Een van die belangrikste administratiewe funksies van ’n veeprodusent is gereelde voervloeibeplan-ning. Voerkoste is die veeprodusent se groot-ste enkele uitgawe en dit regverdig dus noukeurige beplanning om die koste so laag as moontlik te hou.
Die eerste stap is om te bepaal wat die voedingsbehoeftes van al die diere op die plaas is, aangesien dit bepaal hoeveel voer benodig word en ook wanneer dit benodig word. Voervloeibeplanning (VVB) word tipies slegs ten opsigte van ruvoerbehoeftes gedoen, maar dit kan aangekoopte konsentrate insluit. Dit is ’n strategiese beplanning waar kort-, medium- en langtermynopsies oorweeg word. Voervloeibeplanning behoort tipies een keer per jaar gedoen te word.
Faktore wat die VVB beïnvloed
Faktore wat besluite rakende die voervloeibeplanning beïnvloed, wissel van plaas tot plaas en sluit alles in – van die situasie op die plaas tot op nasionale en selfs internasionale vlak.
INTERNASIONALE TENDENSE EN GEBEURE
Internasionale tendense en gebeure beïnvloed die beskikbaarheid en pryse van grootmaat-veevoere. Só byvoorbeeld sal droogtes in Brasilië of die Verenigde State van Amerika (VSA) die pryse en beskikbaarheid van soja-oliekoekmeel of mielies nadelig raak.
Meer onlangs het die oorlog in Oekraïne die beskikbaarheid en dus internasionale pryse van onder andere koring en sonneblom nadelig geraak. Dit het natuurlik ’n direkte invloed op die plaaslike pryse en beskikbaarheid van hierdie produkte. In voervloeibeplanning kan mielies byvoorbeeld vir graan, heel droë plante en kuilvoer aangewend word. Nog ’n voorbeeld is die invloed van wisselkoerse, wat die pryse van ingevoerde produkte soos soja beïnvloed.
PLAASLIKE TOESTANDE
Plaaslike toestande en die land se ekonomie moet ook in ag geneem word. Rentekoerse beïnvloed besluite soos of voer opgeberg kan word of eerder verkoop moet word. Die huidige toestand van infrastruktuur – beide pad en spoor – is vir baie produsente beperkend op hul ondernemings. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat swak paaie die vervoer van ingekoopte voerbronne onmoontlik maak (Hofmeyr, 2019). Dan moet hierdie of alternatiewe bronne noodwendig self geproduseer word.
Die huidige hoë voorkoms van misdaad verhoog ook die risiko hoër as normaalweg. Faktore soos brande en diefstal moet oorweeg word wanneer op gewasse vir ’n voervloeibeplanning besluit word.
Die geleentheidskoste om byvoorbeeld eerder mielies vir graan te verkoop, teenoor om dit deur vee te sit (of andersom), moet ook oorweeg word. Bergingskoste is nog ’n oorweging wat hiermee verband hou. Die koste van finansiering in terme van verliese weens verwering en wind, saam met die rentefaktor, moet verreken word, byvoorbeeld waar hooi opgeberg word. Dit is moontlik goedkoper om eerder later voer aan te koop as om dit nou op te berg.
Produsente het al by geleentheid tydens droogtes besluit om eerder hul voerbank van die hand te sit en só te oorleef, al het dit beteken dat hul kuddes verklein moes word (Hofmeyr, 2019). Dit is net nog ’n voorbeeld van hoe strategiese besluite telkens deel uitmaak van voervloeibeplanning, en dit verskil van jaar tot jaar en van plaas tot plaas.

Kuddevloeibeplanning
Die aantal diere en hul fisiologiese stadium is deel van die dinamika van veeboerdery. Dit vorm ook die basis van ’n VVB. Daar is geen sin om ’n VVB op te stel indien die voedingsbehoeftes van die vee onbekend is nie. Voervloeimodelle bereken daarom eers die vee se behoeftes en pas daarna die voerproduksie daarby aan.
Die tipiese kuddevloeibeplanning (KVB) sal oor ’n tydperk van twaalf maande of meer strek. Waar skaap- en beeskuddes seisoenaal lam of kalf, volg die behoeftes van koeie, vervangingsdiere, bulle en ramme ’n spesifieke patroon. Daar is byvoorbeeld ’n drie maande lange dektyd vir ’n beeskudde en ooreenkomstig ook ’n drie maande lange kalftyd, en die voedingsbehoeftes van die koeie verskil dienooreenkomstig.
Hoewel VVB’s en KVB’s tot op enige vlak van detail gedoen kan word, word daar meestal begin deur in albei gevalle vir beide die droëmateriaal (DM)-behoeftes en DM-produksie voorsiening te maak.
Die KVB sal byvoorbeeld vanaf Januarie tot Desember strek (dus ’n kalenderjaar) of seisoenaal vanaf Oktober tot September, of wat ook al die boer die beste pas. Die belangrikste fisiologiese fases van produksie vir al die weidiere op die plaas word vertikaal gelys en die maande van die jaar word horisontaal gelys.
Die aantal diere in elke fase word dan vir elke maand aangedui. Hierna word die getalle omgeskakel na grootvee- en kleinvee-eenhede en die DM-behoefte vir elkeen word per maand bereken. Die maandelikse DM-behoefte word dan op ’n grafiek aangedui.
Vervolgens word al die ruvoerbronne vertikaal gelys en hul verwagte opbrengs, in ton DM per maand geproduseer, bereken. Dit word dan teenoor die DM-behoefte wat in die KVB bereken is, op dieselfde grafiek aangedui. Hieruit kan daar maklik afgelei word of die totale DM-produksie per jaar aan die jaarlikse behoefte voldoen. Verder dui dit ook aan in watter maande daar tekorte of oorskotte verwag kan word.
Wanneer hierdie prentjie ontvou, is die volgende stap om die voerproduksie by die behoefte aan te pas deur die beskikbare opsies vir gewasse, plantdatums, opbrengste, ensovoorts te manipuleer tot daar voldoende voer vir elke maand van die jaar aangebied word.
Wanneer die beskikbare hulpbronne op die plaas nie aan die voeraanvraag voldoen nie, moet die veegetalle verminder word tot die KVB en die VVB balanseer. Daar moet verder voorsiening gemaak word vir ’n voerbank van nie minder nie as 10% bo die vee se DM-behoeftes.
Keuses in die VVB kan die boerdery se kapitaaluitgawes verhoog. Die maak van kuilvoer, kuilhooi en selfs hooi sluit byvoorbeeld die oprigting van bunkers, ’n stoor of store in. Hierdie aksies kan lei tot die behoefte aan toerusting soos ’n voermengwa, kuilvoerkerwers, groter trekkers of ’n kuilvoerbaalmasjien. Hierdie kostes moet, waar van toepassing, verreken word.
Samevatting
Dit is duidelik dat daar talle faktore is wat met die opstel van ’n strategiese voervloeibeplanning oorweeg moet word. Produsente word aangemoedig om, waar nodig, hulp en raad te vra om hierdie belangrike bestuursfunksie uit te voer.
Bronnelys
Hofmeyr I, 2019. Strategiese voervloeibeplanning begin by goeie veevloeibeplanning. Veeplaas, Januarie 2019