’n Koei het ná kalwing net ongeveer 85 dae om herbeset te raak. Dit is ’n uitdaging om dié doelwit te bereik. Twee praktyke met speen, naamlik konvensioneel teenoor vroegspeen, kan as moontlike opsies oorweeg word om hierdie uitdaging die hoof te bied.
Die ideale interkalfperiode vir vleisbeeskoeie is 365 dae. Dit beteken dat die koei ná kalwing slegs 85 dae (280 dae dragtig + 85 dae = 365 dae) het om herbeset te raak. Hiervan benodig sy minstens 30 dae om fisiologies te herstel ná die kalfproses. Sy het dus slegs 55 dae beskikbaar om herbeset te raak, dit wil sê 2,6 bronstigheidsiklusse – maar dit is indien daar geen komplikasies tydens kalwing was nie en sy op die regte kondisie was voor kalwing (3 tot 3,5 uit ’n punt van 5). In dié artikel word ’n konvensionele stelsel en vroegspeen bespreek.
Konvensionele stelsel
Konvensioneel word kalwers op die ouderdom van sowat sewe maande, op 220 kg tot 240 kg, vanaf die koei en op veldweiding gespeen. Bykomende voeding word selde verskaf, hoewel sommige produsente kruipvoeding inbring om die koeie te help én om die kalf se rumenontwikkeling te bevorder. Speenkalwers wat só gespeen word en kruipvoer ontvang het, is normaalweg beter aangepas om oor te skakel na voerkraalrantsoene of na energie-aanvulling op weidings in ’n veldvoorbereidingstelsel (backgrounding).
Koeie in hierdie stelsel het ’n groter uitdaging om binne 55 dae herbeset te raak, aangesien hulle voedingsbehoeftes (beide volume en gehalte) hoër is om hul kondisie te handhaaf en melk te produseer. Energie sal eerder aan die kalf afgestaan word (deur melkproduksie), ten koste van die koei se kondisie, wat herbesetting benadeel. Dit word duideliker in swakker jare, wanneer dit nog duurder is om koeie in swak kondisie te help.
Kalwers in hierdie stelsel word meestal oor die Paastyd bemark, terwyl pryse normaalweg onder druk is weens die verhoogde aanbod.
Vroegspeen
Vroegspeen word plaaslik meer as ’n metode gesien om voertekorte te oorkom, soos tydens strawwe droogtes, sodat die koei nie te veel kondisie ná kalwing verloor nie. Hierdie metode beteken normaalweg dat die kalf op ’n ouderdom van 90 tot 100 dae en teen ’n massa van 90 kg tot 110 kg gespeen word.
Hierdie kalwers het nou eers begin om ruvoer te benut. Hulle moet dus verkieslik op die beste weidings beskikbaar (byvoorbeeld groenvoer) gedra word, terwyl hulle byvoeding ontvang. Hulle benodig ’n rantsoen waarvan die metaboliseerbare energie (ME)-inhoud minstens 11 MJ/kg is en die ruproteïen (RP)-inhoud minstens 16% is. Op hoë gehalte groen weidings word geredelik aan die RP-behoefte voldoen, maar daar sal ’n tekort aan energie wees, wat dan aangevul moet word.
Die aanvulling van kruipvoer is dus nie onderhandelbaar in die vroegspeenstelsel nie. Dit bevorder die kalf se groei om op die ouderdom van 90 tot 100 dae minstens 90 kg te weeg. Dit bevorder ook die rumenontwikkeling, wat die oorgang na die groeirantsoen ná speen vergemaklik.
In navorsing met eerstekalfkoeie was die gemiddelde daaglikse tempo (GDT) van kalwers wat geen kruipvoer ontvang het nie (kontrole) 658 g, teenoor die 974 g van kalwers wat wel kruipvoer ontvang het. Die kruipvoer het dus die kalwers se gemiddelde groei met 48% verhoog. Die kalwers in die kontrolegroep se speengewig was 210 kg, teenoor die 263,5 kg van die kalwers wat wel kruipvoeding ontvang het (Coetzee, 2010).
’n Lang rustydperk is veral belangrik vir verse wat die eerste keer gekalf het. Die gebruik van kruipvoer maak dit moontlik om vroeër te speen, met beter speengewigte.
Vroegspeen werk aansienlik beter (en makliker) waar kalwers seisoenaal gebore word (Anon. 1, 2020). Inteendeel, hoe meer kompak die dektyd (en dus ook die kalftyd), hoe meer kan kalwers in ’n eenvormige groep hanteer word. Dit vergemaklik alle bestuursaksies soos onthoorning, inentings en voeding.
Sukses van ’n koei/kalfstelsel
Ongeag die vroeg- of laatspeen van kalwers, is verskeie aspekte van belang vir ’n suksesvolle en winsgewende speenkalfstelsel (Figuur 1).
Die inkomste wat uit speenkalwers gemaak word, hang hoofsaaklik van drie faktore af, naamlik die aantal kalwers, hul gewig en die prys per kilogram (Maré, 2022). Elkeen word op sy beurt deur ’n aantal ander faktore beïnvloed, en elkeen van hulle deur nóg ’n magdom ander kleiner faktore wat almal saam die sukses van die stelsel bepaal.

AANTAL KALWERS
Die aantal kalwers wat verkry word, word bepaal deur die koeie se konsepsiesyfer, die kalfpersentasie en die speenpersentasie. Hierdie faktore word weer deur ’n aantal ander faktore bepaal, soos:
- Gesondheid van beide die koeie en die kalwers.
- Die bestuur van biesmelk tydens kalwing.
- Koeie se kondisie voor kalwing.
- Tussenkalfperiode.
- Bestuur tydens speen (byvoorbeeld geen ander stresvolle aksies soos kastrasie, onthoorning of inentings nie).
GEWIG
Speenkalwers se gewig word deur die ma se melkproduksie en die hoeveelheid en gehalte van die beskikbare weidings en byvoeding bepaal. Die mark is geneig om ’n premie aan te bied vir ligter kalwers, aangesien hul voeromsetverhouding beter is as dié van swaarder kalwers.
PRYS PER KILOGRAM
Die prys per kilogram van ’n kalf (lewend) hang af van die mark ten tye van bemarking. Tydens sekere tye van die jaar is daar normaalweg ’n oor- of onderaanbod. Dit gaan tipies gepaard met onderskeidelik laer en hoër as gemiddelde pryse (Maré, 2022). Die kalf se gewig het, soos reeds genoem, ook ’n invloed op die prys.

Voordele van vroegspeen
Een van die belangrikste voordele van vroegspeen is dat koeie se herbesetting oor tyd drasties verbeter. Minder veldweiding word benodig, met die gevolg dat meer teeldiere gedra kan word (Coetzee, 2010; Maré, 2022).
Dit is winsgewender om groen aangeplante weidings met produserende diere soos speenkalwers te benut as om byvoorbeeld koeie daar aan te hou, waarvan die grootste deel van hul behoeftes aan onderhoud spandeer word (Anon. 1, 2020).
Vroegspeen van kalwers, met vooraf kruipvoeding, verseker dat die rumen beter aangepas is vir voeding in die voerkraal. Die uitwerking van speenskok is ook laer by kalwers wat reeds voldoende voer uit ’n krip vreet terwyl hulle nog saam met die koeie loop.
Die stadium van kalwers se bemarking is meer buigsaam, dus kan hulle buite piektye aangebied word wanneer die markprys hoër is. Prys per kilogram kan ook hoër wees omdat hulle minder weeg. Die winsgewendheid van die koei/kalfstelsel met vroegspeen behoort ook te verhoog, aangesien daar meer kalwers van dieselfde eenheid bemarkbaar is omdat meer koeie gedra kan word en omdat die reproduksiesyfers ook beter sal wees.
Samevatting
Vroegspeen is ’n stelsel wat nog nie algemeen in Suid-Afrika gebruik word nie. Daar is ook min syfers beskikbaar om werklike ekonomiese aannames te kan maak oor die moontlike sukses daarvan. Maré (2022) stel voor dat ’n produsent nie summier na ’n vroegspeenstelsel oorskakel nie. Die outeur meen dit kan dalk die moeite werd wees om dit op ’n deel van jou kudde te toets en daarvolgens te besluit of dit kan werk.
Bronnelys
- Anon. 1, 2020. https://agriculture.vic.gov.au/livestock-and-animals/beef/health-and-welfare/early-weaning-of-beef-calves#:~:text=The%20key%20criterion%20for%20early,grazing%20or%20eating%20other%20foods
- Anon. 2, 2010. Beef cattle – weaning of calves. https://www.dalrrd.gov.za/Portals/0/InfoPaks/Beef-wean.pdf
- Coetzee, J, 2010. Kruipvoeding vir kalwers. Soos aangehaal deur
dr F Malan. Vra vir Faffa. Landbouweekblad, 5 Junie 2018. (https://www.landbou.com/landbou/Kundiges/vra-vir-faffa/Kruipvoeding-vir-kalwers-20180430) - Maré F, 2022. Vroegspeen van kalwers. Veeplaas, 8 Augustus 2022. Plaas Media