
Deurlopende kommunikasie is die hoeksteen van suksesvolle familieboerderye en boere word aangemoedig om selfs hul laerskoolkinders by gesprekke hieroor te betrek. Die bekende finansiële kenner, Theo Vorster, en sy kollegas by Galileo Capital – Monique Bräsler en George Robertson – het die afgelope Maandag lede van die Soetmelksvallei Studiegroep oor familieboerderye toegespreek.
Die geleentheid is by NWK se opleidingsentrum in Lichtenburg aangebied en deur NWK Retail geborg.
Familiebesighede van die suksesvolste ter wêreld
Theo het begin deur te sê dat familiebesighede van die suksesvolste ter wêreld is, met tot 70% van alle bruto binnelandse produkte (BBP) wat hierdeur gegenereer word. “In Suid-Afrika is daar boerderye wat al tot by die agste, negende generasie strek en amper 300 jaar oud is. Tog is dit ook geweldig kompleks en lyk elke familie se model anders.”
Hy het die voorbeeld gebruik van katedrale in Europa wat tot 300 jaar geneem het om voltooi te word. “Die mense wat die fondamente gegrawe het, het geweet dat hulle agterkleinkinders eers ‘n diens hierin sal bywoon. Dit verg ‘n kopskuif om te besef jy bou iets vir nageslagte wat jy nooit gaan ken nie.”
Theo en sy span konsulteer met verskeie familiebesighede regoor die land en hy het vertel dat van hierdie families se “grondwette” tot 70 bladsye lank is. “Dit bevat riglyne vir aspekte soos besluitneming, konflikhantering, finansiële en menslike kapitaal asook regstrukturering.
“Die oudste opgetekende grondwet dateer terug na die 1400’s en die betrokke familie in Italië boer nou nog daarvolgens.
“Die grondwet behoort met ‘n familiedroom te begin. Julle moet die vraag vra of julle werklik ‘n familiebesigheid wil wees. Dit verander dalk later weens omstandighede soos emigrasie en julle besluit om te verkoop.”
Die grondwet moet ook ‘n visie en missie bevat wat die droom vir die besigheid bind en alle aktiwiteite in die familie belyn. “Dit moet trots inboesem en almal moet streef om dit te behaal. Dit verseker almal is op dieselfde bladsy.”
Hoekom misluk familiebesighede dan?
Volgens Theo is die grootste uitdaging vir familieboerderye dat familielede vinniger vermeerder as wat die besigheid kan groei. “Almal kan of wil ook nie by die besigheid betrokke wees nie, so daar moet dikwels moeilike besluite geneem word.”
Die voortbestaan word ook bedreig wanneer individue se besigheidsbelang swaarder weeg as dié van die familie. “Kinders wat nie meer by die besigheid betrokke is nie, se lojaliteit en emosies begin verskuif.”
Swak en gebrekkige opvolg- en finansiële beplanning asook likiditeitsdruk, is nóg redes waarom familieboerderye vou. “Ons sien laasgenoemde dikwels as boedelbeplanning swak is en die plaas verantwoordelik is vir kontantvloei.”
Práát oor julle drome
Theo sê dat die betrokke individue oor hulle eie drome moet praat. “Hoekom wil jy hier betrokke wees, of nie? Dit is nie tydsgebonde nie en verwoord ‘n langtermynvisie. Moet ook nie die rol van die boer se vrou in hierdie gesprekke onderskat nie. Sy is beter in staat om op te tel indien iets ‘krap’.”
George het beaam dat dit moeiliker is om die menslike kapitaal van familieboerderye te bestuur, omdat dit nie in geld gemeet kan word nie. “Sukses lyk verskillend vir elkeen, maar die resep vir sukses is dieselfde.
“God se Woord moet ons rig. Ons moet gereeld daaroor praat en mediteer. Ons doen dikwels binne ‘n familie nié wat God van ons vra nie – om mekaar te dien en te respekteer.”
Hy het boere aangeraai om hulle waardes en beginsels neer te skryf en hulself hiervolgens te rig. “Werk aan verhoudings binne die besigheid. Is daar geleentheid vir almal om hulle menings te lug? ‘n Familieforum skep ‘n platform vir elkeen om vrae te vra en dan hierdie verwagtinge te bestuur.
“Moet ook nie aangetroude familie een kant toe skuif nie. Die vrou gee dikwels ‘n beroep prys om by die boer op ‘n afgeleë plaas aan te sluit. Betrek haar by die gesprekke.”
Opvolgbeplanning – generasies moet mekaar in die middel ontmoet
Kommunikasie is weereens van kardinale belang. “Wil ons hê die boerdery moet vir generasies voortbestaan? Boetie wil dalk uitbrei, maar Sussie sit moontlik in die buiteland en wil eerder soveel moontlik dividende ontvang.”
Theo het bygevoeg dat familieboerderye hulself moet afvra: Is die gelyke opdeling van produktiewe bates regverdig? Hy het drie modelle as voorbeelde voorgehou:
- Volgens die sogenaamde Vrystaat-model, is daar ‘n gelyke verdeling van bates waar al die kinders erf.
- Volgens die Wes-Kaap-model, is daar ‘n ongelyke verdeling van bates en slegs een erfgenaam (van die plaas).
- Die korporatiewe model behels dat daar geen verdeling van bates is nie en dat alles in ‘n trust bly.
“Is dit regverdig dat ‘n seun met ‘n beroep in die stad ‘n gelykmatige deel as sy broer op die plaas erf? Dit moet elkeen vir homself antwoord.”
Boere moet vroegtydig voorsiening maak vir aftrede en kan nie verwag dat die boerdery dit moet finansier nie. “Daar moet ‘n meganisme in plek wees wat ‘n buffer skep sodat ouma en oupa die plaas kan verlaat.”
Die uitkoop- en dividendbeleid behoort ook ‘n verlaatstrategie in plek te hê vir iemand wat die familiebesigheid wil verlaat. Die onderneming moet gemaklik kan voortbestaan ná daardie persoon se uittrede.
Die dividendbeleid moenie die besigheid onder druk plaas nie. “Oorweeg om nie elke jaar dividende uit te betaal sodat kinders daarop staatmaak as ‘n bron van inkomste nie.”
Daar is verskeie redes hoekom ‘n ouer generasie kan sukkel om beheer oor te gee:
- Die boerdery is ‘n bron van inkomste.
- “Hoe gaan ek myself handhaaf as ek nie meer die baas van die plaas is nie?”
- Die gebrek aan ‘n doel. “Waarvoor staan ek elke oggend op?”
- “Gaan ek steeds in die boerdery betrek word?”
- Daar is nie ‘n afskaal- en aftreeplan in plek nie.
- Dit word beskou as ‘n instrument om familie mee te beheer.
Individue binne ‘n familie het verskillende ouderdomme en persoonlikhede. Die trio van Galileo Capital se raad is om op mekaar se sterkpunte te fokus.
“Behoorlike opvolgbeplanning behels dat daar besluit word wie teen wanneer die leisels sal oorneem. Daar is leiers en daar is volgers en dit help nie jy probeer van ‘n volger ‘n leier maak nie.
“Die ideale opvolger moet die taak beter as jy kan vervul. Moenie net die regte ‘van’ aanstel nie. Kyk holisties daarna en wees eerlik as die opvolger van buite die familie moet kom.”
ANDER NUTTIGE WENKE
- Die rol van ‘n ouditeur in jou boerderybedryf is absoluut krities. Theo beveel aan dat jy ‘n objektiewe een met kennis van die omgewing kies, omdat hy/sy sal kan uitwys as jy ondergemiddeld presteer. Monique het bygevoeg dat jou ouditeur jou vennoot is en jou moet kan bystaan met ingeligte besluite.
- Suid-Afrikaanse boere se risiko’s is baie gekonsentreerd. Diversifiseer ten einde ‘n ander reserwe te skep.
- Skuld is altyd onderhandelbaar. Onderhandel oor terugbetaling en borgskappe. Besluit wat jou kroongrond is en wat nie as sekuriteit behoort te dien nie. Dit is ook nie noodwendig altyd erfgrond nie.
- Finansiële- en boedelbeplanning moet met mekaar praat. Lewensdekking is nie ‘n belegging nie en kan verminder word met ‘n toename in ouderdom wanneer bates meer is.
- Bou ‘n reserwefonds vir swakker jare ten einde die plaas se kontantvloei te beskerm.
- Oorsese beleggings is ‘n goeie opsie. Maak egter seker jy kan vir die inkomstediens ‘n belastingsertifikaat gee wat hulle sal aanvaar.
- Kostes, egskeiding en insolvensie is redelike risiko’s. Dit is in die beste belang van familieboerderye dat dit deur ‘n trust beheer word.
- Stel ‘n onafhanklike trustee aan wat vertroud is met die gepaardgaande vereistes.
- Die trustakte is ‘n belangrike dokument omdat dit reguleer hoe bates aangespreek word en moet gereeld opgedateer word.
- Sorg dat jou testament voorsiening maak vir verskeie afsterf-scenario’s, soos as albei ouers sterf.
- Leningsrekeninge is verpligtend in jou boedel en moet deur die testament aangespreek word.
- Moenie jou testament in Afrikaans opstel nie! Baie beamptes by die meester se kantoor verstaan dit nie.
- Moenie groot instellings aanstel om jou testament te beredder nie. Jy soek nie ‘n inbelsentrum aan die ander kant nie, maar eerder persoonlike aandag.
- Dateer jou testament gereeld op.
- Wees baie versigtig om ‘n familielid as eksekuteur van jou boedel aan te stel. Met die gerondslomp by die meester se kantoor, lei dit dikwels tot konflik en kan dit tot 24 maande neem om af te handel. Stel eerder ‘n prokureur vir hierdie doeleinde aan.






