Sowat 1 400 km se grondpaaie na NWK se silokomplekse word weer geskraap sodat vragte graan in die komende stroopseisoen so gerieflik as moontlik hierheen vervoer kan word. Van die paaie is erg verspoel na swaar buie reën die afgelope paar maande en moet basies herbou word net om dit meer toeganklik te maak.
Die tweede fase van dié projek het op 13 Maart afgeskop waarvan die kostes nagenoeg R1,4 miljoen sal beloop.
Paaie in die Oppaslaagte- en Delareyville-omgewing word tans geskraap, waarna paaie rondom Kameel, Geysdorp, Sannieshof, Coligny, Bodenstein en Koster ook aandag sal geniet.
NWK het verlede Julie ‘n kontrakteur aangestel en sowat 1 500 km se grondpaaie is toe geskraap. Dit het gevolg nadat NWK ‘n memorandum van verstandhouding met Noordwes se departement van openbare werke, paaie en vervoer onderteken het, waarvolgens dit sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak.
“Grondpaaie en selfs teerpaaie in Noordwes se toestand wissel van swak tot uiters swak en die provinsiale en nasionale regering gee regtig nie aandag aan die nodige onderhoud van paaie nie,” het Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, gesê.
“Daarom het NWK besluit om betrokke te raak by die skraap van paaie – nie net om sake met ons onderskeie bedryfspunte te vergemaklik nie – maar ook sodat ons klantebasis en ander inwoners in die omgewing voordeel uit die veiliger gebruik van die paaie kan put.
“Die maatskappy is reeds ‘n verantwoordelike burger van die land deurdat dit alle belastings betaal. Hierdie kan egter as ‘n verdere belasting bestempel word. As ons nie betrokke raak nie, is die risiko groot dat ons padnetwerk totaal in duie kan stort. Ons as NWK en ons klantebasis kan dit nie bekostig nie.
“Saam met ons produsente gaan ons poog om ‘n verskil aan sommige paaie te maak. Ons kan egter nie die totale verantwoordelikheid oorneem nie. Sommige grondpaaie is reeds in só ‘n haglike toestand dat slegs die herbou van hierdie paaie ‘n opsie is. Veral paaie in die Zeerust en Groot Marico-bosveld is so te sê onbegaanbaar,” het Theo afgesluit.
Die projek sal na verwagting teen einde Mei afgehandel wees.