Hoewel El Niño nie noodwendig minder reënval tot gevolg het nie, kom reën dikwels later in ’n seisoen en ná belangrike groeistadiums van graangewasse voor, wat ’n negatiewe uitwerking op die graangehalte kan hê.
Produsente hou asem op oor die uitwerking van die heersende El Niño-seisoen op hul graangewasse. Met die skryf van hierdie artikel (November 2023) is daar sowat 40 mm reën vir dié maand in Lichtenburg gemeet.
Weerpatrone het ook ’n uitwerking op die kommoditeitspryse. Suid-Afrika se graanprodusente het die afgelope aantal jare meestal mielies, sonneblom, sojabone en koring geplant, maar aangesien Suid-Afrika een van die wêreld se belangrike uitvoerders van mielies is, gaan slegs gekyk word wat die uitwerking van ’n droë El Niño op die mieliepryse kan wees.
Figuur 1 is ’n goeie visuele voorstelling van die El Niño-siklusse vanaf 1990. Uit die figuur kan afgelei word dat ’n sterk El Niño in 2023/2024 verwag kan word.

Tabel 1 illustreer dat sterk El Niño-siklusse in 1997/1998, asook gedurende die seisoene van 2002/2003, 2009/2010 en 2015/2016 voorgekom het.
In Figuur 2 kan waargeneem word dat, alhoewel Suid-Afrika minder reën gedurende El Niño-siklusse ontvang, ander lande soos Amerika in sekere gedeeltes meer reën kry. Die groter hoeveelheid reën beteken egter volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) nie noodwendig ’n beter oes nie. El Niño kan ook vloede, oorstromings, uitermatige hitte of koue veroorsaak.

Figuur 3 toon dat die verskil tussen die Safex-witmielieprys (MAW) en die internasionale mieliepryse, uitgedruk op ’n VSA-dollarbasis (CBOT corn x R/$) groter word gedurende El Niño-tydperke. Hieruit kan die aanname gemaak word dat die binnelandse mieliepryse nader aan invoerpariteit begin verhandel gedurende droogtejare, waartydens die aanbod van mielies nie die vraag daarna bevredig nie.

As Figuur 3 en Grafiek 1 met mekaar vergelyk word, blyk dit of die aanname wel waarde het. Gedurende jare wanneer die Safex-witmielieprys hoër as die internasionale mieliepryse (uitgedruk op ’n VSA-dollarbasis) verhandel het, kan ’n afname in die uitvoersyfer gesien word, wat in Grafiek 1 aangedui word. Die vraag is egter, wat beteken dit vir ons?


Uit hierdie data kan drie belangrike afleidings gemaak word:
- Gedurende die vorige El Niño-siklusse het die vraag in terme van uitvoere tesame met die aanbod gedaal. Die grootste rede hiervoor is waarskynlik dat plaaslike mielies teen invoerpariteit te duur was teenoor mielies vanaf ander lande.
- Die totale oes, verbruik, uitvoere en oordragvoorraad gaan dus belangrike syfers wees om vir die komende seisoene dop te hou. Indien die binnelandse verbruik- en uitvoersyfers aanhou toeneem en die oes is nie na wense nie, kan ’n soortgelyke scenario as dié in 2015/2016 moontlik ervaar word. Die syfers kan op Sagis se webwerf verkry word: https://www.sagis.org.za/sd_marketing_year.html
- As na die Safex-pryse vir die tydperk 2015/2016 gekyk word, het die witmieliepryse met die voorspelling van ’n sterk El Niño vir die komende seisoen reeds vanaf November 2015 begin styg. Dus bestaan daar ’n moontlikheid dat die Safex-pryse weer vanjaar vroeg kan begin styg, weens dieselfde voorspelling. Die onsekerheid of reën op die regte tye gaan kom en of hittegolftoestande gedurende die noodsaaklike bestuiwingstyd van mielies gaan realiseer, veroorsaak kommer oor die oessekerheid vir die komende seisoen.
Gevolgtrekking
- Onsekerhede, veral rakende klimaatstoestande, was reeds deel van die Suid-Afrikaanse graanprodusent se lewe nog lank voor die begrip El Niño bekendheid verwerf het.
- Dis ook onseker hoe groot die negatiewe impak van die voorspelde El Niño-verskynsel gedurende die komende seisoen gaan wees.
- Ontledings rakende die prysverloop van Safex-witmielies gedurende vorige El Niño-seisoene dui aan dat graanprodusente meestal hoër pryse vir hulle produkte ontvang het deur dit eerder later as vroeër in die graanseisoen te bemark.
- ’n Sinvolle strategie mag wees om eerder van Put-opsies (minimumprys-kontrakte) gebruik te maak en eers seker te maak wat die grootte van die 2024/2025-oes gaan wees, in plaas van vaste pryse vir voorseisoen-kontrakte.
Bronnelys
- FAO, 2023. El Niño: FAO: Food and Agriculture Organisation of the United Nations (no date). FAOElNino. https://www.fao.org/el-nino/en/ [17 November 2023]
- Hartman L, 2023. Technical difficulties. https://share.america.gov/how-el-nino-could-worsen-global-hunger/ [17 November 2023]
- Null J, 2023. El Niño and La Nina years and intensities. https://ggweather.com/enso/oni.htm [17 November 2023]
- Reuters
- SAGIS, 2023. SD Marketing Year. https://www.sagis.org.za/sd_marketing_year.html [17 November 2023]