Meer as net uile hier veilig
Hier is ’n Afrika-skopsuil, een van die kleinste inwoners by Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing, wat iets te ete gekry het by die “buffettafel”. Deesdae ontvang Brandon en Danelle Murray egter baie oproepe van besorgde natuurliefhebbers om ander gediertes na veiligheid te neem. In die afgelope paar weke is die volgende geveerdes en vierpotiges gered:
- Dié rooikat het ’n hoenderboer die hoenders in gemaak! Hy gaan in sy natuurlike omgewing, ver van hoenders, hervestig word.
- Baba-skilpaaie word gereeld in die Sun City-omgewing gered, waar geldgieriges wat nie natuurliefhebbers is nie ’n paar rand probeer maak.
- Van die geveerdes wat gered is, is ’n arend en ’n eend. Toe Brandon van Owl Rescue Centre na die Boons-omgewing uitgeroep is om ’n Breëkoparend te red, het hy gesien dit is eintlik ’n Swartborsslangarend. Dié twee spesies word maklik verwar. Die arend moes behandeling vir ’n besering ontvang, maar sterk goed aan. Aan eende soos die Nonnetjie-eend word daar ook ná ’n reddingspoging ’n veiliger tuiste gebied.
Daisy maak litte los
Gedurende die wintersoggende was klein Daisy van die Care for Wild Rhino Sanctuary maar huiwerig om op te staan en uit die warmte van haar kraal te beweeg. Ongelukkig veroorsaak die laatslapery stywe spiere.
Voordat Petronel, haar veldwagter, haar soggens vir haar wandeling neem, moet sy eers ’n massering ontvang om spierspanning te verlig en sirkulasie te verbeter. Hierdie vorm van massering is ook voordelig om littekenweefsel af te breek en die vrystelling van gifstowwe en afvalstowwe te vergemaklik. Daisy is absoluut mal oor haar massering en oggendroetine, en dit het ’n baie doeltreffende deel van haar rehabilitasieprogram geword.
’n Wêreldbedreigde spesie
Volgens Birdlife International word swartaasvoëls (lappet-faced vultures) as ’n wêreldbedreigde spesie geklassifiseer, wat opsporingsdata uiters belangrik maak vir die beskerming van hierdie spesie. VulPro, die aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, gaan daarom voort om hierdie voëls op te spoor en te monitor om insig te kry in alle aspekte van hul lewens en maniere te vind om te verseker dat hul bevolking kan toeneem en getalle kan stabiliseer.
Daar word dikwels na hierdie spesie verwys as die koningaasvoëls vanweë sy grootte en ietwat intimiderende voorkoms. Sodra ’n karkas gereed is, sal hy afduik en so veroorsaak dat ander aasvoëls wegvlieg. Hierdie is die enigste spesie wat vel kan skeur en daarom vreet dit dikwels vel, hare en senings. Soos alle ander aasvoëls is hulle egter ook nodig om die omgewing plaagvry te hou.