Landbou is een van verskeie bedrywe in die samelewing wat vir die gebruik van waterbronne meeding. Dié bedryf word derhalwe dikwels daarvan beskuldig dat dit die grootste bydraer tot watervermorsing is. Presisiebesproeiing het ten doel om die vermorsing van water heeltemal te vermy en vorm dus ’n belangrike stuk van die volhoubare landboulegkaart.
Met die groeiende wêreldbevolking wat in 2022 altesaam 8 miljard bereik het, moet al meer voedsel geproduseer word. Die oppervlakte van die landbougrond waarop geproduseer word, het oor die jare dieselfde gebly of selfs verminder. Nuwe maniere moet dus gevind word om meer voedsel op dieselfde of selfs kleiner oppervlaktes te produseer. Verhoogde produksie op dieselfde oppervlakte is slegs moontlik deur presisieboerdery op alle fasette van voedselproduksie toe te pas.
Besproeiing
Besproeiing is ’n element van presisieboerdery wat dikwels misgekyk word of te min aandag kry. Aangesien water ’n skaars hulpbron is, word besproeiing op ’n beperkte skaal in die meeste voedselproduserende lande toegepas. Die grootste gedeelte van voedselproduksie vind dus op droëlande plaas, waar slegs op reënwater vir produksie staatgemaak word. Waar waterbronne geredelik beskikbaar is, is besproeiing egter ’n belangrike aspek om op te fokus.
Verskeie stelsels is ontwikkel waardeur besproeiingswater toegedien kan word. Die algemeenste stelsels wat doeltreffend vir besproeiing gebruik word, is spilpunte, mikrobesproeiing en druppers. Elkeen het sy eie voor- en nadele, asook doeltreffendheid.
- Vir graangewasverbouing onder besproeiing sal spilpunte die beste aangewend kan word.
- Mikrobesproeiing en druppers kan weer doeltreffender in boorde gebruik word.
Spilpunte word dikwels op ’n groot skaal gebruik, maar mikro- en drupbesproeiing se watertoediening is doeltreffender. Mikrobesproeiing dek ’n groter gebied as drupbesproeiing, wat die bestuur van die gebied wat natgemaak word se grootte makliker maak. Mikrobesproeiing se doeltreffendheid in die toediening van water is 85%, terwyl drupbesproeiing se doeltreffendheid 95% is.
Die verdamping van water en die instandhouding van spilpunte en mikrobesproeiing is hoër as by drupbesproeiing. Kunsmis kan ook met albei stelsels doeltreffend toegedien word, maar dit is doeltreffender met druppers omdat geen kunsmis dan op die blare beland nie.
Druppers kan makliker verstop as spilpunte en mikrobesproeiing. Dit is soms ook moeilik sigbaar. ’n Fyner filter word benodig omdat die spuitpunte kleiner is. Dié stelsel moet ook goed bestuur word.
Skedulering
Presisiebesproeiing kan slegs toegepas word deur besproeiingskedulering te gebruik. Die eerste stap tot presisiebesproeiing is dus die keuse van ’n besproeiingstelsel.
- Die ideale stelsel moet geskik wees vir die tipe gewas en die grond wat gebruik gaan word.
- Water wat vir besproeiing gebruik gaan word en die gronde wat besproei gaan word, moet ook vooraf ontleed word.
- Die grond wat gebruik gaan word, word nie net chemies ontleed nie, maar dit moet ook vooraf fisies gekarteer word om die grondeienskappe te bepaal en te bevestig dat dit wel geskik is. Klem moet veral op grondeienskappe soos dreinering en waterhouvermoë gelê word.
Doeltreffende besproeiingskedulering kan slegs uitgevoer word as bogenoemde inligting beskikbaar is. Verskeie apparate kan gebruik word om besproeiingskedulering doeltreffend te doen. Van die toerusting wat meestal gebruik word, is neutronvogmeters en elektroniese vogmeters – sien Foto 1 en 2.

Die vogmeters moet vir elke gewas en elke grondsoort noukeurig gekalibreer word. Daarsonder kan skedulering nie doeltreffend gedoen word nie. Verskeie faktore moet in ag geneem word om die doel van skedulering en presisiebesproeiing te bereik. Dit is onder andere:
- Grondkenmerke: Faktore wat hier in ag geneem moet word, is die grond se plantbeskikbare water (PBW), asook die boonste en onderste vlakke van plantbeskikbare water. Hierdie grondeienskappe word deur grondkenmerke soos die struktuur, tekstuur, gronddiepte en keerlae bepaal.
- Gewas: Die tipe gewas en sy waterbehoeftes, asook die groeistadium waarin die gewas is (gewasfaktor), speel ’n groot rol.
- Grondbedekking: Grond wat deur gewasse bedek is, sal minder water deur verdamping verloor as grond wat onbedek is.
- Klimaat: Die klimaat het ’n uitwerking op die waterverbruik en beskikbaarheid van water. Só sal die verdampingstempo op ’n droë, warm, sonnige en winderige dag hoër wees as wanneer die lug vogtig en koel is op ’n bewolkte, windstil dag. Die heersende temperatuur beïnvloed transpirasie in plante, asook die verdamping van water. Die jaarlikse reënval beïnvloed ook die hoeveelheid water wat deur besproeiing toegedien moet word.
- Elektrisiteit: Elektrisiteit word benodig om te besproei. Die beskikbaarheid hiervan word toenemend ’n probleem in Suid-Afrika. Alternatiewe kragbronne, soos kragopwekkers of sonpanele, behoort alreeds oorweeg te word indien ’n nuwe ontwikkeling beplan word.
- Helling: Die hellings van lande moet in ag geneem word om die afloop van besproeiingswater te beperk. Steil hellings kan tot oormatige afloopverliese lei.
Samevatting
Presisiebesproeiing is die weg na hoër opbrengste en winste. Met presisiebesproeiing is die doeltreffende toediening van water, hetsy in ’n groentetuin, boord of graanland, moontlik. Dit is belangrik om bewus te wees van die faktore wat watertoediening deur besproeiing kan belemmer.
Al die fasette op ’n plaas moet soos ’n legkaart inmekaar pas. Geskikte tegnologie is reeds algemeen beskikbaar om stelsels op die plaas te verbeter. Met presisiebesproeiing kan die skaars waterhulpbronne beter bestuur word, die damme vol gehou word en meer voedsel op ’n winsgewender wyse verskaf word.
Bronnelys
- Landbou, 2003. Boere moet vogbestuur opknap. https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/akkerbou/boere-moet-vogbestuur-opknap-20170914
- Netafim, 2014. Water-use efficiency powered by precision irrigation. https://www.netafim.com/en/precision-Irrigation/water-use-efficiency/
- Steyn M, Graan SA, 2020. Doeltreffende waterbestuur by mielies. https://sagrainmag.co.za/2020/09/30/doeltreffende-waterbestuur-by-mielies/
- Vorster SJR, LNR-Landbou-Ingenieurswese, 2021. Stappe tot suksesvolle besproeiing. https://www.arc.agric.za/arc-iae/News%20Articles%20Library/12%20Stappe%20vir%20suksesvolle%20besproeiing.pdf