Vakansietyd is ’n tydperk waarna ons almal vreeslik uitsien. Dit is egter ook ’n uitdagende tydperk weens die hoë inbraaksyfers en motorongelukke op die land se paaie. Korttermynversekering is net so belangrik soos ’n mediese fonds. Maak dus seker dat jy wel reg verseker is voor jy jou welverdiende ruskans neem.
Hoe weet jy dat jy reg verseker is, en wat gebeur wanneer jy onderverseker is en ’n eis indien? ’n Maklike manier om te bepaal wat alles op jou huisinhoudversekering verseker moet wees, is: Indien jy jou huis kon omdop, moet alles wat val (met ander woorde, los is) verseker wees. Die waarde van die artikels is egter nie die oorspronklike aankoopprys van jare gelede nie, maar die huidige vervangingswaarde.
Dit is belangrik om ’n opgedateerde inventaris met die waardes by te hou. Met die jaarlikse hersiening van jou korttermynversekering saam met jou makelaar, kan die waardes weer nagegaan word om te verseker dat die pryse korrek is.
Huisinbrake en diefstal
Tydens vakansieseisoene neem huisinbrake en diefstal ongelukkig toe. Maak dus seker van die volgende:
- Ken en weet jy wat is jou polisbewoording?
- Weet jy waarvoor jy dekking het en waarvoor nie?
- Wat is die voorwaardes wat in jou polisskedule vervat word?
Dit is belangrik om op die volgende te let:
- Watter items is verseker en wat is die waardes waarvoor dit verseker is?
- Waar is hierdie items verseker? Is dit net gedek in die woning of moet jy dit spesifiseer om dekking buite die woning ook te geniet?
- Wat is die omvang van jou versekering? Met ander woorde, waarvoor is jy verseker, bv. diefstal, natuurlike rampe en nalatigheid?
- Is daar spesifieke voorwaardes of uitsluitings op jou polis? Hier dink ’n mens byvoorbeeld aan juwele bo ’n spesifieke waarde soos in jou polisbewoording vervat, wat in die kluis toegesluit moet wees indien dit nie gedra word nie.
- Maak seker of jy motorhuurdekking ingesluit het. Moenie ’n nare verrassing kry wanneer jy dalk in ’n ongeluk is en jy nie ’n voertuig het waarmee jy oor die weg kan kom nie.
Beveilig jou omgewing
Sluit aan by jou omgewing se buurt- of plaaswag. Hou die naaste polisiekantoor se kontaknommer, asook jou makelaar se kontakbesonderhede, byderhand. Stel hierdie inligting op meer as een plek beskikbaar, sodat jy steeds die nommers tot jou beskikking het indien jou foon gesteel word.
Hoewel geen voorsorgmaatreëls wat getref word ’n waarborg is dat jy nie ’n slagoffer sal wees nie, is dit belangrik dat jy oor die nodige kennis moet beskik en ook jou omgewing en woning moet beveilig. Hier is ook ’n paar maatreëls wat jy in plek kan stel om jou woning en omgewing te beveilig:
JOU WONING
- Maak altyd seker dat jou woning veilig en gesluit is, en dat alle vensters toe is – selfs die klein badkamervensters – voordat jy met vakansie gaan. Indien jy skuifdeure het, is dit ’n goeie idee om ’n bykomende slot by jou skuifdeure te laat installeer.
- Laat toets jou alarmstelsel voordat jy met verlof gaan om seker te maak dit is in ’n goeie werkende toestand.
- Moet nooit sleutels in hekke en deure laat nie. Bêre dit op ’n veilige plek wanneer jy nie tuis is nie. Indien jou woning se sleutels wegraak of daar by die woning ingebreek word, vervang al die slotte.
- Tuingereedskap moet weggebêre word. Daar is baie gevalle waar ’n huiseienaar se eie gereedskap gebruik is om toegang tot die woning te verkry.
HELPENDE HANDE
- Stel jou sekuriteitsmaatskappy en die buurt- of plaaswag in kennis van die tydperk wat jy weg gaan wees. Voorsien hulle ook met die name van kontakpersone wat wel toegang tot jou eiendom het.
- Laat weet jou bure dat julle weg is en vra hulle om ’n ogie oor die woning te hou. Vra hulle ook om die posbus daagliks leeg te maak. Indien moontlik, kan hulle saans ook die gordyne toetrek.
- Vra iemand om op verskillende tye van die dag ’n draai by jou woning te gaan maak en ’n tydjie daar te spandeer.
VEILIGE OMGEWING
- Maak seker dat daar sekuriteits- of buiteligte op strategiese plekke geplaas is. Sensorligte is ’n belangrike en goeie afskrikmiddel.
- Snoei bosse en struike naby deure en ingange na die persele sodat dit nie ’n wegkruipplek vir kwaaddoeners kan word nie.
- Maak seker dat jou hek nie van die spoor af gelig kan word nie. Beveilig ook jou hekmotors met ’n ekstra toesluittoestel. Maak seker dat die hekmotor se sensorliggie nie toegeplak is nie, aangesien dit sy werking deaktiveer.
- Drukpompe moet sover moontlik vas gemonteer word of op ’n ander wyse beveilig word.
- Moenie ligte in jou woning aan los nie. Dit verklap vinnig dat daar niemand tuis is nie, want dieselfde lig brand vir dae aaneen.
- Ontkoppel elektriese toestelle wat nie gebruik word nie.
- Verwyder bederfbare produkte uit die ys- en vrieskas indien jy vir ’n lang tyd weggaan.
- Moenie waardevolle artikels in jou woning laat rondlê nie. Sluit dit eerder in die kluis toe.
ALGEMENE WENKE
- Moenie die verpakking van ’n nuwe toestel soos ’n televisie oop en bloot by jou vullisdrom laat nie. Dit verklap wat nuut in jou woning is.
- Bewaar bewyse van jou eiendom – foto’s, reeksnommers en waardasiesertifikate.
- Wees waaksaam wanneer jy by jou perseel inry. Kyk of daar nie persone rondstaan of die woning nader om toegang te kry of jou te kaap nie.
Inbrake
Wat doen jy die oomblik wanneer jy agterkom daar is by jou woning ingebreek?
Kontak dadelik die polisie, jou sekuriteitsmaatskappy en die buurt- of plaaswag, asook jou makelaar. Moet niemand toelaat om die woning/perseel te betree alvorens die polisie nie op die toneel is nie, aangesien talle waardevolle bewysstukke soos vingerafdrukke en voetspore vernietig kan word, wat met die aankeer van die verdagte persone kan help.
Versamel die bewyse van jou skade:
Neem foto’s van die skade wat aangerig is en maak lysies van alles wat weg en/of beskadig is. Dit moet saam met jou eis ingedien word. Hierdie lys moet ook aan die polisie verskaf word.
Voorkom verdere verliese:
- Indien bankkaarte gesteel is, kanselleer dit onmiddellik.
- Moenie jou selfoon dadelik swartlys nie, maar meld dit aan as gesteel en plaas ’n limiet op die lugtyd en data. Wanneer ’n selfoon geswartlys is, kan dit nie opgespoor word nie. Gee die polisie ’n kans om die foon na te spoor. Die foon moet egter vir versekeringsdoeleindes geswartlys word.
- Indien jou identiteitsdokument en paspoort gesteel is, vra ’n afskrif van jou verklaring by die polisie aan, aangesien jy dit gaan nodig hê wanneer jy aansoek doen vir nuwes.
Wat moet jy van wie eis?
Sommige persone se versekering is verdeel in byvoorbeeld geboueversekering by die bank en huisinhoud by ’n ander versekeringsmaatskappy. Weet wat is waar verseker sodat jy makliker jou eise kan indien.
Hou veilig vakansie
- Met beurtkrag wat aan die orde van die dag is, is dit belangrik om jou elektriese toestelle af te skakel en uit die muurproppe te trek voordat julle rustyd begin.
- Bly altyd waaksaam – misdaad gebeur oral en skelms is opportuniste. Moet nooit jou selfoon en beursie in jou agterste broeksakke dra nie.
- Maak seker jou handsak se ritssluiter is toegetrek en moenie jou sak onbewaak laat in jou winkeltrollie nie. Hou die handvatsels ten alle tye stewig vas of pak dit goed toe met jou aankope.
- Moenie hulp aanvaar van ’n vreemdeling by ’n kitsbank nie. Indien jy probleme ondervind, skakel dadelik die bank en kanselleer die kaart.
- Sluit inkopies of waardevolle items in die bagasiebak of paneelkissie van jou voertuig toe.
- Sluit dadelik die voertuig se deure wanneer jy inklim. Vroue moet hulle handsakke onder by hulle voete plaas en nie op die sitplek nie.
- Wees waaksaam teen remote jamming. Maak seker dat jou voertuig se deure en bagasiebak behoorlik toe en gesluit is wanneer jy van die voertuig wegstap.
Ongelukke gebeur
Hou altyd stil ná ’n ongeluk. Jy kan krimineel vervolg word indien jy dit nie doen nie. Meld die ongeluk by die polisie/verkeersdepartement aan, al was daar nie beserings nie.
Indien jy op ’n ongelukstoneel afkom, maak seker dat die polisie en nooddienste ontbied is, indien nodig. Lig hulle in oor die erns van die beserings en hoeveel persone betrokke was.
Moet nooit met moontlike bewysstukke peuter nie. Moenie voertuie, mense of diere wat in die ongeluk betrokke was, verskuif nie. Indien ’n beseerde persoon wel geskuif moet word, merk die plek waar hy gelê het.
WAT OM TE DOEN
- Al is niemand beseer nie, meld die ongeluk binne 24 uur aan en kry die saaknommer. Jy het dit nodig vir jou eis by jou versekeraar.
- Wanneer daar beserings en ’n derde party betrokke is, moet die polisie/verkeersdepartement die ongelukstoneel besoek.
- Versamel inligting en neem foto’s (met toestemming) van die bestuurder se lisensie, sy voertuig en voertuiglisensieskyfie. Verkry die bestuurder se volledige besonderhede (naam, van, identiteitsnommer, kontaknommer en adres).
- Ooggetuies se volledige besonderhede moet ook verkry word.
- Foto’s, die datum, tyd en plek is van kardinale belang. Skryf dié inligting neer.
- Meld jou eis so gou moontlik by jou versekeringsmakelaar aan.
Wees pro-aktief en tref voorkomingsmaatreëls. Kontak NWK & IP Makelaars om jou behulpsaam te wees – selfs al is dit net om jou skedule saam met jou deur te werk en aan jou gemoedsrus te besorg.
Bronnelys
- https://diepos.co.za/116194/bly-veilig-tydens-die-feestyd/
- https://www.geselsversekering.co.za/2011-12/is-jou-huisbehoorlik-beveilig-vir-die-vakansie/
- https://www.virseker.co.za/dagboek/versekerings-wenke/handige-wenke-vir-veiligheid-die-feesseisoen/