Groente op groot skaal in die hartjie van die destydse Wes-Transvaal? Inderdaad! Ry jy verby die Richter Familietrust (plaas Klippan) aan jou linkerkant vanaf Koster onderweg na Lichtenburg, pryk daar deesdae tonnels waarvan die inhoud jou verstom.
Rupert Richter (38), Roland Liebenberg (41), George Groenewald (36) en Quintin Watson (36), almal deel van ’n vennootskap in QualiGrow Farming, is stadig maar seker besig om die groentemandjie van hul eie Food Lover’s Market in Sandton, Gauteng, te vul met groente wat hulle self hier verbou.
Met NWK Arena se besoek aan Klippan laat in Januarie, was dit moeilik om te glo dat hierdie vlagskipprojek slegs ’n paar maande vantevore gestalte gekry het. Binne-in die tonnels vind jy verskeie kultivars tamaties, komkommers, soetrissies, kruie en aarbeie, terwyl botterskorsies, murgpampoentjies en blaarslaai geil buite groei.
Elke krisis bied ’n geleentheid en die toenemende beurtkrag het Rupert Richter en Roland Liebenberg, wie se hoofvertakking steeds mielies onder besproeiing is, gedwing om na ’n alternatief te soek wat ekonomies sin sou maak.
“Ná 13 jaar weet ek in elk geval steeds nie hoe om ’n mielie te plant nie,” spot Rupert, terwyl hy vertel oor die lang nagte “agter die boeke” om groenteverbouing te bestudeer.
Die som klop nie meer nie
Rupert en Roland, sy vennoot in die graanbedryf, het 740 hektaar se besproeiingsaanplantings, waarvan 150 hektaar broodkoring is.
Gereelde kragonderbrekings het aan hulle benoude oomblikke besorg en hulle het reeds drie jaar gelede begin besef dat die situasie hulle duur te staan kon kom. Só het ’n transformator wat Rupert-hulle van krag moes voorsien, die gees gegee toe die koring op die land in ’n graanvulstadium was.
Dit het Eskom drie dae geneem om die transformator te herstel. Toe dié uiteindelik weer in ’n werkende toestand was, was daar direk daarna ’n probleem op ’n kragvoorsieningslyn, wat hulle wéér bykans drie dae sonder elektrisiteit gelaat het.
Kort hierna is beurtkrag aangekondig. “Die gevolge hiervan vir daardie oes het ons by ’n punt gebring waar ons ’n alternatief ondersoek het.” ’n Hulpbesproeiingskonsep is ingespan, waarvolgens hulle met ’n laer opbrengsmikpunt steeds relatiewe goeie winsmarges handhaaf, maar met baie laer risiko’s as in ’n volbesproeiingskonsep.
Fase 6 beurtkrag laat Suid-Afrikaners egter vir tot tien ure per dag sonder krag, wat dit al moeiliker vir Rupert maak om besproeiings op aannames te doen as hulle bykans die helfte van die dag nie elektrisiteit het nie.
Hoewel hulle ’n kragopwekker aangeskaf het om die besproeiing te ondersteun, het die stygende brandstofprys veroorsaak dat dit nie kostedoeltreffend is nie. “Ons moet alternatiewe krag gebruik, wat uit die aard van die saak baie duurder is. ’n Lae-waarde-produk soos mielies onder spilpunte raak al moeiliker om teen aanvaarbare winsmarges te produseer,” verduidelik Rupert.
Verskeie moontlikhede word oorweeg
Rupert en Roland wou ’n hoë-waarde-produk produseer wat nie veel direkte kompetisie sou bied nie. Daar is heelwat saadvermeerdering en hoenderboerderye in die gebied, en dit het hulle gedagtes in ’n ander rigting gestuur. “Ons het grond én water. Heelwat boere sit met óf net grond óf net water sonder goeie grond.”
Beskikbare elektrisiteit was egter die deurslaggewende faktor in die besluit tot ’n alternatief. Rupert en Roland was vasbeslote om dié beperkte hulpbron so sinvol as moontlik aan te wend.
Dit sou nie kostedoeltreffend wees om sonpanele aan te lê vir hulle besproeiingsaanplantings, wat slegs vir ’n kort tydperk van die jaar tot 600 kVA elektrisiteit vereis, nie.
“Ons het gevra: ‘Wat kan ons produseer wat ’n hoë-waarde-produk is, sodat ons die beperkte aantal ure per dag wat ons wel krag het meer sinvol kan gebruik?’”
Hulle het besef dat heelwat minder krag benodig sou word met groenteproduksie, aangesien dit hoë-waarde-produkte is wat op ’n klein oppervlak geproduseer kan word. Boonop sou enige kapitaaluitgawes aan alternatiewe kragbronne vinniger ’n rendement op ’n belegging toon omdat die krag regdeur die jaar benut word.

Vestig eerstens ’n mark
Die vennote het kopgekrap oor ’n afsetgebied vir hul produkte en het toe ’n mark gevestig deur ’n winkel in Gauteng te open. Dit skakel boonop kompetisie met produsente wat nader aan die markte hier en in Klerksdorp is, uit.
’n Algemene benadering tot groenteproduksie is om slegs een of twee gewasse te produseer, maar die span van QualiGrow poog eerder om die grootste deel van die groentemandjie vanaf die plaas te vul.
Hierdie vlagskipprojek is uit die saaibedryf gesubsidieer, en George Groenewald het as ’n vennoot deel geword van die groep en bestuur die groenteproduksie. Altesaam 20 tonnels is opgerig en ’n nie-sirkulerende hidroponiese stelsel word ingespan, aangesien ’n hersirkuleringstelsel baie meer waterintensief is en die soute binne ’n bepaalde tyd hierin opbou en die water dan gedam moet word.
Die gewasse word in ’n neutrale medium geplant – sakke gevul met saagsels. ’n Drupperstelsel drup uurliks, afhangende van die behoefte en ouderdom van die plant, water in die pot. “Daar is ’n klein vermorsingsfaktor deurdat jy uurliks 10% tot 20% ekstra van die pot se kapasiteit toedien om soute uit die pot te was. Dit is egter ’n baie doeltreffende kommersiële stelsel, wat die meeste groenteboere gebruik,” verduidelik Rupert.
Hoewel groente per kilogram “op papier” meer water as graan per kilogram gebruik, meen Rupert dit word doeltreffender gedoen omdat hy watergebruik tot op die druppel kan bestuur deurdat die tonnels hom toelaat om toestande daarbinne te manipuleer. “As jy sien daar is 5% uitloop uit die potte, skakel jy bloot die water af. Die verdampingstempo buite is boonop baie hoër weens die son en wind.”
Hulle beoog om verhittingstelsels aan te bring, wat die tonnels in die koue wintermaande sal kan verhit sodat produksie regdeur die jaar kan geskied.

Gehalte is die sleutel
Rupert en sy vennote het besef dat gehalte die faktor is wat hulle van die kompetisie sou onderskei en het daarom die handelsmerk QualiGrow gevestig.
Groente wat onder die grond gekweek word, is langlewende produkte wat op groot skaal verbou word en lank op ’n mark kan lê. Die vennote het besluit om eerder op sagter groentes, wat vars moet wees, te fokus. “Ons wil hê ons naam moet eerder aan gehalte gekoppel word as wat ons net nóg ’n verskaffer aan die mark is.”
Hulle het onder andere by ’n maatskappy wat aan Woolworths groente lewer gaan kers opsteek oor hoe om hulle produkte behoorlik te verkoel. Van die gewasse word soggens voor 09:00 geoes en onmiddellik na die pakhuis geneem, waar dit dadelik tot ’n sekere temperatuur verkoel word. Van die groente wat normaalweg op die mark sou beland, word uit die staanspoor uitgeskot en eerder in generiese bokse teen ’n laer prys beskikbaar gestel.
Daar is ook ’n verpakkingsaanleg op Klippan gevestig, waar die groente teen 14°C tot kleiner stukke verwerk en volgens die sogenaamde MAP-proses verpak word. Dit behels dat suurstof uit die plastiekverpakking onttrek en met stikstof vervang word sodat die produk langer vars bly.
QualiGrow bied ’n volledige reeks roerbraai- en roostergroentes. “Dit voeg verdere waarde by die produk en verg slegs ’n klein bietjie krag om ’n sekondêre onderneming daaruit te skep,” verduidelik Rupert.


– alles op die plaas.
Groot moontlikhede om te ontgin
Botswana se grens is nader as die varsproduktemark in Johannesburg en Rupert ondersoek dus die moontlikheid om surplusse na hierdie buurland uit te voer. “Hulle kom haal in elk geval hulle groente hier (in Suid-Afrika) en moet dan al die pad na die mark ry. Ons bied boonop die volledige mandjie.”
Sover is Rupert en sy vennote baie tevrede met die resultate. “Dis bo verwagting. Tog het ons al duur skoolgeld betaal,” glimlag hy en vertel van groente wat oornag gevrek het weens te veel sout.
Hulle sou ook leer dat blaarslaai wat in slaaipakke gebruik word, oftewel die sogenaamde looseleaf-konsep, uitstekend vaar in tonnels, maar nie kopslaai nie. “Dit word net té warm. Ons het al drie kultivars probeer. Die kop vrot nie, maar ’n enkele blaar aan die binnekant verkleur en jy kan dit nie só mark toe stuur nie.”
Hulle het uiteraard ook nog nie historiese klimaatdata waarop hulle toekomstige aanplantings kan skoei nie. “Ons sal eers in die winter kan sien hoe doeltreffend ons verhittingstelsel werklik is.”
Die saaibedryf word met minimum arbeid bedryf omdat presisiebeginsels toegepas word. Hierteenoor moes Rupert en sy vennote bykomende arbeiders aanstel om na die groente-aanleg om te sien. Hulle wil dit nie meer arbeidsintensief maak as wat nodig is nie, weens stygings in die minimum loon, en wil eerder die voordele benut wat tegnologie bied.
Rupert is versigtig optimisties. “Dis ’n opwindende projek. Ons het van dag een af besluit om dit in ’n vennootskap aan te pak. Dié konsep werk vir ons. Omdat ’n ou soveel uitdagings het, is dit lekker om ’n klomp koppe om ’n tafel te hê wat uit verskillende agtergronde kom.
“Ons is redelik aan die begin van die game, maar ek glo daar gaan vir ons ruimte wees en vir ander boere ook. Dit is lekker om te weet jou bure het ook alternatiewe sodat ons as ’n gemeenskap kan aangaan.”