Die stygende insetkoste en markte wat onder druk is, is op almal se lippe. Kunsmis en glifosaat – om net enkele kommoditeite te noem – se koste het verdubbel. Die teenvoeter wat die saaiprodusent hiervoor moet hê om relevant te bly, is om berekend in beide die kantoor en in die lande te wees.
In sy kantoor moet die produsent hoë marges probeer handhaaf deur sy insetkoste so laag as moontlik te hou en terselfdertyd die hoogste moontlike verkooppryse te behaal. In die lande moet hy bly planne maak om beter te boer en meer produktief wees.
Die doel van ’n proef
“Beproef alles en behou die goeie” is ’n bekende gesegde wat produsente op die plaas ook behoort te implementeer om produksie-insette te bevraagteken en te toets. Beproef jou kunsmis, kultivar, bewerkings- en bemestingspraktyke en alles waarvoor daar dalk ’n beter alternatief kan wees om jou wins te verhoog.
Proewe behoort ’n groot rol in ’n saaiprodusent se besluitneming te speel. Dit laat hom toe om berekende besluite oor produkte en praktyke te neem, oor wat werk en wat nie werk nie. Hierdie artikel fokus veral op bemesting.
Soms is om te kan glo, tog om eers te sien. Met ’n proef word dit getoets aan produktiewer of stabieler opbrengste. Dit beteken dikwels meerjarige proewe. Alle maatskappye behoort gemaklik te wees om ’n produsent te akkommodeer met ’n proef op sy plaas vir wat ook al hulle aan hom wil verkoop. Wanneer hy dan met ’n keuse gekonfronteer word oor waarheen sy belegging gaan, het hy die resultate om ’n besluit te kan neem en dit te kan staaf. Met selfvertroue dat die regte besluit geneem is, kan ’n produsent dit dan aan die natuur oorlaat, wat ten alle tye die laaste sê het.
Ongeag of kunsmismengsels teen mekaar opgeweeg word of hoë-opbrengsproewe gedoen word, is hoër opbrengste nie noodwendig die beste nie. Die doel van ’n proef is om vas te stel waar die marge – of die wins – die grootste is.
Met hoë-opbrengsproewe, wat geleidelik-verhoogde peile insluit, word die ekonomiese optimum bepaal. Dit is die verskil tussen die gewas se opbrengswaarde en die kunsmiskoste wat die opbrengs sal lewer. Die ekonomiese optimum verskil van die agronomiese optimum, wat die maksimum opbrengs moontlik verteenwoordig. Hierdie konsep word in Figuur 1 – ’n vereenvoudigde skematiese voorstel – weergegee.

Die opbrengs, asook die waarde van die opbrengs (groen lyn), styg soos wat die insette of kunsmispeil styg, ’n klimaks bereik en geleidelik begin daal soos wat moontlike toksisiteit of kunsmisbrand (ook bekend as soutbrand) intree.
Maksimum wins word bereik wanneer die opbrengs se waarde so ver as moontlik van die insette se waarde is. Dit is nie by die klimaks (a) nie, maar waar die helling van die opbrengskurwe parallel met die kostelyn is (b). Waar die kurwe en die kostelyn kruis, is weer ’n gelykbreekpunt waar geen wins gemaak word nie. Die ekonomiese optimum is afhanklik van grond-verskille – daarom sal bure nie noodwendig dieselfde optimale bemestingspeile hê nie. Dit wissel ook volgens die reënval, bewerkingstyl, kunsmismengsel en ander faktore. Dit gee genoeg rede vir elke produsent om sy eie proewe op sy plaas te doen.
Indien ’n produsent gerat is vir presisieboerdery, kan hy vir die vooraf-geïdentifiseerde grondtipes in sy lande elk ’n ekonomiese optimum bepaal. Wanneer produkte teen mekaar opgeweeg word, geld dieselfde beginsel dat die ekonomie in ag geneem moet word.
Risiko’s moet ook in ag geneem word. Sekere produkte dra groter risiko’s vir verliese aan produkte of produkdoeltreffendheid in ongunstige toestande, soos loging en vervlugtiging. Oor die lang termyn sal dit duidelik raak dat sekere produkte of praktyke meer of minder risiko’s inhou, en beproefde besluite kan dan geneem word. ’n Effens laer marge is aanvaarbaar wanneer kleiner risiko’s geneem word.
Beplanning
Die beplanning van ’n proef is die belangrikste stap. Kies die perseel sorgvuldig sodat dit verteenwoordigend van die blok of plaas is waar die resultate toegepas gaan word. Maak seker dat proewe op grond gedoen word waar die pH reeds reggestel is.
Dit sal optimale verbruiksdoeltreffendheid van voedingstowwe verseker en goeie resultate gee waar die grond teen volle potensiaal kan lewer en enige tekortkominge van die bemesting in die opbrengs uitlig.
’n Land se voedingstofstatus en geskiedenis maak ’n groot verskil aan die opbrengs. ’n Hoër voedingstatus in die grond beteken dikwels beter verbruiksdoeltreffendheid. Dit is algemeen bekend dat waar byvoorbeeld voorheen ’n spilpunt was, die pH en die voedingstofvlakke heelwat hoër as die res van die land is en ook hoër opbrengste kan lewer. Dit beteken dus dat die perseel so homogeen as moontlik moet wees, sodat enkele bane nie hierdeur bevoordeel of benadeel word deur enige ander faktore soos siektestremming nie.
Beplan die proef se uitleg vooraf sodat dit maklik en vinnig uitvoerbaar is. Planttyd is gewoonlik ’n geskarrel en ’n proef moenie vir die laaste akkers gelos word nie. Dit moet in die optimale planttyd gedoen word – wanneer die resultate geld. Alles moet dus glad verloop. Merk die bane! Talle proewe is al per ongeluk uitgestroop. Die produkte wat gebruik gaan word, behoort ook vooraf op die plaas te wees sodat dit gereed kan staan vir toediening in hierdie besige tyd.
Figuur 2 is ’n voorstelling van ’n proefuitleg wat twee produkte, of peile, ’n kontrole en vier herhalings insluit. Dit word aanbeveel dat meer as drie herhalings gedoen word, wat kontroles insluit. Die kontrole kan bloot die algemene praktyk op die plaas wees wanneer nuwe produkte of peile getoets word. Die kontrole kan ook ’n nul-peil wees waar geen produk toegedien word nie. Probeer om dit eenvoudig te hou en slegs twee of drie produkte/peile in te sluit. Gebruik slegs een kultivar wanneer bemestingsproewe gedoen word om veranderlikes min te hou.

Hou die bestuur oor die hele proefperseel dieselfde. Plant die proef in geheel op dieselfde dag, asook wanneer topbemesting gegee word, om die moontlike veranderlikes so min as moontlik te hou.
Gedurende die seisoen kan die plante gemonitor word om enige verskille, soos wortelontwikkeling (Figuur 3), te evalueer. Grawe profielgate en doen blaarontledings. ’n Profielgat is ’n baie goeie hulpmiddel wat gewoonlik te min gebruik word. ’n Landboukundige kan ’n nuttige rol speel by die voorstel, uitvoer en interpretering van proewe.

Om te weet, moet jy meet
Beplan vooraf hoe die proef gestroop gaan word en hoe die opbrengs gemeet gaan word. Die beste resultate word verkry deur weegwaentjies of weegselle, wat onder die wiele van ’n wa geplaas word, te gebruik. ’n Goed gekalibreerde stropermonitor sal ook werk.
Indien die proef korrek uitgevoer is, kan ’n verteenwoordiger van die maatskappy wie se produkte beproef word of die plaaslike landboukundige help met ’n statistiese verwerking van die data wat verkry is. Dit is belangrik om ’n groot proef se resultate reg te interpreteer. Die langtermynuitwerking van die nuwe produk of metode word dalk eers later gesien en daarom is langtermynproewe weereens belangrik.
’n Hoë-opbrengsproef is per definisie ’n langtermynproef wat oor jare gedoen word om die natter en droër jare in ag te neem. Sommige produkte se voordeel word dikwels in droër jare gesien, omdat die produkte wat gebruik is die plante meer stresweerstandig maak.
’n Paar wenke vir die oesdag:
- Maak seker dat die hele proef op een dag gestroop word.
- Oes die proef met een stroper om foute en verskille tussen stropers te voorkom.
- Maak seker dat die stroper se tafel die regte breedte is om ’n vol strook of planterry te stroop.
- Meet die lengte van elke strook met ’n akkurate GPS wanneer weegselle of weegwaentjies gebruik word, om akkurate opmetings te kan doen van die grootte van die gebied wat gestroop word.
- Stroop elke strook op dieselfde wyse – wanneer byvoorbeeld sojabone gestroop word, moet dwarsdeur die proef teen dieselfde hoogte gestroop word.
- Hou die proefplan byderhand!
PROEWE
’n Paar proewe om op jou plaas te doen gedurende die volgende seisoen:
- Plantermengsel: Plant met ’n mengsel wat meer fosfaat of kalium in die band plaas, of ’n beter stikstofbron het. Die keuse van ’n plantermengsel is uiters belangrik en kan ’n groot verskil maak aan produksie deur die plant ’n goeie wegspring te gee en vroeë wortelgroei te bevorder.
- Topbemesting: Die stikstofbron, peil, metode van plasing, tydsberekening deur vroeër of later in die seisoen toe te dien, of ’n ekstra toediening om beter verspreiding deur die seisoen te hê, is algemene komponente wat beproef kan word.
- Hoë-opbrengsproewe: Bepaal die ekonomies-optimale voedingstofpeile in jou program. Begin by stikstof, omdat dit die element is wat die grootste rendement op jou belegging verdien. Toets beide peile in die plantermengsel en in die topbemesting.
- Blaarvoeding: Blaarvoeding kan dikwels mikro-elementtekorte aanspreek. Daar word hoegenaamd nie genoeg proewe hiermee gedoen nie en daar word net voor die voet gespuit. Blaar- en sapontledings is goeie rigtingaanwysers vir watter mikro-elemente aandag moet kry.
- Plantervoortoediening: Vroeë risosfeerstimulante in die plantervoor het die vermoë om voedingstofverbruiksdoeltreffendheid te verhoog en ’n saailing ’n ontsettende goeie wegspring te gee.
- Bewerkingspraktyke: Bewerkingspraktyke het dikwels ’n invloed op die voedingstofbeskikbaarheid. Beproef verskillende metodes om meer organiese materiaal op die bou, of om dalk meer dikwels ’n bewerking te doen wat die bogrond vir ’n slag weer meng indien minimumbewerking reeds toegepas word. Voorbeelde is konvensioneel teenoor strip-till, of geen- en minimumbewerking.
Samevatting
Beplan hierdie winter jou volgende proef en oorweeg moontlik om met ’n nuwe langtermynproef op jou plaas te begin. Dit is die enigste manier om die beste praktyke op die plaas te identifiseer. Dit behoort deel uit te maak van elke seisoen se produksiebeplanning in die boerdery. Met die tempo van vooruitgang en die tegnologie wat jaarliks nuwe produkte en kultivars beskikbaar stel, is dit belangrik dat die produksiepraktyke gereeld aangepas word om in beide die kantoor en in die lande sukses te behaal.