
Die grootste bekommernis van die staat tans is moontlike voedseltekorte. Dit is volgens Jaco Minnaar, president van Agri SA, landbou se grootste bate en ‘n aspek wat hy sal moet dryf in aanloop tot die nasionale verkiesing in 2024. Hy het die jaarlikse kongres van Agri NW by Senwes op Klerksdorp op 27 September toegespreek. NWK was ‘n platinum borg.
Die tema van die kongres was “vennootskappe – jou deelname maak die verskil” en Jaco se aanbieding was hierop geskoei.
Wees deel van die oplossing
“As jy nie by die tafel aansit nie, is jy op die spyskaart. Ons móét deel van die oplossing wees.” Jaco het dié woorde van die landboureus Kallie Schoeman, herhaal en verduidelik dat die landbousektor nou die oënskynlik dalende steun vir die ANC tot sy voordeel moet gebruik om sy agenda op die tafel te kry ten einde ‘n beter bedeling vir die land én dié sektor te kry.
Hy het bygevoeg dat die ANC ná afloop van die nasionale verkiesing waarskynlik nie meer ‘n party gaan wees met “die mag ten alle koste nie” en dat al meer koalisies gevorm sal word.
“Die ANC soek geleenthede om mense beter te dien,” het Jaco gesê en bygevoeg dat, daar waar die staat uitreik, landbou dit met albei hande moet aangryp om sy insette te kan gee. “Die geleentheid om te kan beïnvloed, moet ons gebruik. Ons moet deel wees van die gesprekke.”
Niemand gaan ons kom red nie
Hy het verwys na die oorlog tussen Rusland en Oekraïne en die res van die wêreld se huiwering om in te gryp.
“Niemand het daadwerklik ingetree en ingegryp nie. Ons as Suid-Afrikaners moet dit raaksien. Daar was op ‘n stadium ‘n groot dryf om buiteland toe te gaan en mense daar te werf om ons mense (regering) te probeer beïnvloed om te sê dat grondonteiening sonder vergoeding nie gaan werk nie. Ons moet raaksien wat in Oekraïne gebeur het. Dit is nie ‘n opsie nie. Dit gaan van onsself afhang.”
Volgens Jaco is die Suid-Afrikaanse regering se optrede en hoe hulle reageer teenoor dit wat in Rusland gebeur, baie meer ideologies as wat ons mag dink.
“Dit gaan nie oor die menseregte van Oekraïne en die soewereiniteit van ‘n staat en sy grense nie. Dit gaan oor ideologieë en geskiedkundige vennootskappe. Ons redding is nie noodwendig om op die buiteland staat te maak nie.”
Hy het verwys na die impak van verskeie buitelandse sowel as binnelandse gebeurtenisse op landbou en benadruk dat verandering konstant is en al hoe vinniger plaasvind.
“Die toekoms raak onvoorspelbaar en jy moet vinnig kan aanpas. Jy moet vinnig in ‘n bepaalde situasie kan reageer.
Kies dus jou vennote reg
Hoe lyk jou opset op die plaas? Hoe pas jy jou boerdery aan by veranderlikes soos bek-en-klouseer? Wat is jou daadwerklike plan?
Jaco het boere aangeraai om vennote soos Agri SA en Agri NW te kies wat hulle sal kan versterk in hul pogings om negatiewe veranderlikes die hoof te bied.
Hy het benadruk dat Agri SA nie sy werk kan doen sonder mandate nie en dat kongresse soos dié van Agri NW juis om hierdie rede gehou word.
“Ons is wel vas in ons beginsels en wyk nie daarvan af nie. Ons glo in oplossings, nie in probleme nie. Dis maklik om ‘n probleem te identifiseer, maar ons glo in oplossings en om vennote in ons waardeketting te gebruik en oplossings saam aan te pak.”
Agri SA se fokus
Jaco het gewaarsku dat misdaad gaan toeneem en dat die hele samelewing hulle daarvoor sal moet rat. “Ons sien dit in die toenemende aantal gewelddadige opstande. Ons kan nie alleen op die polisie kan staatmaak nie. Hulle het nie die vermoë, kapasiteit en kundigheid nie.”
Tog poog hulle om goeie verhoudings met die polisie te handhaaf. “Ons kan nie wag tot iets gebeur voor ons kontak maak met die polisie en uitvind wie die stasiebevelvoerder is nie. Daardie verhoudinge moet vooraf opgebou word.”
Hoewel hy positief is oor die onlangse aanstelling van die nasionale polisiekommissaris, genl. Fanie Masemola, meen hy dat die res van die polisiediens “siek” is. “Ons moet egter druk op hulle bly sit. Dit is hulle werk om ons te beskerm.”
Agri SA het te midde van probleme met die uitreiking van vuurwapenlisensies ‘n webinaar aangebied oor wyses waarop eiendom op nie-gewelddadige wyses beskerm kan word.
Grondhervorming bly ‘n tameletjie
Agri SA glo die fokus van grondhervorming moet op groei geskoei wees. “Jy kan nie die koek verdeel nie, jy moet dit groter maak,” het Jaco verduidelik. “Daar moet meer boere tot die bedryf gevoeg word. Dan alleenlik kan jy fokus op transformasie en oordragte.”
Hy het boere die versekering gegee dat Agri SA alles in sy vermoë sal doen om grondonteiening sonder vergoeding te stuit. “Ons gaan waarskynlik in die grondwethof eindig, maar gelukkig saam met ‘n klomp ander vennote.”
Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het ook die kongres toegespreek en gesê dat die organisasie “baie versigtig” sal moet wees oor wanneer hy tot die stryd toetree.
Hulle is gedurig besig om regsprosesse te hersien en sodra Agri SA ‘n regsopinie het en hulle advokate die groen lig gee, sal hulle hul tot die howe wend.
“Agri SA het ‘n regsfonds met baie geld waarmee ons fundamentele regsbeginsels beskerm. Daar is egter nie ‘n manier dat ons hof toe kan hardloop soos elke regsuitdaging hom voordoen nie. ‘n Mens moet dit slim bestuur, anders gaan jy die fonds uitput.”
Landbou moenie weer die fokus van politieke agendas wees nie
Jaco het verwys na die feit dat grondonteiening sonder vergoeding die ANC se hooffokus tydens die algemene verkiesing in 2019 was.
“Daar is nog nie ‘n tema vir die volgende verkiesing nie. Landbou moet egter nie weer die fokus wees nie, want dit het ‘n negatiewe impak op belegging in die sektor gehad.”
Hy het gemaan daarteen om landbou onnodig in die kollig te plaas. “Ons moet waak teen inmenging van die staat. Ons sê maklik dat graanpryse te laag is of dat of invoere van graan gestop moet word. Die staat lees koerante en sosiale media en wil reageer.”
Met verwysing na die voortslepende beurtkrag, het Jaco gewaarsku dat Eskom nie meer betroubaar sal raak in die toekoms nie en dat boere dringend alternatiewe sal moet ondersoek om elektrisiteit self te kan voorsien.
- Willem de Chavonnes Vrugt is tydens die kongres weer tot president van Agri NW verkies.