Epko, NWK se sonneblomoliepersaanleg in Lichtenburg, kan sedert 2 Augustus nie produseer nie weens ‘n grootskaalse elektrisiteitsonderbreking wat die aanleg op sommige dae met so min as agt ure se krag laat.
Die aanleg, wat 600 ton saad per dag kan pers om 210 ton se ru-olie te lewer, staan stil omdat bepaalde woonbuurte slegs vier ure op ‘n slag van krag voorsien word, voordat dit ontkoppel word om ‘n ander deel van die dorp van krag te kan voorsien.
Dit het alles begin met ‘n transformator wat op Donderdag 27 Julie onklaar geraak het. Eskom en Ditsobotla plaaslike munisipaliteit kon die kragtoevoer na slegs ‘n gedeelte van die dorp herstel.
Sedert Woensdag, 2 Augustus word roterende beurtkraggleuwe van vier ure elk in die dorp geïmplementeer sodat alle inwoners darem ‘n paar uur se krag per dag kan hê. Ten spyte hiervan, word Lichtenburg nie van nasionale beurtkrag kwytgestel nie en is die krag dus vir nóg langer af.
‘n Nuwe transformator is geïnstalleer, maar Eskom weier om die kragtoevoer na die hele dorp te herstel voordat Ditsobotla nie ten minste R123,5 miljoen van sy skuld aan dié kragvoorsiener betaal nie. Die totale skuld beloop sowat R1 miljard.
“Dit is ‘n nagmerrie,” beskryf Adriaan Oosthuysen, finansiële bestuurder van Epko, die situasie. “Ná ‘n kragonderbreking, moet ons sowat twee ure toelaat vir die pypleiding om skoon te kom sodat produksie kan hervat. Produksie word ook ‘n ruk vóór beurtkrag gestaak om skade aan die masjinerie te voorkom.
“Dit is dus nie lonend om in só ‘n kort tydjie te probeer produseer nie.” Sou die aanleg met behulp van kragopwekkers produseer, sal dit in elk geval 90% van die winste opslurp weens die hoë brandstofkoste.
Epko het reeds sedert 1 Mei 2022 tot 30 April 2023 meer as R53,5 miljoen verloor weens beurtkrag. “Die koste is astronomies. Dit is geld wat vir die uitbreiding van ander sakesegmente aangewend kon word,” het Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, gesê.
“Die hele sakegemeenskap in Lichtenburg ly hieronder en kleiner ondernemings gaan dalk hulle deure moet sluit. Om van inwoners wat belasting en elektrisiteit betaal en hierdeur verontrief word, nie eens te praat nie.”
NWK het die afgelope boekjaar R46,7 miljoen aan alternatiewe metodes van kragopwekking by sy hoofkantoor en handelswinkel op Lichtenburg, asook sy silokomplekse in Delareyville, Ottosdal en Sannieshof bestee.
‘n Verdere R21,3 miljoen is vir brandstof vir kragopwekkers opgedok.