Simbiose is volgens definisie die saamleef van verskillende organismes in die plante- en diereryk tot mekaar se voordeel (HAT). Hierdie unieke voordelige verhouding van verskillende organismes is ’n uiters belangrike natuurmeganisme om te verseker dat die onderskeie organismes kan oorleef en selfs floreer. Die teendeel is egter ook waar in gevalle waar die simbiotiese verhouding om welke rede ook al gestaak word en die onderskeie organismes nie meer op dieselfde vlak as voorheen kan voortbestaan nie.
Daar kom dan ook in die natuur ’n ander toksiese verhouding voor, naamlik parasitisme, waar die een organisme ’n ander tot sy eie voordeel benut ten koste van die ander een se voortbestaan. In ernstige gevalle oorleef die organisme wat geparasiteer word nie hierdie verhouding nie.
In die gebied vanaf suidelike Mexiko en oos van die Andes-gebergte tot in die Amasone kom daar ’n klein knaagdier genaamd die agouti voor. Hulle word meestal in die laagliggende gebiede en tropiese woude gevind. Die agouti weeg tot soveel as 6 kg, met ’n lang lyf en groterige kop, maar met maer bene. Dit is besonder beweeglik en kan tot 2 m hoog spring vanuit ’n stilstaande posisie.
As ’n reël is die agouti baie waaksaam, wat veroorsaak dat hulle baie moeilik van nader beskou kan word. Die leser kan met reg hier begin vra wat hierdie knaagdiertjie dan besonders maak. Is dit nie maar net nog ’n knaagdier, soos ’n rot of muis, wat in ’n stadium ’n plaag raak nie? Die uniekheid lê in die feit dat die agouti se dieet hoofsaaklik uit vrugte, neute en sade bestaan, met sommige van die spesies wat ook fungi, blomme, blare en insekte vreet.
Wat my egter getref het, is die feit dat die neute in die grond begrawe word vir tye wanneer kos moontlik skaars kan raak. Hierdie gedrag maak van die agouti een van die belangrikste soogdier-verspreiders van ’n wye reeks tropiese woudbome se sade. Hierdie sade wat só geplant word deur hierdie diertjie, beskerm dit teen beskadiging deur saadvreters en plaas dit terselfdertyd in ’n klam en vrugbare omgewing, waar dit kan ontkiem en aanleiding tot nuwe jong bome gee en uiteindelik weer ’n vrugtedrag vir die voortbestaan van die agouti verseker.
Die Suid-Afrikaanse landboutoneel is in ’n sekere mate eintlik ook ’n simbiotiese stelsel, waar die onderskeie rolspelers – waaronder die landbouprodusente, produsente-organisasies, georganiseerde landbou en selfs instellings soos die staat – van mekaar afhanklik is om te oorleef en ’n omgewing te skep wat voordelig is vir al die betrokke partye.
Dit is heeltemal onmoontlik vir ’n landbouprodusent om in isolasie te funksioneer en dan sy onderneming uit te brei. Sonder waardevolle insette deur die onderskeie partye in die waardeketting, kan die produksie van landboukommoditeite nie optimaal gebeur nie.
In die onlangse verlede het gesprekke deur verskeie verteenwoordigende instellings met belangrike besluitnemers plaasgevind om kwelpunte soos die onderbroke kragvoorsiening en die voortgesette beskikbaarheid van entstowwe te bespreek. Hierdie is ook ’n vorm van simbiose – maar inderdaad op ’n ander vlak.
Daar is uiteraard ook heelwat tekens van toksiese verhoudings in die plaaslike landboubedryf, waar ’n amperse apatiese houding of parasitisme deur sommige rolspelers teenoor die noodsaaklikheid van samewerking vir ’n groter doel ’n baie ernstige en nadelige impak op die suksesvolle produksie van landboukommoditeite het.
Dit is bykans onverstaanbaar dat hierdie rolspelers, wat ook sommige produsente insluit, nie besef dat almal in die landbou-omgewing móét saamwerk om die simbiose van ’n beter bestel moontlik te maak nie. Soms is dit nodig om by ’n boerevereniging aan te sluit, jou graanheffing oor te betaal of net ’n inligtingsvergadering by te woon om die kommunikasienetwerk te versterk.
Die Suid-Afrikaanse landboubedryf word deurlopend geteister deur uitdagings wat die lewe moeilik maak. Om saam te staan en die simbiose van samewerking heelhartig te ondersteun, kan ’n groot verskil maak.