NWK het hierdie week sy grooste wins ooit van die pas afgelope finansiële jaar gevier deur 512 pare skoolskoene aan minderbehoeftige laerskoolleerlinge in die Coligny-, Boikhutso- en Dudfield-omgewing naby Lichtenburg uit te deel.
Dit het gereën en was snerpend koud in Thlabologang buite Coligny op Woensdag, 27 Julie 2022 toe NWK by Matlape Primary School aangedoen het om 147 pare skoolskoene, kouse, mussies, skoenpolitoer en -borsels aan die leerlinge uit te deel. Van hulle was in kortbroekies of -rompies en plakkies geklee of het nie eens kouse aangehad nie.
Groen stringsakke van seil waarin hulle benodigdhede soos toiletware of skoolboeke kan dra, was deel van die skenking. Die totale waarde beloop sowat R204 000.
NWK onderneem hierdie projek al sedert 2012/2013 en het al meer as 5 000 leerlinge met dié noodsaaklikhede toegerus. Dit word elke jaar, met die uitsondering van 2020, in samewerking met die provinsiale departement van onderwys en mnr Samuel Nkone, voormalige areabestuurder van Ditsobotla by Noordwes se Onderwysdepartement, aangebied.
Die 122 leerlinge van die plaasskooltjie Tirelo Primary School naby Gerdau het Woensdag ook elkeen ‘n pakkie ontvang. Vrydag (29 Julie 2022) het NWK by Dudfield Primary School aangedoen waar 109 leerders elk ‘n pakkie ontvang het, terwyl 134 leerlinge van Phatsima Primary School ook splinternuwe skoolskoene en die ander toebehore ontvang het.

“Dit is maar ‘n klein verskil wat ons maak, maar ons moet iewers begin,” het Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, gesê.
Benedict Modise, direkteur van Ekonomiese Ontwikkeling by NWK, het verduidelik dat nuwe skoene mense met waardigheid toerus. Hy het die leerlinge aangemoedig om hulle matriek te voltooi en NWK as werkgewer te oorweeg. Hy het uitgebrei op die vele beroepsmoontlikhede wat die maatskappy bied en gesê dat, sou hulle eendag by NWK werk, hulle met trots kan sê dat hulle reeds as klein kinders uit die maatskappy voordeel getrek het.

Die skoolhoof van Matlape, mnr. Solomon Lesego, het NWK beskryf as die “beste in die weste” en sy opregte dank teenoor die maatskappy uitgespreek. “Ons wens is dat die hemelse Vader julle ryklik sal seën. Julle maak ‘n groot verskil in hierdie kinders se lewens.”
Die koor van Tirelo, het na afloop van die verrigtinge ‘n pragtige vertoning gelewer om ook hulle dank te betuig.


