Met die stygende inflasie was banke wêreldwyd genoodsaak om hul rentekoerse te verhoog, wat stadige ekonomiese groei tot gevolg gehad het. Ongelukkig word dit ook in 2023 verwag.
Die jaar 2022 was veronderstel om die jaar te wees waarin die ekonomie ná die Covid-19-
pandemie sou herstel, maar toe val Rusland vir Oekraïne op 24 Februarie 2022 binne en die wêreldekonomie word in onsekerheid gedompel. Die oorlog in Oekraïne het ’n klomp sanksies teen Rusland tot gevolg gehad, wat tot rekordpryse vir energie en voedsel gelei het. Lande wat sankies ingestel het, sluit Amerika, Kanada en die Europese Unie in.
Verwagte uitdagings vir 2023
Vier internasionale ekonomiese uitdagings kan in 2023 verwag word:
INFLASIE- EN RENTEKOERSSTYGINGS
Eerstens is dit belangrik om te verstaan waarom die rentekoerse styg as inflasie styg. Die rentekoerse word verhoog sodat verbruikers minder geld leen, omdat die koste om geld te leen dan hoër is. Verbruikers word dus aangespoor om eerder geld te belê as om dit te spandeer. Indien die vraag na produkte verminder, is die verwagting dat die produkpryse sal verlaag.
Daar word voorspel dat die rentekoerse in 2023 nog verder gaan styg. Dit sal hopelik help om stygende inflasie teen te werk, maar ekonomiese groei gaan aanvanklik nog verder vertraag word.
Tensy die oorlog in Oekraïne eskaleer, behoort die kommoditeitspryse vir energie, voedsel en voorrade soos metale te begin daal, alhoewel dit steeds hoër as die vorige vlakke sal wees.
DREIGENDE RESESSIE
Dit blyk dat 2023 ’n moeiliker jaar as 2022 gaan wees. Voorspellings wys dat ’n derde van die wêreld se ekonomie deur ’n resessie getref kan word. Die resessie sal wel van korte duur wees. Al beland die wêreldwye ekonomie nie in ’n resessie nie, sal dit in 2023 steeds só vir baie individue voel as gevolg van stadiger ekonomiese groei, hoë pryse en verhoogde rentekoerse.
CHINA EN COVID-19
China is die wêreld se tweede grootste ekonomie en hulle het einde Desember 2022 uiteindelik hul “zero”-beleid oor Covid-19 afgeskaf. Dit sal die in- en uitvoermark hopelik bevoordeel. China het wel al voor die pandemie monetêre probleme ervaar, wat kan verhoed dat hulle so vinnig sal groei soos wat hulle hoop.
Die enorme ekonomiese groei van China in die 2010’s was grootliks aangevuur deur vinnige toenames in sogenaamde “skadukrediet”. Skadubankdienste is die bestuur van krediet buite die formele bankstelsel en regulasies. Die aanvaarding van hierdie vorm van finansiering het tot verhoogde onstabiliteit gelei en China se regering het in 2016 gereageer deur streng monetêre en regulatoriese beheermaatreëls in te stel.
Die skadubankstelsel was baie groter as wat China verwag het en dit het ’n groot invloed op die ekonomie gehad. Kleiner banke het hul verpligtinge versuim, wat daartoe gelei het dat kredietaansoeke tot ’n groter mate afgekeur is. Ontwikkelaars het geldelike probleme ondervind en residensiële projekte het tot stilstand gekom, wat potensiële kopers afgeskrik het.
Grondverkope het in die eerste helfte van 2022 met byna 50% gedaal in vergelyking met ’n jaar vroeër. Konstruksie het ook afgeneem en daarom sal die vraag na onder andere boumateriale daal en laer pryse tot gevolg hê.
LOGISTIEK
Logistieke probleme kan nog tot twaalf maande neem om na normaal terug te keer. Gelukkig is die koste van seevragvervoer besig om te daal nadat dit die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet het.
Wat kan Suid-Afrika te wagte wees?
Suid-Afrika kan homself staal teen verdere rentekoersverhogings. Ten minste nóg twee 25-basispuntverhogings word vir die eerste helfte van 2023 verwag. Die stygende inflasie het die laer inkomstegroep baie hard getref. Dié inkomstegroep ervaar ’n hoër inflasiekoers omdat die grootste gedeelte van hul inkomste aan voedsel en energie gespandeer word. Rentekoerse sal hoog bly totdat die inflasiekoers weer bestendig is – op die Reserwebank se primêre mikpunt van 4,5%.
Die Ekonomievoorspellingsagentskap (EFA) se vooruitsigte wys dat die rand/dollar-wisselkoers in 2023 waarskynlik tussen R15,98 en R18,25 sal wissel. Indien die rand versterk en olie goedkoper word vir ’n volgehoue tydperk, kan die inflasiekoers vinniger daal.
Dit is baie moeilik om die prys van brent-ruolie te voorspel. Daar is baie faktore wat ’n rol speel, soos hoe vinnig China sy markte gaan heropen en sy ekonomie aan die gang kry, die vermoë van lande om ’n resessie te vermy en die oorlog tussen Oekraïne en Rusland – basies alles wat die vraag en aanbod beïnvloed.
Tydens die skryf van hierdie artikel (Januarie 2023) is die volgende voorspellings oor die moontlike olieprys gemaak:
- Die Energie-inligtingsadministrasie (EIA): ’n Gemiddelde prys van $83 per vat.
- Reuters: $89,37 per vat.
- Die Olieprysinligtingsdiens (OPIS): ’n Gemiddelde prys van $95 tot $96 per vat.
- Infrastructure Capital Advisors: $80 tot $100 per vat.
- Bank of America Global Research: ’n Gemiddelde prys van $100 per vat.
’n Wisseling van $13 per vat is nie baie nie, maar teen $100 per vat en ’n rand wat nie baie sterk is nie, gaan dit Suid-Afrika se ekonomie uiters nadelig beïnvloed.
Dit lyk nie asof daar ’n lig in die tonnel vir Eskom is nie – veral nadat beurtkrag in 2022 rekordvlakke bereik het. Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het op 12 Januarie vanjaar Eskom se verhoging van 32% verwerp en ’n verhoging van 18,65% goedgekeur. Dit tree op 1 April in werking. Die ekonomie kan eenvoudig nie sinvol groei of beleggers lok sonder betroubare kragvoorsiening nie, maar hierdie drastiese verhoging – wat meer as dubbel die inflasiesyfer is – gaan die plaaslike ekonomie net verder onder druk plaas.
Dit blyk dus dat 2023 letterlik en figuurlik nog donkerder as 2022 gaan wees. BNP Paribas voorspel dat ongeveer 200 dae se beurtkrag verwag kan word, hoofsaaklik fases 3 en 4.
Die mynboubedryf, wat ook van kardinale belang vir die ekonomie is, sal steeds negatief beïnvloed word deur Transnet wat van die spoor af is en nog vir ’n geruime tyd sal af bly. Dit sal uitvoere vertraag en die pryse van minerale en metale sal hoog bly.
Daar is ook geen teken dat die verval van infrastruktuur wat die staatsdiens se verantwoordelikheid is, soos watervoorsiening en die instandhouding van paaie, binnekort aandag sal geniet nie.
’n Ander groot negatiewe faktor vir die ekonomie is die hoë werkloosheidsyfer en die vraag na hoër lone.
Dit alles is ’n smeltkroes van onstuimighede wat na verwagting korttermyngroei van slegs 0,5% vir Suid-Afrika tot gevolg sal hê.
Landbouvooruitsigte
- Voorspellings vir landbou-insetkoste was ten tyde van die skryf van hierdie artikel nog vaag. Daar word wel verwag dat saadpryse moontlik kan styg.
- Kunsmispryse behoort ongeveer 24% laer te wees as in Mei 2022 en daar word ook geen tekorte vir 2023 voorspel nie. Dit is wel belangrik om te onthou dat die wisselkoers ’n baie groot rol in kunsmispryse speel.
- China is die grootste vervaardiger van die meeste plaagdoders. Die vraag na plaagdoders het in 2022 drasties gedaal. Indien dié tendens in 2023 voortgaan, sal verskaffers geen ander keuse hê nie as om hul pryse te laat daal – tensy die regering ingryp om verskaffers te help.
Ten tyde van die skryf van hierdie artikel was die Julie 2023-prys vir witmielies R4 352/ton en vir geelmielies R4 418/ton. Mei se sonneblom- en sojaboonpryse was onderskeidelik R9 810/ton en R9 025/ton. Dit is nog steeds baie hoë pryse, waaraan produsente die afgelope paar jaar gewoond geraak het. Met die afgelope plantseisoen se hoë insetkoste, mag die kommoditeitspryse vir seker nie daal nie.
Samevatting
Die wêreldwye ekonomiese vooruitsigte vir 2023 lyk nie baie rooskleurig nie. Daar is nog baie onsekerhede ná die Covid-19-pandemie. Suid-Afrikaners gaan hulle moet staal vir ’n moeilike tydperk wat voorlê. Dit blyk wel asof daar lig in die tonnel is vir graanprodusente, met insetkostes wat in 2023 moontlik effens kan daal.
Bronnelys
- 5 economic challenges that await us in 2023. https://www.dw.com/en/economic-challenges-that-await-us-this-year/a-64242192 [17 Januarie 2023]
- Bank of America’s chief economist shares economic outlook for 2023. https://www.cbsnews.com/video/bank-of-america-chief-economist-economic-outlook-2023/ [17 Januarie 2023]
- Crude oil prices forecast to decline second half of 2023. https://www.eia.gov/todayinenergy/detail.php?id=55159 [17 Januarie 2023]
- Economic trends to watch in 2023. https://www.news24.com/fin24/economy/economic-trends-to-watch-in-2023-20230101 [17 Januarie 2023]
- Expect more rate hikes in 2023: Expert. https://businesstech.co.za/news/finance/654111/expect-more-rate-hikes-in-2023-expert/
- Geen rooskleurige toekoms vir SA in 2023, tensy… https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/geen-rooskleurige-toekoms-vir-sa-in-2023-tensy/ [17 Januarie 2023]
- Global economy 2023: Why central banks face an epic battle against inflation amid political obstacles. https://menafn.com/1105378901/Global-Economy-2023-Why-Central-Banks-Face-An-Epic-Battle-Against-Inflation-Amid-Political-Obstacles [17 Januarie 2023]
- Global economy faces tougher year in 2023, IMF’s Georgieva warns. https://www.moneyweb.co.za/news/international/global-economy-faces-tougher-year-in-2023-imfs-georgieva-warns/ [17 Januarie 2023]
- How high will interest rates rise in 2023? Economists, markets are skeptical of Fed hike plan. https://www.usatoday.com/story/money/2022/12/18/fed-raise-interest-rates-higher-hikes-expected/10912296002/ [17 Januarie 2023]
- Professional forecasters’ outlook for 2023 and caveats based on past performances. https://research.stlouisfed.org/publications/economic-synopses/2023/01/06/professional-forecasters-outlook-for-2023-and-caveats-based-on-past-performance [17 Januarie 2023]
- Rand forecast by the Economy Forecast Agency. https://randforecast.com/dollar-to-rand-prediction [17 Januarie 2023]
- SA’s economy in 2023 – slow growth and high food prices create a perfect storm. https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-12-27-sas-economy-in-2023-slow-growth-and-high-food-prices-create-a-perfect-storm/ [17 Januarie 2023]