Beurtkrag het landbou noodgedwonge omgeswaai van ‘n bedryf wat gefokus het op groei en ontwikkeling na een wat hom nou toespits op kostebesparing en risikovermindering.
Dit is die mening van Nicol Jansen, ‘n besproeiingsboer van Hopetown in die Noord-Kaap en vise-president van Agri SA. Hy was deel van ‘n paneelbespreking wat Agri NW se Jongboerkonferensie toegespreek het.
Dit is op 12 Mei in Klerksdorp aangebied met die tema “van krag tot krag” en is deur onder andere NWK geborg.
“Ons gaan dit in toekomstige ekonomiese syfers sien,” het Nicol gewaarsku. “Boere se fokus is nie meer op hoe groot hulle kan word en meer winsgewend kan wees nie, maar eerder hoe om kostes te bespaar en verliese te beperk.” Hy het die pluimveebedryf gebruik as voorbeeld, waar produsente op produksie afskaal net om verliese te bestuur.
Nicol het bygevoeg dat Agri SA al telkemale gewaarsku het dat landbou nie kan toelaat dat die totale beskikbare kapitaal binne die sektor – wat nodig is om dit te ontwikkel en uit te brei – vir kragopwekking aangewend word nie. “Dán gaan landbou agter raak.”
Die behoefte aan krag gaan met rasse skrede toeneem
Die bespreking is gefasiliteer deur Francois de Kok, uitvoerende hoof van finansiële kredietoplossings by Senwes; Juan Tomlinson, hoof- uitvoerende beampte van Son SA en Johann Becker, ‘n elektriese ingenieur by Senwes.
Volgens Johann gaan die behoefte aan krag wêreldwyd binne 20 tot 30 jaar met 80% toeneem weens digitalisering, elektriese voertuie en toenemende lugverkoeling weens aardverwarming.
“In Afrika gaan die behoefte by 300% draai omdat hier nog so min elektrisiteit is.” Hoewel Suid-Afrika in 2021 minder elektrisiteit as in 2010 verbruik het, gaan die behoefte teen 2050 80% meer wees.
Hoewel daar onlangs verhogings in elektrisiteitstariewe aangekondig is, bied Eskom en gevolglik Suid-Afrika steeds van die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld.
Tog is die skrif aan die muur: Eskom se vloot kragstasies is verouderd en word daar beplan om binne die volgende vyf jaar by sewe van dié kragstasies nóg 5 300 MW se eenhede af te skakel. “Dit is nóg vyf fases beurtkrag,” het Johann verduidelik.
Somme klop al moeiliker
Nicol het verduidelik dat Eskom se destydse AgriLek-afdeling produsente aangemoedig het om meer krag te verbruik.
“Krag is aan die landbou bemark. As ons piektye beter kon bestuur, sou dit Eskom se netwerk help en is Ruraflex-pakkette ontwikkel waarvolgens intensiewe besproeiers erg gepenaliseer is tydens piektye, maar vergoed is om buite piektye, veral in die nag, krag te verbruik.
“As jy die gemiddeld bereken, was dit dus lonend vir boere om na Ruraflex oor te skakel, al pomp jy 24 uur lank.”
Dus is die besproeiingsektor die afgelope 15 jaar in effek aan fase-4 beurtkrag onderworpe. Werklike beurtkrag noodsaak boere egter nou om binne piektyd te besproei. “Net volgens die wintertarief, is dit R4/eenheid duurder om in piektyd te pomp. Ons somme klop dus al hoe moeiliker,” het Nicol bygevoeg.
Boonop was Januarie baie droog te midde van fase-6 beurtkrag en het besproeiingsboere by die regering gepleit om van beurtkrag kwytgeskel te word. Tog was hulle elektrisiteitsrekeninge steeds hemelhoog, aldus Nicol.
“Dit wil voorkom of die rede is dat krag wat weer aankom, deur die aantal ampère gemeet word,” meen hy.
Waar besproeiingsboere voorheen Vrydae hul spilpunte sou aanskakel en Maandae weer afsit, word dit nou drie tot vier keer per dag aangeskakel en die hoë aanskakelkurwes deur die elektrisiteitsmeters geregistreer.
Nicol het weer verwys na die kritieke stadium van mielies in Januarie toe beurtkrag die land lamgelê het. “Van die besproeiingsboere wat nié aan die gewas se waterbehoefte kon voldoen nie, sit met 4t/ha minder. Dit kom neer op R14 000/ha minder op jou boonste winsmarge weens beurtkrag.”
Hoewel dieselkragopwekkers ‘n opsie is, is die verbrandingskoste geweldig hoog. “Nie eens Eskom kan met sy groot turbines diesel doeltreffend brand nie.”
Europa se sontegnologie ver vooruit
Juan het daarop gewys dat slegs die regering kernkrag daar mag stel en dat daar tans hofsake hieroor aan die gang is. “Ons het baie gas by Mosselbaai, maar om ‘n netwerk op te rig kan tot vyf jaar neem.”
Tans kan Suid-Afrikaners krag opwek met die son, wind, water en biomassa (byvoorbeeld hoendermis).
“Fondse in landbou is egter beperk. Son SA is in gesprek met Spanje, Noorweë, Duitsland en Italië. Hulle stel baie belang in Suid-Afrika se energiesektor, omdat hulle tans hul vingers met Rusland en Oekraïne verbrand. Hulle beskou ons energiesektor as ‘n nuwe mark en hulle bied baie goeie tegnologie.”
Volgens Juan wil Noorweë tegnologie na Suid-Afrika bring waarmee vullis by stortingsterreine in energie omskep kan word. ‘n Maatskappy in Duitsland het batterye ontwikkel wat met ‘n waarborg van tot 20 jaar spog, maar dit is alles tegnologie wat nog jare kan duur voordat dit op tuisbodem gestalte vind.
In Suid-Afrika word sonpanele tans plat of teen ‘n helling wat front na die noorde, opgerig. “Daar is nou ‘n plaaslike maatskappy wat ‘n produksie-aanleg in Mauritius oprig wat sonpanele vervaardig wat regop staan om die son optimum vanaf sonop tot sononder te kan benut,” het Juan bygevoeg.
Moenie emosionele besluite neem nie
Johann raai produsente aan om te begin met ‘n behoorlike behoeftebepaling na krag voordat hulle dit aanspreek. Kragverbruik móét dus noukeurig gemeet word.
“Is jou behoefte konstant? Is dit groter in die dag of in die aand? As die behoefte slegs vir ‘n sekere tyd van die jaar is en boonop in die nag, is sonkrag dalk nie jou beste opsie nie.”
Produsente moet ook elke kragbron se kapitaalinset bepaal en die operasionele koste bereken. “Hou in gedagte dat sonpanele nie op hulle eie funksioneer nie en ‘n basislas nodig het. Moenie fokus op slegs een bron van opwekking nie. Maak vir jou ‘n mandjie bymekaar.”
Produsente moet ook vooruit beplan. “Neem die volgende 12 maande in ag – gaan jy nog ‘n spilpunt wil oprig? Die meeste tegnologie laat darem opgraderings toe.”
Johann het kongresgangers ook gewaarsku om nie emosionele besluite te neem wanneer hulle keelvol is vir Eskom nie. “Al is Eskom se krag nie altyd beskikbaar nie, bly dit die goedkoopste en verskaf ‘n basislaag. Dit sal dus tot ‘n groot mate deel bly van die kragmandjie.”
Landbou kan nie in isolasie krag opwek nie
“Die plan is dat ons teen 2050 met slegs Kusile en Medupi (kragstasies) sal sit en hulle is nog nie eens ten volle operasioneel nie. As Eskom jou rugsteunplan is, is dit nie ‘n goeie plan nie,” het Nicol gewaarsku.
Tog is die teendeel ook waar: die land het grootliks Eskom se kragnetwerk en basisvrag nodig om surpluskrag te stoor en Nicol is bekommerd dat die res van die land kan agterbly wanneer ‘n sektor soos landbou op sy eie elektrisiteit opwek.
“As die landbousektor sy eie ding kan doen en selfonderhoudend raak, wat van die res van die ekonomie wat mekaar nodig het? Die ideaal is om alles aan die netwerk te koppel.”
Francois het bygevoeg dat dit blyk dat politieke wil ontbreek om die basisvrag te verhoog, waarop Nicol geantwoord het: “Die keuses is besig om minder te raak en nood gaan politieke wil oorskry. Die tekort aan krag gaan só groot wees, dat nie net politieke wil sal kan seëvier nie.”