Dit was die eerste week van Desember 2023 toe hierdie bydrae vir Arena geskryf is: Die afgelope aantal dae was weer snikheet warm – ’n voortsetting van die strawwe hittegolwe wat mekaar die afgelope weke met reëlmaat opgevolg het.
Die maksimum daaglikse temperature raak telkens aan 40°C en die lugvog is uiters laag. Ons is gewaarsku dat ’n El Ninõ op pad is, maar nogtans was die feit dat die seisoen se totale reënval tot einde November (volgens my eie reënvalrekords, wat oor 63 jaar strek) slegs 66% van die langtermyn gemiddelde reënval was, kommerwekkend. Bitter min droëland-aanplantings het nog in hierdie gebied die lig gesien en die venstertydperk vir mielie-aanplantings is besig om uit te loop. Weidings toon ook uiters min tekens van groei en die vee kry swaar.
Die meeste gesprekke met ander produsente wat ek in die dorp raakloop, word afgeskop met: “Het jy al reën gehad?” Dan word daar met groot erns kopknikkend saamgestem dat aardverwarming nou ’n gegewe verskynsel is. Soos wat produsente maar altyd in ’n positiewe lig na moeilike uitdagings kyk, groet ons mekaar met: “Die reën is op pad!”
In die lig van bogenoemde gebeurtenisse is ek nuuskierig oor wat die ingeligte persone se siening is oor die besondere warm toestande oor ’n groot deel van die land die afgelope tyd. Dit blyk dat ’n hoëdrukstelsel oor die noordelike dele van die land verantwoordelik is vir hierdie moordende hitte wat ons beleef en dat dit ook verhoed dat vogtige lug instroom om verligting te bring.
Die tipiese somersirkulasiepatrone is grootliks versteur deur die posisie van die hoogdrukstelsel, maar daar is ook die verwagting dat dit binnekort gaan opklaar. Ons kry egter hiermee ’n bietjie blootstelling aan die potensiële uitwerking van klimaatsverandering.
Navorsing oor die onderwerp lei my onder andere na dokumente van die Verenigde Nasies en die COP-berade, wat spesifiek daarop gemik is om die intensivering van aardverwarming en die gelyktydige verdere opbou van skadelike atmosferiese gasse te verhoed. Hiervolgens is die aarde reeds 1,1% warmer as wat dit in die 1800’s was. Dit blyk ook dat die doelwit van die Parys-ooreenkoms (in 2015 tussen 195 deelnemers aangegaan) om dit laer as 1,5% te hou, onwaarskynlik is.
Die dekade van 2010 tot 2019 was die warmste tydperk op rekord. Dis verder ’n skrikwekkende feit dat die huidige tempo van metaan- en koolstofdioksied-vrystelling steeds voortgesit word, en dit kan lei tot ’n temperatuurverhoging van 4,4% teen die einde van hierdie eeu.
Hierdie huidige klimaatsverandering hou hoofsaaklik verband met menslike aktiwiteite wat grootliks te wyte is aan die verbranding van fossielbrandstowwe, wat kweekhuisgasse in die atmosfeer vrystel. Kweekhuisgasse is nou die hoogste wat dit nog ooit in die afgelope 2 miljoen jaar was en dit bly styg.
Die aarde en sy atmosfeer is ’n geslote stelsel en dis nie net verwarming wat problematies is nie – enige versteuring in aardbalanse het ’n impak op ander gebiede. Droogtes, verspoelings, hoër seevlakke en poolys wat vinniger begin smelt, is van die verskynsels wat reeds waargeneem word. Dit het verreikende implikasies vir die mens en veral vir byvoorbeeld gemeenskappe op eilande wat net enkele meters bo seevlak is.
Daar was na beraming 811 miljoen mense wat in 2020 hongersnood in die oë gestaar het. Dis 161 miljoen meer as in 2019. Die produksie, verpakking en verspreiding van voedsel is vir omtrent een derde van die kweekhuisgasse verantwoordelik. Sonder ernstige ingryping kan dit teen 2050 na 40% verhoog.
Klimaatslimpraktyke, erosiebeheer, droogteverdraagsame gewasse, verbeterde beweidingstelsels en minder vermorsing van voedselprodukte is onder andere van die maniere waarop klimaatsverandering hokgeslaan kan word.
Klimaatsverandering bly ’n reuse-uitdaging, maar ons het reeds antwoorde vir talle van die probleemareas wat tot hierdie verskynsel aanleiding gee. Die internasionale gemeenskap het reeds talle stappe geneem om groen ekonomieë en die mensdom se volhoubaarheid te verseker. Dis egter ook die verantwoordelikheid van elke individu om te oorweeg wat sy impak op die omgewing is en dan só te lewe dat ons kinders ’n aarde erf wat steeds leefbaar vir hulle en hulle kinders is.