NWK het in 2022/2023 die grootste wins in sy bestaan van 114 jaar behaal – R283 miljoen ná belasting. Dit is tydens NWK se reeks inligtingsvergaderings op 2 tot 8 Augustus onthul. Dit kom neer op ’n 6%-toename in wins ná belasting in vergelyking met die vorige finansiële jaar, asook ’n 26,8%-toename in omset.
“Ons het ’n paar nuwe planne waarmee ons dit nog verder opwaarts wil stoot,” sê Pieter Kleingeld, groephoof- finansiële beampte van NWK. “Ons is baie trots daarop om deel te kan wees van die maatskappy terwyl dit sulke goeie resultate behaal.”
’n Finale dividend van 17c per aandeel is deur die direksie goedgekeur en gedurende die jaar is ’n dividend van 48c verklaar op grond van die wins wat die maatskappy behaal het.
Groot planne met Epko
Epko is ook weer volledig in NWK se besit nadat die maatskappy Louis Dreyfus Company (LDC) se 50% aandeel uitgekoop het. “Dit was ’n goeie strategiese skuif. LDC wou nie meer verder in die aanleg belê nie. Dit is tans nodig dat ons na kragvoorsiening kyk, en die direksie het voorlopig ’n projek van sowat R200 miljoen goedgekeur om Epko heeltemal onafhanklik van Eskom te maak.”
Dit sal ’n aanleg wat sonneblomsaaddoppies verbrand, behels. “’n Ander produk wat reeds goedgekeur en al in die implementeringsfase is, is ’n verfyningsaanleg waar ons ’n derde van ons olie wat ons elke maand produseer, kan verfyn. Dit bied die geleentheid om aan ander markte ook te verkoop,” verduidelik Pieter.
Sojaboonproduksie het noemenswaardig in NWK se bedieningsgebied toegeneem en die maatskappy beoog om ook ’n gedeelte van Epko se aanleg in te rig om hierdie gewas te kan pers. “Dit sal die perskapasiteit van 600 t/dag (sonneblom) na sowat 350 t/dag afbring, wat uiteraard die totale hoeveelheid sal beïnvloed.”
’n Pers wat albei gewasse teen volle kapasiteit sal kan pers, kos egter sowat R1 miljard en dit is ’n meer bekostigbare opsie om Epko se aanleg as’t ware in twee te deel.
Welkom by die NWK Retail-familie
NWK het twee jaar gelede 50% aandeelhouding in ’n onafhanklike makelary bekom, waarna NWK & IP Makelaars gestig is. NWK se aandeelhouding is intussen tot 76% verhoog. Dié transaksie het ’n naamsverandering genoodsaak en die makelary heet nou NWK4Sure Brokers.
Nuwe konsessiewinkels in die NWK Retail-stal sluit in Bultfontein, Schweizer-Reneke, Wolmaransstad, Beestekraal en Kroonstad. Die konsessiewinkel in Bloemhof het intussen ’n volwaardige NWK-winkel geword. Die winkels is ook opgeknap en die sekuriteit is verskerp deur vensters met roldeure te vervang.
“Ons het ook onlangs ’n ooreenkoms onderteken waarvolgens ons ’n volwaardige handelaar van spuithommeltuie is. NWK se klante kan nou hommeltuie by ons aanskaf en dit hier laat diens. Ons hou die onderdele aan en het boonop ’n kontrakteursafdeling waarvan produsente gebruik kan maak as hulle ’n gewas wil laat spuit.”
Pieter is oortuig dat die hommeltuie hulself as ’n goedkoper alternatief vir ’n trekker sal bewys.
Maatskappy gryp in by gebrekkige dienslewering
Pieter het uitgebrei oor die uitdagings waarvoor NWK te staan kom in die gebrekkige Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, wat berug is vir sy swak finansiële bestuur en versuim om dienste te lewer.
Ten spyte van belasting wat van inwoners gevorder word, is algemene probleme in NWK se sake-omgewing swak polisiëring, gebrekkige padinfrastruktuur en onderbroke krag- en watervoorsiening.
Die hoë werkloosheidsyfer lei ook tot toenemende misdaad soos wat desperate mense diefstal pleeg om te kan oorleef.
NWK het die afgelope finansiële jaar miljoene rande bewillig om slaggate te herstel, grondpaaie in NWK se bedieningsgebied te laat skraap en water aan inwoners van Lichtenburg te voorsien. “Ons kan terugsit en toekyk wat om ons gebeur, of ons kan betrokke raak,” verduidelik Pieter. “Ons is trots op die omgewing waarin ons bly, werk en waarin ons kinders moet skoolgaan. Ons sal doen wat ons kan.”
NWK is in gereelde gesprekke met die onderskeie vlakke van regering in ’n poging om dienslewering te verbeter.
Beurtkrag slurp miljoene rande op
Die maatskappy moes vanaf 1 Mei 2022 tot 30 April vanjaar R21,3 miljoen aan brandstof vir kragopwekkers by sy bedryfspunte opdok. Hiervan het Silodienste die meeste gebruik
– R13,8 miljoen, Retail R6,1 miljoen, hoofkantoor en die opleidingsentrum bykans R900 000 en Meganisasie R619 629.
In 2012 was NWK se elektrisiteitsrekening sowat R13 miljoen en het kragopwekkers slegs 0,43% van hierdie koste uitgemaak. Teen Julie 2023 was dié rekening reeds sowat R56 miljoen en het kragopwekkers 38,07% hiervan uitgemaak.
Epko het die afgelope jaar sowat R54 miljoen weens beurtkrag ingeboet. Dus is die totale impak vir NWK bykans R75 miljoen.
“Die belasting wat die staat weens beurtkrag by NWK verbeur het, beloop meer as R20 miljoen,” voeg Pieter by.
NWK moes boonop in 2022/2023 R46,7 miljoen spandeer om metodes van alternatiewe kragopwekking by sy hoofkantoor, NWK Retail Lichtenburg en drie van sy silokomplekse te laat installeer.
Delareyville, Ottosdal en Sannieshof se silo’s is ook met sonpanele en batterye toegerus, wat tydens beurtkrag ingespan word. Dit is egter nie lonend om die silo’s heeltemal onafhanklik van Eskom te maak nie, aangesien hulle slegs tydens die stroopseisoen só ’n groot aanvraag vir elektrisiteit het.
Theo Rabe (groephoof- uitvoerende beampte van NWK) het tydens ’n besoek van Landbouskrywers SA aan NWK in Junie interessante syfers oor die kapasiteit van die sonkragstelsels wat opgerig is, met landboujoernaliste gedeel.
- NWK se hoofkantoor is nou toegerus met ’n 168 kWp-stelsel, wat uit 1 124 sonpanele en drie batterye met ’n stoorkapasiteit van 1,2 Mwh bestaan. Dit het die maatskappy R15,7 miljoen uit die sak gejaag, maar die hoofkantoor kan sedert 25 Mei totaal onafhanklik van Eskom funksioneer.
- NWK Retail Lichtenburg se stelsel is met vorige toerusting van die hoofkantoor opgegradeer. Dit spog nou met ’n 169 kWp-stelsel, wat uit 681 sonpanele en 200 kWp se batterystoorkapasiteit bestaan. Dit het R2,4 miljoen gekos en hierdie handelswinkel kan tans 70% onafhanklik van Eskom bedryf word.
- Daar is 828 sonpanele by die Delareyville-silo opgerig en batterye met 500 kWp stoorkapasiteit om die stelsel van 455,4 kWp van krag te voorsien. Dit het R12,3 miljoen gekos.
- Ottosdal se silo’s se stelsel het ’n kapasiteit van 369,6 kWp, wat uit 616 sonpanele en batterye met 200 kWp stoorkapasiteit bestaan. Die koste hiervan was R9,3 miljoen.
- Om Sannieshof se silo’s met 468 sonpanele en 300 kWp batterystoorkapasiteit vir die 257,4kWp-stelsel toe te rus, het R7 miljoen gekos.
Balansstaat
Die waarde van die maatskappy se bates was teen die einde van die finansiële jaar sowat R5,7 miljard. In 2019 het dit sowat R2,8 miljard beloop, wat ’n verdubbeling in waarde binne vyf jaar beteken. NWK se debiteureboek het weens stygende insetkoste aansienlik toegeneem, hoewel die kliëntebasis basies dieselfde gebly het.
Eienaarsbelang het sowat R1,9 miljard beloop. Volgens Pieter het dit nie baie toegeneem sedert 2019 nie, omdat NWK in 2018 ’n koöperatiewe aksie bekendgestel het waarvolgens dit Grindrod teruggekoop het en die aandele van alle minderheidsaandeelhouers binne NWK aangekoop het. Dit het NWK sowat R250 miljoen gekos. Altesaam R20 miljoen is ook beskikbaar gestel om aandele van afgetrede aandeelhouers te koop.
“Die aanvraag daarvoor het egter R60 miljoen beloop en ons het hierdie jaar besluit om ’n groter gedeelte hiervoor te bewillig – sowat R31 miljoen. Ons het besluit om nie meer as 5% aandeelhouding terug te koop nie, omdat die regulatoriese vereistes dan toeneem en dit ’n duur transaksie raak,” sê Pieter.
Daar is dus die afgelope vyf jaar R300 miljoen se aandele uit die maatskappy se fondse teruggekoop en dit is waarom die ekwiteit nie noemenswaardig toegeneem het nie.
Oorsig oor finansiële resultate
NWK se Silodienste het ’n wins van R183 miljoen getoon, teenoor R125 miljoen vyf jaar gelede. “In die laaste vier jaar het ons sowat 2 miljoen ton graan per jaar ontvang, wat die langtermynontvangstes van 1,2 miljoen ton ver oorskry.” Tog kom dit nie naby die 2,7 miljoen ton graan wat NWK in 1981 ontvang het nie.
Retail het danksy goeie omdraaistrategieë ’n wins van R178 miljoen getoon. “Die effense verlaging teenoor verlede jaar (R182 miljoen) kan toegeskryf word aan die styging in kunsmis- en chemiepryse. As die pryse styg, bied dit geleenthede binne ’n handelsomgewing. As die pryse daal, word voorraad duurder en moet jy begin afskrywings doen. Dit het die prentjie effens versuur.”
Epko het ’n nabelaste wins van R41 miljoen getoon. “Sonneblomolieperse se marges is negatief en dit gaan hierdie jaar ’n uitdaging wees,” waarsku Pieter.
Die verdienste per aandeel beloop R2,73. “Dit het sedert 2020 met meer as R2 per aandeel toegeneem. Hoewel NWK se goeie finansiële prestasie ’n rol hierin speel, kan dit ook toegeskryf word aan die talle transaksies wat aangegaan is om aandele terug te koop. Die koek bly dus dieselfde grootte, maar die aantal mense wat daarin deel word minder, wat beteken dat elkeen ’n groter stukkie kry.”
Die opbrengs op ekwiteit is 15,7%. Die effense swakker vertoning as dié van verlede jaar (16,9%) kan aan hoër rentekoerse se negatiewe invloed op winsgewendheid toegeskryf word.
Teen die jaareinde het die aandeelprys R5,30 beloop, terwyl die netto batewaarde per aandeel R18,40 was.
“Dit is alles harde bates en sluit nie NWK se silo’s, wat teen R200 miljoen op ons balansstaat lê en eintlik R1,3 miljard werd is, in nie. Daar is waarskynlik R1 miljard wat nie op ons balansstaat is nie weens ons konserwatiewe manier van boekhouding en nie by hierdie syfer ingesluit is nie. Die aandeleprys verhandel ondanks dit teen minder as ’n derde van hierdie waarde.” Dividende in kontant uitbetaal per aandeel beloop 56c.
Pieter verwag nie noemenswaardige groei in die 2023/2024 finansiële jaar nie weens dalende kommoditeitspryse, asook insette wat na verwagting 14% minder sal wees as die vorige jaar. “Dit gaan ’n invloed hê op voorraadvlakke en NWK se debiteureboek.”
Rekord-innames by NWK se silo’s
Jaco du Rand (senior bestuurder van NWK Graan) en sy span het geweet dat ’n bielie van ’n mielieoes op pad was en hulle het begin deur die nodige kapasiteit te skep teen ’n koste van sowat R38 miljoen.
Deur voorsiening te maak vir die verwagte 2 miljoen ton graan, het NWK Graan sy hoogste uitlaaitempo ooit (net meer as 2 miljoen ton) behaal deur graan uit te laai na meulenaars en veevoervervaardigers. “Nie al die voorraad kon egter uitgelaai word nie weens voorraad wat oorgedra word na die volgende seisoen en swakker graad graan. Voorraad moes dus tussen silo’s geskuif word en het sowat 64 000 ton beloop.”

Waar kapasiteitsprobleme voorsien is, is graan na silokomplekse met meer spasie geskuif. “Net meer as 300 000 ton méér is ingeneem as waarvoor ons beplan het en silo’s waar ons gedink het ons spasie sou hê, het onder druk gekom.”
Jaco voeg by dat hulle kapasiteitsprobleme in die Delareyville/Migdol-gebied voorsien het en daarom die Katboschfontein-bunker naby Wolmaransstad, wat 60 000 ton kan opneem, opgerig het.
Buiten vir swakker gehalte graan van 2022 wat spasie by silo’s opgeneem het, het beurtkrag ook die werksaamhede gekortwiek. Om die uitlaaitempo te bespoedig, is bakkiehysers geïnstalleer by Ottosdal (120 t/uur), Sannieshof (140 t/uur), die Nooitgedacht-bunker (150 t/uur) en die Biesiesvlei-bunker (150 t/uur).
Die inname-spoed is nou sowat 60 t/uur vinniger by Nooitgedacht en Sannieshof. In 2020 was die maksimum inname van graan by NWK se silo’s 37 000 ton per dag, en vanjaar is ’n rekord van 45 000 ton per dag ontvang.
Gradering van mielies verbeter noemenswaardig
Hoewel slegs 58% witmielies verlede jaar as WM1 gegradeer is, hoofsaaklik weens vogskade, is 98% van vanjaar se innames as WM1 gegradeer. Slegs 69% geelmielies is verlede jaar as YM1 gegradeer, teenoor vanjaar se bykans 96%.
In 2000 is 75% mielies in Suid-Afrika aangeplant, teenoor 61% in 2021/2022. Waar sojabone toe slegs 4% van die aangeplante kommoditeite in die land uitgemaak het, het dit in 2021/2022 op 22% gestaan. Jaco glo dat hierdie tendens gaan toeneem. “Dit skep kapasiteitsprobleme by ons silo’s wat ons sal moet aanspreek,” sê hy.
Die plaaslike verbruik van mielies staan tans op 12 miljoen ton. Met sowat 16 miljoen ton wat geproduseer is, is daar ’n surplus van 4 miljoen ton. Daar is reeds bykans 1 miljoen ton van ’n beoogde 3 miljoen ton uitgevoer.
Dit het NWK in die 2022/2023 finansiële jaar sowat R6 miljoen gekos om 1 200 km se grondpaaie te skraap en teer vir die vul van slaggate te bewillig. “Dit was egter meer van ’n padbouprojek, aangesien die paaie reeds so vervalle is,” voeg Jaco by.
NWK Graan is ook besig om ’n nuwe voorraadmoniteringstelsel, bekend as Ronin, op die proef te stel. “Dit dui soggens graan se in- en uitlaaiposisies in die silobuise aan, asook temperature en CO2-vlakke op die onderskeie vlakke. Laasgenoemde se vlakke kan selfs drie weke voordat ’n temperatuurverskil ontstaan, ’n aanduiding gee dat die graan moontlik spanning ervaar. Dit kan dan betyds onttrek en in ’n ander buis geplaas word vir deurlugting om plaas te vind en skade te voorkom.”
’n Bunker met ’n kapasiteit van 12 000 ton is in die pyplyn vir die Lusthof-silo en daar sal gepoog word om alle silo’s met twee skale toe te rus.