• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Tue, Jun 17, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Ditsobotla se geldsake kan jare neem om ommeswaai te toon

Nicolene Smalman, Redakteur: NWK Arena

31 Jan 2024
in Nuus
Ditsobotla se geldsake kan jare neem om ommeswaai te toon

Linda Nengovhela, hoofdirekteur van munisipale finansiële bestuur by Noordwes se tesourie, tydens die vergadering op Lichtenburg.

Share on Facebook

Neem asseblief kennis dat van die foto’s in hierdie berig sensitiewe lesers kan ontstel.

Dit kan enigiets tussen sewe en 15 jaar neem om die bankrot Ditsobotla plaaslike munisipaliteit se geldelike posisie om te keer. Linda Nengovhela, hoofdirekteur van munisipale finansiële bestuur by Noordwes se tesourie, het Maandag dié droewige prentjie geskets tydens ʼn vergadering waar regeringslui geluister het na hernude pleidooie deur Lichtenburg se sakelui om gebrekkige dienslewering aan te spreek.

Die vergadering is deur bestuur van NWK, Henwil, Nutrifeeds, Agrico en Tacet bygewoon, asook verteenwoordigers van die munisipaliteit, provinsiale en nasionale regering.

Dit is belê ná afloop van kragonderbrekings in Desember en Januarie (buiten beurtkrag) en te midde van gebrekkige watervoorsiening weens, onder andere, kabeldiefstal.

Sakeondernemings skree ten hemele

NWK se groephoof- uitvoerende beampte, Theo Rabe, het wéér die reuse-finansiële verlies wat die maatskappy se sonneblomoliepersaanleg, Epko, in Augustus en Oktober 2023 tydens ʼn grootskaalse kragonderbrekings, tesame met kragonderbrekings gely het, beklemtoon. Kliek hier om die artikel te lees .

Theo Rabe

“Ons het netto wins van sowat R60 miljoen ingeboet – nie omset nie – netto wins. As Epko vir een dag nie kan produseer nie, beloop ons vastekoste meer as R6 miljoen per maand.

“Ons het op 16 Oktober ʼn brief aan die president, visepresident, minister van elektrisiteit, premier, die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Cogta) asook die munisipaliteit gestuur. Buiten vir ʼn geoutomatiseerde e-posboodskap vanaf die president, het niemand ons gekontak nie,” het Theo gesê.

Die maatskappy is reeds in ʼn gevorderde stadium om ʼn grootskaalse projek te implementeer waarvolgens Epko sy eie elektrisiteit sal kan opwek, wat die munisipaliteit van hierdie inkomste sal ontneem. Lees ook meer hier oor NWK se planne met Epko.

“Ons sal ʼn alternatief binne so gou as twee maande moet implementeer en kan nie meer maande lank op leë beloftes wag nie,” het Theo benadruk.

Henk Alberts, uitvoerende hoof van Henwil, het vertel dat een van hulle vragmotorbestuurders op 5 Januarie vanjaar in ʼn ernstige ongeluk was weens ʼn reuse-slaggat op die Putfontein-pad naby hulle abattoir. Die abattoir is sowat 6km buite Lichtenburg.

Henk Alberts

“Die bestuurder was met ʼn vrag vol lewende hoenders na die abattoir onderweg toe dit die slaggat tref. Die vragmotor het begin gly en omgeval.

“Sowat 6 800 hoenders moes ontruim word. Gemeenskapslede het die vragmotor bestorm en hulself aan die hoenders gehelp. Die bestuurder was ongeveer drie weke lank in die hospitaal en ons weet nie of hy ooit weer sal kan werk nie,” het Henk gesê.

Die ongelukstoneel op 5 Januarie vanjaar.

Inwoners trek weg

Ditsobotla se waarnemende munisipale bestuurder, Sello Maroga, het genoem dat ʼn sensusopname van 2011 getoon het dat daar 168 902 mense hier woonagtig was, teenoor 164 167 in 2022.

Sello Maroga

Hy het enkele van die munisipaliteit se voorgenome aksies, in samewerking met die provinsiale en nasionale regering, uitgelig.

Volgens Sello sal die departement van energie ʼn diensverskaffer aanstel om die munisipaliteit se elektrisiteitsinfrastruktuur op te gradeer en is fondse reeds hiervoor toegeken.

Die munisipaliteit sal ook Eskom vra om groot sakeondernemings van beurtkrag kwyt te stel en hulle beoog om elektrisiteit by huishoudings met sonpanele aan te koop. “Ons verloor tussen 50% en 60% aan inkomste per huishouding met sonpanele,” het hy gesê.

Vier van die vyf vullisverwyderingsvragmotors van Ditsobotla werk al die afgelope vier jaar nie. NWK het gevolglik aangebied dat sy werktuigkundiges kyk of hulle die vragmotors kan herstel.

Sello het bygevoeg dat munisipale geboue dringend opgeknap moet word en verwys na die museum wat in Oktober 2023 afgebrand het, asook die dak van die plaaslike verkeersdepartement wat onlangs ingeval het.

Ditsobotla koop tans water by die Ngaka Modiri Molema distriksmunisipaliteit aan en die moontlikheid word ondersoek om dit eerder direk vanaf die departement waterwese en sanitasie aan te koop.

Ditsobotla se invorderingstelsel is uiters problematies. Inwoners ontvang óf glad nie rekeninge nie, óf word verkeerd gefaktureer. Sello het dit grootliks toegeskryf aan die oorskakeling na ʼn nuwe finansiële sisteem.

ʼn Finansiële herstelplan ingevolge Artikel 139 (5) van die Grondwet, waarvolgens die provinsiale regering beheer neem van die munisipaliteit se finansies, is reeds ingestel.

Sakelui moet die regering se vordering monitor

Dr Ben Bole, hoof van Noordwes se Cogta, het bygevoeg dat die krisis in Ditsobotla nou ʼn provinsiale en nasionale kwessie is. “Beide die provinsiale en nasionale Cogta het beamptes na Ditsobotla gestuur om te help. Ons het slapelose nagte hieroor. Daar is reeds ʼn taakspan in plek om toe te sien dat eksterne kontroles uitgevoer word.

“Ek stel verder voor dat die munisipaliteit, provinsiale regering asook besighede ʼn taakspan saamstel waarvolgens sakeondernemings hul hulpbronne beskikbaarstel, maar ook toesien dat die munisipaliteit hul kant bring.”

Waar is die sin van dringendheid?

NWK se direkteur van Ekonomiese Ontwikkeling, Benedict Modise, het ná afloop van bogenoemde sprekers se voorleggings opgemerk dat dit blyk of ʼn sin van dringendheid by die regering ontbreek.

Benedict Modise

“Ons het tot al beloftes van die president (Cyril Ramaphosa) dat Lichtenburg op sy radar is en hy die situasie sal monitor. Niks het nog gebeur nie!

“Ons het al by elke kantoor om hulp gaan aanklop, maar word van bakboord na stuurboord gestuur. Die sakegemeenskap kry nie ʼn verbintenis van julle wat sê dat julle die kwessie ernstig opneem nie.

Dié skip gaan stadig van koers verander

Dis tóé dat Linda die vergadering toegespreek het. “Die tyd is verby. Praat gaan ons nêrens bring nie. Ons sing reeds die afgelope vyf jaar dieselfde deuntjie. Ek kan namens die provinsiale en nasionale tesourie bevestig dat die munisipaliteit basies bankrot is. Daar is geen geld nie. Ons kan al die pypdrome verkoop dat ons ‘dit en dat’ sal doen, maar dit bly ʼn pypdroom,” het sy gesê.

Linda het die vergadering verseker dat hulle ʼn plan in plek het om die munisipaliteit se sake reg te ruk.

“Hoewel ons optimisties is, moet julle nie dink dat verandering môre sal plaasvind nie. Ons spreek ʼn probleem aan wat al vir langer as 10 jaar sloer. Dit gaan lank vat om reg te stel omdat hier ʼn organisatoriese kultuur en gedrag gevestig is wat verander moet word.”

Sy het gesê dat die plan uit fases bestaan en dat hulle tans in die sogenaamde reddingsfase is. “Een van die aktiwiteite in hierdie fase behels die opvangs op agterstallige rekeninge aan verbruikers.”

Linda het plaaslike ondernemings gevra om menslike hulpbronne aan die munisipaliteit beskikbaar te stel om te help om hierdie databasis op datum te probeer kry.

“Wees asseblief geduldig met ons. My ervaring met plaaslike regeringsfinansies het my geleer dat, om ʼn munisipaliteit in hierdie toestand om te draai, ʼn minimum van sewe jaar en ʼn maksimum van 15 jaar kan duur.”

Inkomstestrome moet prioriteit geniet

Theo het ná afloop van die vergadering gesê dat dit duidelik is dat die munisipaliteit sy inkomstestrome moet regkry. “Inwoners betaal rekeninge in die donker. Die munisipaliteit sal op strategiese beplanning moet fokus en sy rekeningsisteme uitsorteer.

“As maatskappy sal NWK deeglik besin oor hoe dit verder betrokke kan raak en help waar dit nodig is. Hopelik sal sakeondernemings se betrokkenheid help om die proses te verkort.”

Tags: Jan/Feb 2024
Previous Post

Bewaringsnuus uit ons kontrei

Next Post

Mikrobiese ensieme hou grond gesond


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In