
Martiens du Plessis, wat al amper vier dekades lank by NWK werksaam is, is in Oktober 2022 as Landbouskrywers SA se Landboukundige van die Jaar in Noordwes aangewys.
“Daar is mense wat jou pad kruis wat régtig ’n verskil maak. As jy praat van boerdery, is dit ’n verskil wat oor tyd bepaal of jy op ’n plaas bly of nie. Martiens (du Plessis) is só ’n man.” Só beskryf Frikkie Conradie, ’n graanprodusent van Coligny in Noordwes, vir Martiens, wat die bestuurder van landboustelsels en -projekte by NWK is.
Martiens het op 11 November 2022 om Landbouskrywers SA se Landboukundige van die Jaar-toekenning meegeding by ’n gesogte geleentheid by NAMPO Park naby Bothaville. Hy het as finalis vir die nasionale toekenning teen Rick Kleyn (Gauteng), Pieter Bruwer (Mpumalanga), Dup Haarhoff (Noord-Kaap) en Conrad Schutte (Wes-Kaap) te staan gekom. Hoewel Pieter met dié toekenning weggestap het, was die beoordelaars geweldig beïndruk met Martiens se betekenisvolle bydrae tot landbou.
Beoordelaars se indrukke
MARGARET REINECKE
Margaret Reinecke, suidelike grondgebiedverkoopsbestuurder by Bayer Crop Science, het gesê dat sy tydens die beoordeling oorweeg wat die betrokke kandidaat verander en “terugsit” in landbou. “Martiens se aanbevelings vind prakties maklik gestalte. Grondkartering is nie ’n maklike proses nie en sy deursettingsvermoë om al daardie data bymekaar te maak, is indrukwekkend.
“Die feit dat hy ’n groot bydrae gelewer het tot die skryf van die jongste erkende boek oor grondklassifikasie in Suid-Afrika (A natural and anthropogenic system for South Africa), waarvolgens boere se plase sedert 2019 geklassifiseer en gekarteer word, is ook betekenisvol.
“Hy span gereeld nuwe tegnologie in om werksmetodes aan te pas en te verbeter. Die feit dat sy bevindings tot meer ekonomiese boerderypraktyke lei, speel ook ’n deurslaggewende rol,” het Margaret gesê.

BREYTON MILFORD
Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri Expo, meen ook Martiens het op talle terreine uitgestaan. “Sy leierskapsrol in veral grondkunde en bewaringspraktyke het my geweldig beïndruk. Hy staan vir my uit as ’n leier in sy vakgebied, maar ook as iemand wat op voetsoolvlak tussen die boere werk en weet wat óp die grond en ín die grond aangaan.
“Die respek waarmee boere oor hom praat en skryf, is ’n sprekende voorbeeld van sy karakter. Sy toewyding tot landbou spreek boekdele en daarom is hy sy lewe lank reeds ’n mentor en raadgewer vir baie boere. Sy kennis en kennisoordrag maak dat boere vandag meer ekonomies boer, en dit is sekerlik wat vir my die meeste van Martiens uitgestaan het.”
BEOORDELING
Kandidate is op grond van die volgende beoordeel:
- Die waarde van sy bydrae vir die produsent en landbou.
- Sy vermoë om by veranderings aan te pas.
- Ekonomiese waardetoevoeging.
- Bydrae tot transformasie.
Martiens se belangrikste bydraes tot die landboubedryf, wat in sy nominasie vervat is, word vervolgens opgesom.
Vestiging van gespesialiseerde dienste
Martiens, wat sedert 1 Januarie 1985 by NWK werk, het eerstens ’n grondkarteringsdiens vir NWK se produsente gevestig en was self betrokke by sowat 150 000 hektaar se gedetailleerde grondopnames.
’n Plaas se gronde word eerstens gekarteer en ’n grondkaart word dan saamgestel. Veldopnames op spesievlak van die natuurlike veld word gedoen, waarna ’n volledige boerderybeplanning onderneem word om die natuurlike hulpbronne optimaal en op ’n volhoubare wyse aan te wend.
Die veranderings van hulpbronaanwending word ook op ’n kaart van die plaas aangebring, waarna die nuwe lande, aangeplante weidingskampe en veldkampe se nuwe drade op die plaas aangedui word.
Hierdie diens is later tot ’n presisiediens uitgebrei, waartydens elke waarnemingspunt van die grondopnames in ’n Geografiese Inligtingstelsel (GIS)-omgewing verwerk word. Gronde word chemies en fisies gekarteer en plantvoedingstowwe word wisselend volgens die gewasbehoefte toegedien.
Die doelwit is om bemestingstowwe op gedeeltes toe te dien waar dit ’n positiewe rendement behoort te lewer, en minder bemestingstowwe op gedeeltes waar dit na verwagting ’n swak of geen rendement sal oplewer nie. Dié diens het só gegroei dat daar die afgelope twee jaar elke jaar meer as 20 000 ha hiermee bestuur is.
Modelleringsmodelle is ontwikkel om gewaspotensiale vir elke posisie te modelleer, waarna dit in presisiemodelle tot potensiaalkaarte verwerk word. Verskillende reënvalmoontlikhede is by die finale produk gevoeg, ten einde die risiko van die verskillende grondliggame op die plaas te illustreer.

Passie lei tot baanbrekerswerk
Sy passie vir grondbewerking het hom genoop om ’n penetrometer te bekom en homself te skool ten opsigte van die invloed van grondverdigtings op gewasgroei, asook die identifisering en kwantifisering van grondverdigtings met behulp van ’n penetrometer.
Hy het geleer hoe om die penetrometergrafieke te interpreteer en ’n diens by NWK gevestig om klante se grondverdigtings in hul landerye te identifiseer. Martiens het vinnig besef dat grondverdigtings een van die grootste beperkings in graanproduksie is en het gevolglik verskeie artikels in verskeie landboutydskrifte geskryf, ten einde boere van hierdie onsigbare beperking bewus te maak.
Hy het verskeie ondersoeke gedoen om skeurploeë te evalueer ten opsigte van hul doeltreffendheid om grondverdigtings op te hef.
’n Uitgebreide studie is van stapel gestuur om die doeltreffendheid van Rovic Leers se volle reeks grondwerktuie, asook dié van ’n paar ander grondwerktuie, in drie verskillende grondtipes (sand-, sandleem- en leemgrond) te evalueer. Dié studie is in samewerking met die LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese (LNR-ILI) gedoen en die energieverbruik, trekkragvereiste en doeltreffendheid van die onderskeie implemente om grond los te maak, is behoorlik gekwantifiseer.
Martiens het sy idees aan Rovic Leers verkoop, en die eerste Super 25-tande word volgens sy spesifikasies in Rovic Leers se fabriek in Spanje gebou en getoets. Dit het ook later tot die ontwikkeling van die eerste Super 32-tande gelei.
Hy het formules ontwikkel om die tandspasiëring met die bewerkingsdiepte en skaartipes te kombineer, ten einde pasgemaakte bewerkingstelsels en meganisasiebeplanning vir elke spesifieke boerdery se omstandighede te ontwikkel. Dit het gelei tot die referaat wat hy tydens die Gesamentlike Kongres 2013 in Durban gelewer het en waarvoor hy die prys vir die beste referaat op die gebied van nuwe tegnologie vanaf die Grondkundevereniging van Suid-Afrika (GVSA) ontvang het.
’n Spoorverkeerstelsel is die antwoord
Studies deur Martiens toon dat dié stelsel brandstofverbruik noemenswaardig verminder (vanaf 65 liter/ha tot 30 liter/ha), en die onderhoudskoste is dienooreenkomstig verlaag.
Hy het bewys dat grond wat eenmalig doeltreffend diep losgemaak word, nie weer diep losgemaak hoef te word nie – tensy dit weer deur onbeheerde landverkeer vasgetrap word. Hy beveel aan dat geenbewerkingstelsels ook in permanente spoorverkeerstelsels ontwerp word.
Verskeie gewilde artikels het uit hierdie konsep voortgevloei, met die gevolg dat dit tans al ’n gevestigde bewerkingstelsel in NWK se bedieningsgebied is. Dié konsep is ook, ten spyte van doemprofete se menings, na die sandgronde van die Mareetsane-omgewing uitgebrei en word al vir meer as tien jaar met reusesukses hier toegepas. Produsentegroepe by Bultfontein, Hoopstad en Reitz in die Vrystaat behaal ook groot welslae met hierdie konsep en dit neem volhoubare graanproduksie tot ’n volgende vlak.
Hy het saam met ’n aantal produsente en ander landboukundiges ’n studietoer na Argentinië onderneem om geenbewerking daar te ondersoek. Dit het daartoe gelei dat een van die Argentynse plantervervaardigers ’n geenbewerkingplanter na Suid-Afrika gestuur het om dit hier op eie bodem te kom toets, en Martiens was deel van die hele ondersoekprogram.
Produksiewaarde van plase
Martiens glo dat die produksiewaarde van plase ’n sterk rol in die vorming van ’n plaas se markwaarde behoort te speel, eerder as slegs onlangse verkoopstransaksies. Hy het gevolglik ’n model ontwikkel waarin grondkwaliteite soos gronddiepte en -vorm (wat inherent tot die grond se produksiepotensiaal bydra), asook natuurlike veld se spesiesamestelling, groeikrag en bedekking, as drywers van die plaas se vermoë om inkomste te genereer, tesame met verskeie landbou-ekonomiese faktore, geïntegreer word.
Hierdie konsepte is in samewerking met ’n geassosieerde waardeerder gekombineer om plaaswaardes van letterlik honderde plase vir die grondhervormingskema te beïnvloed. Dié konsep slaag uitstekend daarin om plase waarvan die natuurlike hulpbronne gedegradeer is se waarde van dié van plase waarvan die natuurlike hulpbronne opgebou is, te onderskei.
Boer slimmer, nié harder nie
Die beskikbare grondwater is direk positief met die graanopbrengste gekorreleer en Martiens het ’n diens ontwikkel om die grondwater in droëlande akkuraat met behulp van ’n neutronvogmeter te bepaal. Dit is daarop gemik om produksiegeleenthede en produksierisiko’s reeds vóór die plantseisoen, maar ook daartydens, te identifiseer en aan die produsent uit te wys.
Sy kennis in grondwaterbestuur vind hierdeur in die boerderypraktyk neerslag. Dit is spesifiek op die verlaging van boerderyrisiko’s, as een van die bene van volhoubare graanproduksie, gefokus.
In die 2020/2021-produksieseisoen is hy deur Intelligro Pty Ltd gekontrakteer om ’n grondwaterstudie in die Viljoenskroon-distrik te doen. Die watergebruik van mielies en sonneblom, wat deur ’n winterdekgewas opgevolg word, is gekwantifiseer. In dié proses word die waterverbruik van onkruid in mielies ook gekwantifiseer.
Hy vestig tans die beginsel van oorlêlande in NWK se bedieningsgebied. Met sy uitgebreide grondkundige kennis word produsente geadviseer oor watter grondtipes op hul plase hiervoor geskik sal wees en watter eerder jaarliks aangeplant moet word.
Om droë jare te oorleef, verg spesifieke strategieë waartydens, benewens die oorlê van lande, die plantestande en rywydtes, plantdatums, onkruidbeheer en gewaskeuse, in ’n spesifieke strategie geïntegreer moet word.
Hy vestig ook tans die beginsel van verminderde grondbewerkingstelsels in NWK se bedieningsgebied, veral met die doel om in droër jare steeds goeie graanopbrengste te realiseer. Benewens die kostebesparing met verminderde bewerkingstelsels, help dit ook om minder vog deur bewerkingsaksies verlore te laat gaan.
’n Groot eer, maar nog baie werk wat voorlê
Martiens vertel nederig dat hy sy Skepper eer vir hierdie toekenning. “Dis immers Hy wat my gemaak het en ek waardeer die voorreg om dit te kan geniet. Só iets kom uiteraard nie verniet nie, maar is sekerlik die vrug van my passie vir die wonderlike Godgeskape wetenskap waarmee ek mag werk en waarin ek my kan uitleef.
“Vir my beteken die geleentheid ’n wonderlike blyk van waardering vanaf die landbougemeenskap, asook vir dit wat ek vir mense met toegepaste wetenskap kon beteken.
“Met my liefde vir die wetenskap en stimulasie wat dit vir my bied, is ‘finaal die tuig neerlê’ nie deel van my visie nie.
“Drie van my mentors – professors Giel Laker, Malcolm Hensley en Eben Verster – is al in die tagtigs en steeds daagliks besig met die wetenskap. Hulle stel vir my ’n voorbeeld om na te streef. Die werk is allermins klaar…”
Martiens is van mening dat bewaringsbewerking in Suid-Afrika na ’n volgende vlak geneem móét word om landbou se koolstofvoetspoor betekenisvol te verlaag. “Ons het nie ’n keuse nie, ons gaan dit spoedig moet laat werk.”
Die konsep van bewaringsbewerking moet volgens hom tot ’n meer volhoubare stelsel geskaaf word, naamlik biologiese produktiwiteit (uitmuntende produksievlakke) en ekonomiese lewensvatbaarheid (optimale wins), sonder dat die natuurlike hulpbronne (chemies en fisies) degradeer, teen verlaagde risikovlakke en met praktyke wat sosiaal en ekologies aanvaarbaar is.
Hy is bekommerd dat die huidige bewaringlandboukonsepte ten koste van biologiese produktiwiteit en ekonomiese lewensvatbaarheid gedwing word om te werk. Daarom beveel hy permanente spoorverkeer aan as deel van geenbewerkingstelsels. “Gegewe my sterk belangstelling in grondbewerking en grondbewerkingstelsels, het ek baie tyd aan die interaksies tussen grond, plante en grondbewerking bestee om ’n prentjie te vorm van dié interaksie, wat plante optimaal laat groei, en hoe om dit tot voordeel van gewasprestasie te manipuleer.
“Daar is ’n dringendheid in my om ook dit in ’n wetenskaplik gefundeerde handboek, genaamd Grondbewerking in Suid-Afrika, die lig te laat sien. Die boek word vir beide die student en die produsent as teikengehoor geskryf, maar met goeie wetenskap as onderbou.”
Hy sluit af: “My kennis en vaardighede van die wetenskap spruit uit ander mense wat hul kennis met my gedeel het. Soveel mense het in my ingeploeg en ek voel verplig om weer dit wat my mentors aan my toevertrou het, aan die volgende geslag landboukundiges oor te dra en dit so ook aan hulle toe te vertrou vir hulle nageslagte. Vir my is ’n nalatenskap dus iets wat na aan my hart lê.”

NWK Arena se rol
Martiens is ’n gereelde skrywer vir die publikasie en oor die afgelope 38 jaar is daar reeds 153 van sy insiggewende artikels gepubliseer – waarvan 118 in Arena (voorheen Noordwes Nuus) verskyn het. Die redakteur van Arena, Nicolene Smalman, wat ’n bykomende bestuurslid van Landbouskrywers SA Noord is, het hom vir die toekenning genomineer. “Toe ek hoor dat die toekenning hierdie jaar op landboukundiges gaan fokus wat voorligtingsdienste bied, het ek dadelik besef Martiens is die perfekte kandidaat. Hy sou ’n waardige wenner wees en beslis ’n opdraande stryd vir sy teenstaanders bied. Hy het ’n passie om kennis oor sy vakgebied oor te dra en dit verskaf hom eindelose vreugde as hy ’n produsent se bedryf tot nuwe hoogtes kan neem met sy aanbevelings. Hy het ’n manier om ingewikkelde onderwerpe op só ’n wyse te verduidelik dat selfs ’n leek dit kan begryp,”