Met elke seisoensverandering kom nuwe uitdagings op die plaas. Maak daarom gebruik van die dienste wat NWK Landboubestuursdienste se span bied om uitdagings op die plaas te bekamp.
In hierdie uitgawe gee Martiens du Plessis (bestuurder: landboustelsels en -projekte) onder andere riglyne oor winteronkruid en swamsiektes op gewasse. In sy bydrae deel Pieter le Roux (hoof diere- en weidingspesialis) wenke oor weidingsbestuur en dieregesondheid.
Beheer winteronkruid betyds
Winteronkruid kom tipies in April en Mei op. Met die dreigende El Niño in die volgende seisoen, raak grondvogbestuur nou uiters belangrik, en daarmee saam ook uitnemende onkruidbeheer. Laat April en begin Mei is ’n goeie tyd om hierdie onkruide by wyse van oorhoofse bespuitings in mielies met glifosaat in Roundup Ready-kultivars te beheer. In wye rye (2,3 m) kan dit meganies by wyse van vlak skoffelbewerkings gedoen word.
Onkruidbeheer in hierdie stadium help om die lande in die winter skoon te kry. Hierdie praktyk word sterk aanbeveel omdat dit daartoe bydra om meer grondvog na die volgende seisoen oor te dra, en dit help ook betekenisvol om lande ná stroop te kan bewerk.
Swamsiektes
Swamsiektes op gewasse is hierdie jaar nie so erg soos in die vorige paar nat jare nie. Desnieteenstaande moet dit steeds dopgehou word en waar nodig beheer word.
Voorbeelde hiervan is noordelike blaarskroei en grysblaarvlek op mielies, witroes, poeieragtige meeldou, hoekige blaarvlek en Sclerotinia stam- en kopvrot op sonneblomme, en vroeë blaarvlek, laatblaarvlek, spatselvlek en pepervlek op grondbone. As hierdie siektes vermoed word, skakel dadelik die landboukundiges by NWK Landboubestuursdienste.
Presisie vir die nuwe seisoen
As chemiese presisie nog nie op die oorlêlande uitgevoer is nie, kontak NWK Presisieboerdery om dit te doen. Dit is nog nie te laat nie. Beplan ook jou presisiestrategie vir die nuwe seisoen saam met NWK Presisieboerdery by wyse van ’n gratis plaasbesoek.
Skakel NWK Landboubestuursdienste by 018 633 1143 vir advies rakende presisiedienste en ander produksiepraktyke.
Weidings en voeding
Wydverspreide reën het reeds in die NWK-bedieningsgebied voorgekom. Lichtenburg het in die tydperk vanaf Oktober 2022 tot Januarie 2023 alreeds 315 mm reën ontvang.
Sedert die aanvang van die seisoen in Julie 2022 het die stasie sowat 93% van die langtermyngemiddelde (LTG) neerslag tot einde Januarie 2023 ontvang. Die NWK-gebied het in Januarie 2023 egter slegs 27% van Januarie 2022 se neerslag ontvang en slegs sowat 31% van die LTG vir dié gebied. Beide veld en aangeplante weidings het goed ontwikkel gedurende die eerste helfte van die seisoen.
Onthou:
- Die seisoen bied ’n goeie geleentheid om voer op te gaar vir latere verkoop of vir die opbou van ’n voerbank.
- Spaarkampe kan nou die geleentheid gegun word om saad te skiet vir versterking van die stand, veral waar dit voorheen swaar benut was.
- Geen verdere bemesting behoort vir die seisoen toegedien te word nie.
Dieregesondheid en bestuur
BEESTE
Somerdek
- Kalwers wat van April tot Junie gespeen word, moet met Multimin en vitamien A ingespuit word. Inentings teen knopvelsiekte, Slenkdalkoors, beesvirusdiarree (BVD) en milt- en lamsiekte is ook noodsaaklik.
- Verse wat in Maart/April 18 maande oud is of agt weke voor dektyd is, moet hul tweede dosis RB51 kry. Hulle moet ook teen BVD ingeënt, ontwurm en, waar nodig, teen lewerslak behandel word. Waar nodig, moet hulle ook elke drie maande Multimin en vitamien A-inspuitings ontvang.
Winterdek
- Koeie wat vanaf Junie tot Augustus gedek word, kan vier weke voor dektyd (begin Mei), indien nodig, inentings teen vibrio, BVD, besmetlike misgeboorte, oftewel BM, (verkieslik RB51 indien nie voorheen teen BM geënt was nie), asook Multimin en vitamien A-inspuitings, ontvang.
- Verse wat in Mei/Junie gedek word, kan vier weke voor dektyd (begin April) hul tweede vibrio-inenting en vitamien A-inspuitings ontvang.
- Koeie en verse wat in Februarie tot Mei kalf: Goeie toesig is veral by verse nodig, waar kalfprobleme meestal voorkom. Verseker dat kalwers van veral verse ná geboorte suip om die stuwing van uiers te voorkom – dit kan lei tot verse wat hul kalwers snoep of selfs weggooi. Dit sal ook verseker dat alle kalwers genoeg kolostrum ontvang.
- Onthoring kalwers weekliks tydens die kalfperiode.
- Bulevaluasies kan gedurende Maart gedoen word, met die oog op die komende dekseisoen.
SKAPE
- Alle skape ouer as drie maande moet teen bloednier geënt word, veral waar beoog word om oesreste of groen aangeplante weidings in die winter te benut. Die beste resultate word verkry wanneer inentings ná ses weke met ’n skraagdosis opgevolg word.