’n Styging in uitgawes, veral as dit voel of die prysbeweging heeltemal onvanpas is, het die vermoë om enige produsent negatief te maak.
Dit is ’n gegewe dat uitgawes jaarliks toeneem. Daar is egter ’n baie sterk aanvegbare rede-nasie dat inkomste nie noodwendig jaarliks met dieselfde intensiteit as uitgawes basis toeneem nie. Hierdie verskynsel word gewoonlik as die sogenaamde knyptang-effek beskryf.
Die mens is van nature geneig om net na een aspek van ’n probleem of uitdaging te kyk – soos byvoorbeeld die styging in produksie-uitgawes, die minimumloon of brandstofpryse – en dan daarvolgens te reageer, en soms selfs te oorreageer. Soms is dit nodig om net ’n paar treë terug te staan en die bepaalde tameletjie op ’n meer holistiese manier te benader.
Die doel van hierdie artikel is nie om na al die boerdery-uitgawes te kyk nie, maar om net op ’n paar wat baie gereeld in gesprekke opduik soos vaste arbeidskoste, brandstofkoste, asook herstel- en onderhoudskoste, te fokus.
Tipes uitgawes
Voordat hierdie uitgawes bespreek word, moet daar eers gekyk word na waar vaste arbeid-, brandstof-, herstel- en onderhoudskoste in die verskillende uitgawe-groepe inpas.
Veranderlike koste, ook genoem direk-allokeerbare koste, sluit uitgawes soos saad, kunsmis, onkruiddoders, los arbeid, veemedisyne en voer in. Hierdie tipe uitgawes hou direk verband met die hoeveelheid uitsette wat geproduseer word. As daar geen produksie is nie, behoort daar ook geen veranderlike koste te wees nie.
Vaste koste, aan die ander kant, is koste wat aangegaan word ongeag of daar geproduseer gaan word of nie. Vaste arbeid word as ’n vaste koste gereken en vaste arbeidskoste sluit lone, rantsoene, werkloosheidversekering en enige ander uitgawes wat vir die vaste arbeiders aangegaan is, in. Ander uitgawes soos korttermynversekering, ’n bestuurder se salaris, boekhouer- en lisensiefooie, telefoon- en bankkostes vorm ook deel van die vaste koste.
Uitgawes soos brandstof, herstel- en onderhoudskoste behoort as veranderlike koste gehanteer te word. Rekordhouding is weens hierdie rede baie belangrik en daarom word hierdie koste dikwels as vaste koste gereken. Op plase waar rekordhouding nie hoog op die prioriteitslys is nie, maak brandstof-, herstel- en onderhoudskoste deel van die vaste koste uit. Dié praktyk is egter nie gewens nie, want in hierdie artikel gaan die omvang van brandstof-, herstel- en onderhoudskoste in ’n boerdery se uitgawestruktuur duidelik uitgewys word.
Die uitwerking van vaste arbeid-, brandstof-, herstel- en onderhoudskoste gaan aan die hand van 15 jaar se werklike syfers, wat by die Delareyville-studiegroep ingesamel is, weergegee word.
VASTE ARBEID
Hierdie is een van die uitgawes wat gewoonlik baie bespreking ontlok – beide op finansiële en sosiale vlak. As daar suiwer op ’n finansiële basis na die totale vaste arbeidskoste gekyk word, het die gemiddelde koste per vaste arbeider per maand vanaf 2007/2008 tot 2021/2022 met 264% toegeneem (Grafiek 1). Gemiddeld is dit 17,6% per jaar, wat ver bokant die land se jaarlikse inflasiesyfers is.

Voordat ons almal te kwaad word, is dit nou nodig om ’n paar treë terug te gee en te kyk hoe die koste van vaste arbeid lyk, uitgedruk teenoor die res van die boerdery-uitgawes oor tyd. Om dit te kan doen, moet die bruto boerdery-uitgawes (BBU) per jaar eers bepaal word. Dit is niks meer nie as net die boerdery se totale veranderlike en vaste kostes wat bymekaar getel is.
In Grafiek 2 word die afgelope 15 jaar se werklike gemiddelde BBU vir die studiegroep aangedui. Indien die BBU na ’n per hektaar-berekening omgeskakel word, het dit met 275% van 2007/2008 tot 2021/2022 toegeneem, wat gemiddeld 18% per jaar was.

In Grafiek 3 word die totale vaste arbeidskoste as persentasie van die BBU sowel as die rand per arbeider per maand getoon. In 2007/2008 het vaste arbeid 5,8% van die BBU uitgemaak en 15 jaar later, met die groot styging in arbeidskoste, maak vaste arbeidskoste slegs 4,8% van die boerdery se gemiddelde BBU uit.

Met hierdie vergelyking word daar nie beweer dat vaste arbeid nie duur is nie, maar die vraag kan gevra word of ander boerdery-uitgawes in verhouding nie baie meer as die vaste arbeidskoste gestyg het nie. Arbeidskoste is dus nie die grootste of enigste sondebok in die drastiese verhoging van die BBU die afgelope 15 jaar nie.
BRANDSTOF
Die afname in die verbruik van brandstof – spesifiek diesel per hektaar vir mielieverbouing oor tyd – toon dat daar ’n positiewe verband tussen die laer verbruik van diesel is indien dit teen die verbeterde bewerkingspraktyke, beter tegnologie en produsente se groter ingesteldheid op koste gemeet word.
In die 2007/2008-produksiejaar was die studiegroep se gemiddelde brandstofverbruik om mielies te verbou, 82 liter/ha. Die dieselprys was in daardie stadium R8,89/liter. Vyftien jaar later het die gemiddelde brandstofverbruik om mielies te produseer met 35% na 53 liter/ha afgeneem. In dieselfde 15 jaar het die dieselprys met 122% na R19,76/liter gestyg (Grafiek 4).

Die twee jare kan soos volg met mekaar vergelyk word:
- 2007/2008: 82 ℓ/ha x R8,89/ℓ = R728,98/ha.
- 2021/2022: 53 ℓ/ha x R19,76/ℓ = R1 047,28/ha.
Al het die dieselprys oor 15 jaar met 122% gestyg, het die 35% se verlaagde/ekonomiese gebruik van diesel per hektaar die toename in brandstofkoste per hektaar tot 44% beperk. Oor ’n 15-jaar-tydperk is die netto uitwerking dat die brandstofkoste gemiddeld met slegs 2,93% per jaar tot 2021/2022 verhoog het.
Staan weer ’n paar treë terug. Indien daar slegs na die brandstofkoste gekyk word, is die styging astronomies, maar as daar na die groter prentjie gekyk word, het produsente en die bedryf maniere gekry om die geweldige stygings teen te werk. Die ongelooflike vermoë van die Suid-Afrikaanse produsent om die uitdagings suksesvol te hanteer, word nie genoeg aan die groot klok gehang nie. Deur net hierna te kyk, kan produsente hulself op die skouer klop.
HERSTEL- EN ONDERHOUDSKOSTE
Die studiegroep se gemiddelde jaarlikse toename in die herstel- en onderhoudskoste van trekkers en implemente oor die afgelope 15 jaar was 304% of 20% per jaar. Die studiegroep se gemiddelde aantal trekkers op die plase vir dieselfde tydperk het met tussen nege en twaalf per jaar gewissel, en die gemiddelde kW per hektaar land bewerk het gedurende dié tydperk tussen 0,54 kW tot 0,70 kW gewissel.
Alhoewel daar baie meer groter tipe trekkers op die plase is om bewerkings vinniger en doeltreffender te doen, het die boerderye nie noodwendig van al die kleintjies soos die MF188 en Fiat450 ontslae geraak nie. Dit is hierdie ou trekkers wat vir die sleep- en donkiewerk op plase aangewend word en hulle moet nog steeds in stand gehou word – daarom word dit ook in berekening gebring. Hou altyd ’n holistiese benadering in gedagte.
In Grafiek 5 word die jaarlikse herstel- en onderhoudskoste vir die afgelope 15 jaar getoon. Die toename in totale koste, veral in die laaste twee tot vyf jaar, is duidelik sigbaar.

Om soos met die vaste arbeids- en brandstofkoste net weer ’n paar treë terug te staan en na die groter prentjie te kyk, is dit in Grafiek 5 baie duidelik sigbaar dat die herstel- en onderhoudskoste per hektaar as persentasie van die BBU oor die 15 jaar van 2007/2008 tot 2021/2022 met 26% of 1,70% per jaar afgeneem het.
Die koste het mettertyd weens verskeie redes, wat nie nou bespreek gaan word nie, wel toegeneem. In praktyk beteken dit dat trekkers en implemente se herstel- en onderhoudskoste nie met dieselfde vlakke as die ander uitgawes toegeneem het nie.
Hoë styging in BBU
Watter uitgawes moet dan die skuld vir die hoë styging in die BBU kry?
As die vaste arbeid-, brandstof- en herstel- asook onderhoudskoste alles na rand per hektaar (R/ha) omgeskakel word, wys Tabel 1 hoe hierdie drie uitgawes oor die afgelope 15 jaar tot die styging in die BBU bygedra het. In Tabel 2 word die 15 jaar se toenames per jaar getoon.
As Tabelle 1 en 2 se syfers verder ontleed word, kan gesien word dat die brandstofkoste 1,44 keer hoër, herstel- en onderhoudskoste 2,79 keer hoër en vaste arbeidskoste 3,12 keer hoër was in 2021/2022 as in 2007/2008.
In dieselfde asem was die BBU in die 2021/2022-produksiejaar 3,75 keer hoër as in 2007/2008. Dit beteken dat die vaste arbeid-, brandstof-, herstel- en onderhoudskoste se toenames laer as die BBU se toename die afgelope 15 jaar was.
Om dit te probeer verklaar, is na die veranderlike koste van die vertakkings gekyk. Die volgende uitgawes – saad, bemesting, onkruid- en plaagdoders, los arbeid, gehuurde diens en vertakkingsdiverse – se koste het almal die afgelope 15 jaar meer as vaste arbeid, brandstof en herstelkoste toegeneem:
- Onkruid- en plaagdoders het met 698% per hektaar (47% per jaar) gestyg – of anders gestel, was dit 7,98 keer duurder in 2021/2022 as in 2007/2008.
- Vertakkingsdiverse het met 499% per hektaar (33% per jaar) gestyg, of was 5,99 keer duurder
in 2021/2022 as in 2007/2008. - Saad het met 443% per hektaar (30% per jaar) gestyg, of was 5,43 keer duurder in 2021/2022 as in 2007/2008.
- Gehuurde dienste het met 280% per hektaar (19% per jaar) gestyg, of was 3,80 keer duurder in 2021/2022 as in 2007/2008.
- Bemesting het met 275% per hektaar (18% per jaar) gestyg, of was 3,75 keer duurder in 2021/2022 as in 2007/2008.
- Los arbeid het met 224% per hektaar (15% per jaar) gestyg, of was 3,24 keer duurder in 2021/2022 as in 2007/2008.
Bogenoemde is nie nuwe nuus nie, maar daar kan seker gesê word dat dit meer aanvaarbaar is omdat dit voel of hierdie uitgawes ’n meer direkte bydrae tot produksie en daarmee saam uiteindelike winsgewendheid lewer.
Dit bly egter vir elke produsent geweldig belangrik om kennis te neem dat, alhoewel hierdie uitgawes nodig is om uiteindelik ’n inkomste te genereer, die uitwerking van die verkeerde produkpryse wel ’n negatiewe uitwerking op winsgewendheid kan hê. Kyk na al die uitgawes, nie net dié wat jou warm onder die kraag maak nie.
INKOMSTE VERSUS UITGAWES
Die BBU per hektaar het in die genoemde tydperk van 2007/2008 tot 2021/2022 met 275% toegeneem. Hiermee saam het die bruto boerdery-inkomste (BBI) per hektaar ook toegeneem, alhoewel net met 273% oor dieselfde tydperk.
In Grafiek 6 kan gesien word dat die BBU as persentasie van die BBI afgeneem het. Met die eerste oogopslag lyk dit verkeerd, maar hou in gedagte dat die basis waarop hierdie berekenings gedoen is, verskil. Die BBI per hektaar in 2021/2022 was R10 819, en die BBU per hektaar was R4 543. Dit beteken dat die studiegroep ’n baie goeie netto boerdery-inkomste in 2021/2022 gerealiseer het.

Alhoewel die persentasieverdeling vir 2007/2008 en 2021/2022 baie gelyk was, wys die grafiek dat daar meer jare (60%) met ’n goeie inkomsteverhouding in die afgelope 15 produksiejare – veral die laaste drie produksiejare – voorgekom het. Die ses moeiliker jare (40%) was 2008/2009, 2009/2010, 2012/2013, 2014/2015, 2017/2018 en 2018/2019.
Daar is egter twee aspekte wat onthou moet word:
- Eerstens eindig hierdie inkomste versus koste-vergelyking op die netto boerdery-inkomstevlak, wat beteken dat geen kapitale delging, skuld, rente, huur en kontantaankope hier in berekening gebring is nie, omdat dit drasties verskil tussen boerderye. Daarom kan dit nie as ’n totale finansiële vergelyking gesien word nie.
- Dit is tweedens egter ook belangrik om te weet dat hierdie vergelykings nie noodwendig vir ’n ander reeks van 15 produksiejare dieselfde sou wees nie.
Samevatting
In die studiegroep se gemiddelde syfers kan die 40% moeiliker en 60% beter jare duidelik uit die finansiële ontledings gesien word. Die enigste manier hoe dit moontlik is om hierdie tipe inligting oor jou eie boerdery in te win, is om deeglike finansiële rekords te hou. Hoe meer jare, hoe beter.
Dit stop egter nie by rekordhouding nie, want die inligting wat bymekaar gemaak is, moet ontleed word – anders help rekordhouding niks nie. Eers dán kan sinvolle besluite oor vertakkings en die uitbreiding van ’n boerdery geneem word.
Rekordhouding lei tot inligting (hopelik goeie en korrekte inligting), en goeie inligting kan ’n produsent help om sy/haar aandag op die regte plekke in die boerdery te fokus, sonder om die res van die boerdery af te skeep.
Opgesom, spandeer tyd daar waar jou aandag benodig word en nie net daar waar dit lekker is nie. Hoekom? Dit gaan oor volhoubaarheid en daarmee saam kom winsgewendheid.
Bronnelys
- The South African Petroleum Industry Association. https://www.sapia.org.za/publications/ [1 February 2023]
- Van Rooyen M, Boerdery-bedryfsontleding vir Delareyville-studiegroep, 2007/2008 tot 2021/2022. Ongepubliseerde verslag. Finansiering, NWK Beperk. Lichtenburg