Onlangs is nog ‘n mens wreed en onverklaarbaar vermoor toe sy uitgeklim het om ‘n plaashek oop te maak. Nog ‘n persoon wat aangerand is sonder ‘n verstaanbare motief deur iemand wat nie honger, armoede of enige van die ander verskonings kan gebruik nie.
Eersdaags moet nog ‘n familie voor ‘n oop graf staan en ‘n onvervangbare verlies probeer verwerk. Dit terwyl groepe en “leiers” debatteer oor redes, motiewe, verskonings en statistiek. Sinneloos redeneer oor kategorieë van misdaad en slagoffers. Vals probeer verduidelik dat ons ‘n regerings gedrewe stelsel het waarin bekwame amptenare suksesvol werk of selfs net reageer.
Die feit is dat misdaad toeneem. Dis ook ‘n feit dat niemand die reg het om ‘n onskuldige mens te beseer, aan te val en te vermoor nie. Dis ook ‘n feit dat ons owerhede wat misdaad moet bekamp, ondersoek en bestraf waar nodig, ons faal. Baie misdadigers se optrede word nie ondersoek nie, misdadigers word nie gestraf nie en of vrygelaat om verder te steel, te vermink en te vermoor. Daar is min konsekwensies vir misdadigers en almal wat hul toelaat om met hul onwettighede aan te gaan.
Daar moet dringend anders gedink word oor misdaad op plase, na die duidelik gefokusde aanvalle op produsente, hulle gesinne en werkers. Daar moet egter ook dringend aandag gegee word aan ‘n verwoestende faling van die misdaadvoorkoming- en strafregstelsel. Daarvoor is daar te veel families en gesinne wat gereeld geraak word deur die verlies van geliefdes.
Agri NW is innig jammer vir elkeen wat geraak word deur Hannetjie van Zyl se dood. Baie sterkte aan Sarel van Zyl en hul geliefdes. ‘n Groot dankie aan elkeen wat tydens hierdie en vorige soortgelyke gevalle, bereid was om te help, te beskerm en te ondersteun – dikwels onder gevaarlike omstandighede en op eie koste.
Agri NW sal voortgaan om alles moontlik te doen om mense te help oplei, ondersteun en te beskerm. Dit is duidelik dat die span wat beskerming moet bied en moet opvolg vergroot sal moet word – én dat meer hulp en ondersteuning nodig is in Noordwes.







