Daar is sedert Januarie vanjaar ‘n ongelooflike R3,6 miljoen se diesel net by NWK se silo’s verbruik om kragopwekkers tydens kragonderbrekings, wat meestal deur beurtkrag veroorsaak is, aan die gang te hou. Daarsonder sou die afgelope stroopseisoen nie so glad verloop het nie.
Dié syfer (toe R3,5 miljoen) is tydens NWK se reeks inligtingsvergaderings, wat vanaf 1 tot 5 Augustus in NWK se bedieningsgebied gehou is, bekendgemaak.
Kabeldiewe het boonop tydens beurtkrag hulself aan kragdrade gehelp wat verlengde kragonderbrekings tot gevolg het. Onvoorsiene kragonderbrekings het tot vertragings van 45 minute gelei voordat graanhysers weer skoon en gereed was vir in- en uitlaai.
Hoë reënvalsyfer lei tot tweedegraadse mielies
Boonop sit graanprodusente en gradeerders by NWK se silo’s met ‘n ander tameletjie weens die afgelope graanseisoen se bogemiddelde reënval en laat reën gedurende die winter: ‘n langer en vertraagde oesproses en heelwat tweedegraadse mielies.
Inteendeel, waar slegs 7,4% van NWK se totale witmielie-ontvangstes van die 2021/2022 seisoen graad twee was (WM2), was 31,49% van die graan ontvang teen 4 Augustus, reeds WM2.
Veral produsente in die Migdol-, Delareyville-, Ottosdal-, Sannieshof en Gerdau-omgewing moes tevrede wees met ‘n tweedegraadse gradering.
Nico Pieterse, seniorbestuurder van NWK Graan, het egter benadruk dat daar niks aan die graderingsregulasies van mielies verander is nie. “NWK gebruik dieselfde regulasies wat in die staatskoerant gepubliseer is, soos die aantal etlike jare wat verby is. Ons het niks verander nie. Al wat verander het, is die kwaliteit van die oes.”
Hy het bygevoeg dat dieselfde graad mielies wat ‘n silo ontvang, weer daaruit gelaai moet word, anders is dit ‘n verlies. “Ons kan nie WM2 ontvang, dit eerstegraadse witmielies (WM1) maak en uitlaai as ‘n WM2 nie. Boere dink ons gradeer strenger, maar dit is nie waar nie. Die klimaat was reg vir opbrengs, maar nie vir graad nie.”
‘n Mark op hete kole
Daar is nog heelwat tonne graan wat in NWK se bedieningsgebied geoes moet word en daarom is die omvang van die probleem nog nie heeltemal bekend nie.
Tog is daar reeds meer as 78% WM1 in die oostelike en besproeiingsgebiede van die land, waar mielies geplant was en vroeër oesgereed was, geoes. Hierdie syfer behoort wel afwaarts aangepas te word soos wat daar toenemend graan in Noordwes geoes word.
“Die graad diskonto is tans negatief omdat daar ‘n groot aanbod en laer vraag is. Die gevoel is tans dat daar genoeg WM1 is, so waarom moet meulenaars WM2 en WM3 koop?
“Meulenaars het kontrakte vir WM1 onderteken en soek daarom dié produk. Hulle wil nie nou laegraadse mielies koop nie omdat hulle dan rente en stoorkoste moet betaal. Produsente dra dus op die ou end hierdie koste. Dit is die realiteit van die mark,” het Nico verduidelik.
Meulenaars is boonop nie gretig om laer grade aan te koop nie, omdat hulle meen dat hulle verwerkte produkte dan nie aan kwaliteitstandaarde voldoen nie en hulle bang is hul handelsmerkte sal skade ly.
Daar is meulenaars wat verskeie Safex-kontrakte vir WM1 teen R3 500/t aangegaan het en is daarom strategies en prysgewys in ‘n meer voordelige posisie as meulenaars wat kontrakte teen R4 500 per ton aangegaan het. “Laasgenoemde dring daarom aan op WM1 en dit is alles aspekte wat NWK se graanbemarkers fyn moet bestuur,” het Nico gesê.
Hy het ook verduidelik waarom NWK nie self uit die staanspoor WM2 kon aankoop nie. “Ons gaan na verwagting 600 000 ton WM2 in ons area ontvang. Sou ons dit aan die begin van die seisoen se diskonto van R50/t aangekoop het, sou ons dus met ‘n R150/t diskonto verkeerd gewees het en sou ons uiteindelik R90 miljoen moes afskryf. Net 100 000 ton kom neer op ‘n negatiewe kontantvloei van R375 miljoen wat in die silo’s sou lê waarop ons nie ‘n inkomste sou kon verdien nie.”
Boonop word mielies weer vanaf Oekraïene uitgevoer en ook dit kan ‘n skielike effek op die mark hê.
Produsente wat voorseisoenkontrakte geteken het, het die opsie om WM1-kontrak uit te was en die gepaardgaande winste of verliese te vat. WM2 kan dan verkoop word teen die huidige mark diskonto. NWK het voorsiening gemaak vir 90 000 ton se WM2-kontrakte teen ‘n R200/t tot R250/t diskonto. “Dit is per silo op ‘n matriks uiteengesit en ons probeer ons voorseisoenkontrakte só bestuur.”
Nico het produsente egter aangeraai om vas te byt. “Daar is geleenthede op die horison. Zimbabwe kort byvoorbeeld heelwat mielies. Die mark behoort te draai. Dit is ‘n unieke seisoen en die geskiedenis het bewys dat diskonto’s ná strooptyd verbeter.”
Bergingkapasiteit by silo’s verhoog
Daar is bergingfasiliteite met 30 000 ton kapasiteit elk by Grootpan en Boschpoort se silo’s aangebou. Die fasiliteit by Grootpan, wat sowat 1 000 ton per dag inneem, is reeds met 22 000 ton graan gevul.
Daar is ook store by padsilo’s by Biesiesvlei (16 000 ton), Rostrataville (10 000 ton) en Nooitgedacht (19 000 ton) gebou omdat hulle vinnig vol geraak en daar gevolglik bottelnekke by die skale ontstaan het.
NWK ontvang toenemend graan vanaf buite sy tradisionele bedieningsgebied. Daarom is bestaande graanstore by Migdol (15 000 ton) en Boschpoort (10 000 ton) opgeknap en kan daar nou 150 ton graan per uur ontvang word.
By Ottosdal is 60 000 ton se graansakke geplaas en 30 000 ton se bykomende kapasiteit is by Mareetsane geskep.
“Daar is dus spasie geskep vir 220 000 ton graan wat ons nie voorheen gehad het nie. Dit gaan druk op silo’s geweldig verminder. Silo- en assistentsilobestuurders asook gradeerders het vroeg in die nuwe seisoen opknappingskursusse ondergaan.”
Sowat 114 000 ton graan is reeds in Februarie by sekere silo’s geskuif. Hiervan was sowat 66 000 ton sonneblom. Omdat hierdie gewas dubbel soveel spasie as mielies opneem, is daar inderwaarheid 180 000 ton se bykomende spasie geskep.
Gelyktydige graanontvangste en-onttrekkings lol
Daar is 1 miljoen ton graan sedert Januarie uit NWK se silo’s gelaai. Die grootste hoeveelheid (200 000 ton) is in Mei uitgelaai. “Daar was toe ook sowat 150 000 ton se sonneblom- en sojaboonlewerings en die gevolglike bottelnekke by silo’s het produsente vies gemaak,” het Nico gesê.
Hy het verduidelik dat NWK tradisioneel die spens van die graanmark is en dat versendings hier eers later in die bemarkingseisoen geskied.
“Graan word eerstens by silo’s in Gauteng onttrek waarna dit aan afnemers verkoop en op die JSE verskans word.
“Wanneer die beurs dus graan vanaf ‘n bepaalde silo versoek, móét jy dit gee.” Graan by ‘n silo met ‘n meulenaar naby, soos op Delareyville, behaal ‘n groter premie as by ander silo’s.”
NWK het egter met afnemers onderhandel en premies terugbetaal sodat hulle graan vanaf ander silo’s moes neem. “Die vervoerdifferensiaal word dus groter verder vanaf Gauteng. NWK het dit inbetaal ten einde produsente tegemoet te kom en dit het ons baie gekos. Dit het egter druk op uitlaaipunte verlig en dit was redelik suksesvol.”
Silo’s was 24 uur operasioneel om die mas op te kom.
Vermaaklikheidster by jaarvergadering
NWK se algemene jaarvergadering vind op 1 September 2022 om 10:30 by NWK se opleidingsentrum plaas. Die bekende sanger, storieverteller en grapjas Pietman Geldenhuys gaan hier optree.
Van die besluite wat tydens die vergadering bespreek sal word, sluit in:
- Die verkryging van spesifieke magtiging om gewone aandele van NWK Beherend terug te koop by afgetrede aandeelhouers van 70 jaar en ouer.
- Die nominasie en verkiesing van direkteure en die aanstelling van nie-wyksdirekteure.
- Ampsbepalings, uittredes en ander prosedures.
- Rotasie van direkteure.
- Aanstelling van ouditeure.