• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Wed, Jul 16, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Dinamiese vennoot

Ystermanne en -vroue mik na R1 miljoen vir Agri Securitas

Nicolene Smalman-Kotze, Redakteur

9 Jul 2025
in Dinamiese vennoot
Ystermanne en -vroue mik na R1 miljoen vir Agri Securitas
Share on Facebook

Dinamiese vennoot

Soggens vroeg, wanneer die ryp wit op die gras blink, sien jy hulle hardloop of fietsry. Smiddae ná ‘n lang dag op kantoor meld hulle by die gimnasium aan vir kragoefeninge. Daar is nie tyd vir laat lê oor ‘n naweek nie, want hulle moet “kilometers op die bene kry”.

Dis NWK-personeel en -direkteure, hul gesinslede en ander met ‘n liefde vir landbou wat voorberei vir ‘n Ysterman in Mosselbaai op 16 November vanjaar ten bate van Agri Securitas. Hulle jaag ‘n yslike doelwit ná– R1 miljoen vir hierdie trustfonds, wat hom vir landelike veiligheidsinisiatiewe beywer.

Hoe werk dit?

Die Isuzu Ysterman 70.3 Mosselbaai bestaan uit 1,9 km swem, 90 km fietsry en eindig met ‘n halfmarathon van 21,1 km, wat deelnemers moet hardloop.

Daar is agt solo-deelnemers aan hierdie inisiatief, asook twaalf aflosspanne met drie spanlede wat elk een van hierdie dissiplines gaan aandurf. Hulle het hulself kontraktueel verbind om teikenbedrae in te samel. Solo-deelnemers moet elkeen R25 000 insamel en lede van aflosspanne gesamentlik R36 000 om die teiken van R1 miljoen te haal.

Daar is egter aanvanklik gehoop dat 20 spanne en tien individue ten bate van hierdie inisiatief sou kon deelneem om fondse in te samel, maar daar was nie genoeg inskrywings beskikbaar nie. Sou elke deelnemer dus sy teiken bereik, gaan dit nagenoeg slegs sowat R550 000 vir Agri Securitas oplewer.

Elke deelnemer is op die aanlyn fondsinsamelingsplatform, GivenGain, geregistreer, waar betalings gerieflik aan elkeen se profiel gemaak kan word. Deelnemers hanteer egter nie self die fondse nie – Agri Securitas is as begunstigde geregistreer en alle bydraes word direk aan hulle oorbetaal.

LEES MEER EN DRA SÓ BY

Kliek op die skakel om meer oor die deelnemers te lees en/of om ‘n bydrae te maak: https://www.givengain.com/event/ystersvirlandbou

  • Individue of maatskappye wat ‘n bydrae tot die inisiatief in sy geheel wil maak, kan bloot “Ysters vir landbou” op GivenGain opsoek, en op die geel “Give”-blokkie kliek.
  • Elke deelnemer se profiel kan ook onder “Ysters vir landbou” op www.givengain.com gevind word en betalings kan hier gemaak word.
  • Klante wat by NWK Retail-winkels en/of vulstasies vir transaksies betaal, kan die keuse uitoefen om R5 by die transaksie te voeg, wat ook as bydrae tot die inisiatief tel en oorbetaal sal word.

Manier om personeel en die gemeenskap te betrek

Alf White, NWK se groep- finansiële beampte, wat dié inisiatief van stapel gestuur het.

Die baasbrein agter die inisiatief is Alf White (groep- finansiële beampte by NWK). Hy het in 2023 ‘n soortgelyke uitdaging aangepak, toe hy die uitmergelende Munga (‘n fietswedren van meer as 1 000 km deur die Karoo tot in Wellington) aangepak het ten bate van Nika Capital, ‘n organisasie wat hom vir behoeftige kinders beywer.

Hy verduidelik sy besluit om weer iets soortgelyks aan te pak: “Ek het ‘n passie vir landbou en baie respek vir ons produsente, maar ek kan nie self vir hulle veiligheid of ondersteuning bied nie. Daarom wil ek bewusmaking doen ten bate van landbou en deur georganiseerde strukture soos Agri Securitas seker maak dat die regte ondersteuning, vaardighede en fondse tot ons landbouers se voordeel ontsluit word.

“Só baie mense wil graag bydra om ‘n verskil te maak, maar weet nie noodwendig hoe en vir wie nie. Hierdie inisiatief het ten doel om NWK se Betrokka-strategie, asook personeel en die gemeenskap se benadering tot holistiese gesondheid, prakties te bevorder.”

KOLLEGAS TOT EERSTES GEÏNSPIREER

Sommige van die deelnemers aan die inisiatief is gesoute atlete wat al Comrades-ultrawedlope en gewilde fietswedrenne soos Race to the sun voltooi het. Ander pak vir die eerste keer ooit hierdie lang afstande aan. Een van hulle is Anna-Marie van Rooyen (NWK se groepmaatskappysekretaris), wat vir die halfmarathon van 21,1 km gaan aantree.

“Die landelike gemeenskappe lê my na aan die hart. Deur myself uit te daag om 21 km te hardloop – iets wat ek nog nooit gedoen het nie – word ek op ‘n klein manier deel van die uitdagings waarmee ons landelike gemeenskappe, insluitende boere, op ‘n gereelde basis gekonfronteer word.

“Ek hoop om ‘n verskil te maak deur fondse in te samel vir hierdie baie goeie doel. Agri Securitas is die aangewese forum om by te dra tot landelike beveiliging en om boereverenigings te ondersteun,” sê sy.

René Steenkamp (risiko-offisier by NWK se Risiko- en Besigheidsintelligensie) sal vir die eerste keer bykans 2 km in die oop see swem. “Die inisiatief daag my uit om iets nuuts aan te pak en uit my gemaksone te kom. Deur die proses het ek reeds nuwe mense ontmoet en is dit lekker om as ‘n gemeenskap saam te woeker en ‘n verskil te maak.

“Dit is ‘n uitdaging om in die winter te swem, maar te danke aan die verhitte swembad by Active Xtreme en Fishdom Swim School kan ek lekker oefen. Dit is lekkerder binne-in die water as buite die water.”

ANDER ONDERNEMINGS RAAK BETROKKE

  • Louise Strydom, ‘n persoonlike oefeninstrukteur en stigterslid van TriDot, het van die inisiatief op Landbou.com gelees, na NWK uitgereik en twee maande se gratis oefenprogramme vir deelnemers aangebied.
  • Handelsvennote soos IPT, Impac, Molatek, Protek, Bastion en Sahara Workwear het ook reeds ingestem om finansiële bydraes te maak.
  • Sommige van TLU SA se jongboere neem deel en onderwysers van Hoërskool Lichtenburg het onderneem om bewusmaking oor landelike veiligheid te bevorder.

Opbrengste gaan plaaslik aangewend word

Agri Securitas is in 1998 gestig en help met die verskaffing en installering van onder andere kamerastelsels, valhekke, hommeltuie en berading aan traumaslagoffers.

NWK het briewe aan boereverenigings in NWK se bedieningsgebied gestuur waarin hulle aangemoedig word om met die trustfonds kontak te maak en bepaalde behoeftes te kommunikeer sodat die geld wat ingesamel word, hier teruggeploeg kan word.

Cobus van Zyl, voorsitter van Agri Securitas Trustfonds, het verduidelik dat die fonds slegs steun op private skenkings, vennootskappe en projekte vir befondsing. “As inisiatiewe soos dié van NWK nie plaasvind nie, sal daar geen finansiële bystand aan boereverenigings uit die fonds gedoen kan word nie. Agri Securitas is baie opgewonde hieroor en waardeer die moeite en tyd wat NWK se personeel in die inisiatief belê.

“Ons bewonder ook die atlete wat aan die kompetisie gaan deelneem en is dankbaar dat hulle ‘n persoonlike verbintenis gemaak het om geld vir die trust se werksaamhede in te samel,” sê Cobus.

Hy het die versekering gegee dat die fondse wat ingesamel word, vir Noordwes bewillig sal word. “Die trust maak jaarliks, mits opgehoopte fondse dit moontlik maak, geld beskikbaar vir boereverenigings om spesifieke veiligheidsprojekte in hulle eie gebied, volgens hulle eie behoeftes, te finansier.

“Die aansoekproses vereis dat die projekte deur provinsiale unies ondersteun word en dat daar goeie samewerking tussen die plaaslike gemeenskap en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet bestaan.

“In die verlede is heelwat fondse in Noordwes bewillig en indien die R1 miljoen ingesamel word, sal dit aangewend word vir plaaslike boereverenigings se kamera- en beheerstelsels, hommeltuie, radiokommunikasiestelsels en sekuriteitstoerusting soos koeëlvaste baadjies, nagsigtoerusting, valhekke en traumaberading indien nodig.”

Agri Securitas is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en belastingsertifikate kan uitgereik word aan sake-ondernemings en individue wat skenkings as ‘n belastingaftrekking wil eis.

Johan Bezuidenhout (groepbestuurder: Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK) en Cobus van Zyl van die Agri Securitas Trustfonds het op Ontbytsake verskyn om oor die projek uit te brei. Kliek op die skakel om na die insetsel te kyk: https://www.facebook.com/NWKLimited/videos/1338496930546483

Tags: Jul/Aug 2025
Previous Post

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

Next Post

NWK vier Jeugmaand deur meer as 550 pare skoolskoene uit te deel


Recommended

Ureum se invloed op koeivrugbaarheid

Ureum se invloed op koeivrugbaarheid

15 Jul 2025
May/June 2025: Agricultural economic report

May/June 2025: Agricultural economic report

3 Jul 2025
NWK vier Jeugmaand deur meer as 550 pare skoolskoene uit te deel

NWK vier Jeugmaand deur meer as 550 pare skoolskoene uit te deel

3 Jul 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Ureum se invloed op koeivrugbaarheid

Ureum se invloed op koeivrugbaarheid

15 Jul 2025
May/June 2025: Agricultural economic report

May/June 2025: Agricultural economic report

3 Jul 2025
NWK vier Jeugmaand deur meer as 550 pare skoolskoene uit te deel

NWK vier Jeugmaand deur meer as 550 pare skoolskoene uit te deel

3 Jul 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In