Die Suid-Afrikaans Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se Generaal De La Reytak in Lichtenburg in Noordwes het in samewerking met NWK, Lichtenburg Toyota en Outdoor Guns hul elfde kopskietkompetisie aangebied.
Meer as 200 skuts van 14 SAJWV-takke van sover as Thabazimbi, Pretoria, Middelburg en Kuruman het hulle by plaaslike skuts aangesluit vir die gewilde jaggebaseerde kompetisie waar skuts hul akkuraatheid op drie kop-teikens (vlakvark, blouwildebees en rooihartebees) oor 200 jaarts (184 meter) getoets het. Hulle skiet drie skote op elk van die drie bokkoppe op die teiken.
NWK Bemarkingsbestuurder, Jacques de Wet, wat onder meer NWK Online behartig het vanjaar nuwe teikens vir die klub laat ontwerp wat deur NWK Shop, die maatskappy se aanlyn inkopieplatform geskenk is. Gerda Swanepoel van die Generaal de le Reytak sê die sport groei definitief. “Ons kry jaarliks nuwe lede wat aansluit by die tak en wat kom deelneem aan ons kompetisies.”
Uit die 147 inskrywings, het die volgende manne koning gekraai onder die manlike skuts:
- Arnold Smit – Diamant tak (Wolmaranstad) (algehele wenner van die dag)
- Gerhard van Heerden – Diamant tak (Wolmaranstad)
- Willie Booysen – Witrenoster tak (Klerksdorp)

Daar het 34 vroulike skuts deelgeneem. Die volgende dames het met die louere weggestap:
- Bri-Anne van Heerden – Diamant tak (Wolmaranstad)
- Lizann Fourie – Genl de la Rey tak (Lichtenburg)
- Amanda Slabbert – Transvaal tak (Randfontein)

Onder die junior skuts was daar 22 deelnemers. Die top skuts was:
- Janro Haasbroek – Genl de la Rey tak (Lichtenburg)
- Rikus Ras – Genl de la Rey tak (Lichtenburg)
- Leané Friedman – Genl de la Rey tak (Lichtenburg).

Swanepoel het haar dank uitgespreek teenoor NWK Online en NWK Shop vir hul skenkings en sê die nuwe teikens was ’n ware uitdaging vir die skuts.







