en die hoeveelheid ruvoer wat tot November beskikbaar is.
- Verse wat nie tussen vier en agt maande met Stam 19 teen besmetlike misgeboorte ingeënt was nie, ontvang hul eerste dosis RB51 op tien maande en hul tweede of skraagdosis RB51 op twaalf tot 16 maande ouderdom. Hulle word ook teen BVD ingespuit, ontwurm en waar nodig vir lewerslak behandel. Dit is ook belangrik om elke drie maande Multimin en vitamien A te gee.
- As reël moet dosering en/of ontwurming in Mei, of twee weke ná die eerste ryp, gedoen word. Gebruik verkieslik ’n inspuitbare middel.
Winterdek
- Verse word in Mei/Junie gedek en die bulle kom ’n maand later, met ander woorde vanaf Junie, by die koeie. Verse word slegs vir 65 dae gedek ten einde seleksie vir reproduksievermoë te verbeter. Verse moet op 65% van hul volwasse gewig wees en ook in ’n positiewe energiebalans (met ander woorde, in gewig toeneem) voordat die bulle ingesit word.
- Goeie toesig tydens kalwing is belangrik. In Mei kalf die laaste koeie en die werkers raak moeg. Verseker dat toesig tot by die laaste koei op standaard bly.
- Onthoring kalwers weekliks tydens die kalfperiode.
SKAPE
- Alle skape ouer as drie maande moet teen bloednier ingeënt word, veral waar beoog word om byvoorbeeld oesreste of groen aangeplante weidings in die winter te benut. Ent ongeveer twee weke voor beweiding op oesreste begin en volg dit op met ’n skraagdosis ses weke later.
- Met die oog op winterdek, moet alle ooie en ramme betyds hul vitamien- en minerale-aanvullings ontvang.
- Lammers wat gespeen moet word, moet die volgende inentings ontvang:
-
- Ensoötiese aborsie 1 en 2.
- Bloednier 1 en 2.
- Bloutong A, B en C.
- Slenkdalkoors 1 en 2.
- Doseer en herhaal sowat vier weke later.
-