“Herlewingslandbou is soos die Evangelie. Jy moet in iets glo wat nie met die oog gesien kan word nie. As jy wedergebore word, is daar nie omdraaikans nie. Jy kyk met ander oë na die Skepping.”
Só gesels Magnus Theunissen (42), wat glo dié boerderypraktyk is die sleutel tot vogbewaring in ’n tyd wat aan uiterste weerverskynsels gekenmerk word. Hoewel Magnus 105 mm reën in Februarie 2021 gemeet het, het daar vanjaar in Februarie slegs 16 mm by hom geval.
NWK Arena het in Februarie by Magnus op sy plaas tussen Sannieshof en Ottosdal gaan kuier. El Niño het toe verskeie hittegolwe in NWK se bedieningsgebied tot gevolg gehad. Tekens van hit-testres aan mielies voor die pluimstadium was wydver-spreid en reeds duidelik sig-baar in dele soos Delareyville, Excelsior, Swartruggens en Gerdau.
Magnus is van mening dat herlewingslandboupraktyke hierdie ongewone weersomstandighede baie beter as ’n konvensionele stelsel kan hanteer. Hoewel hy nie noodwendig minder reën as vorige jare ontvang het nie, was dit baie wispelturig en moes hy dit so gou moontlik in die grond kry.
Volgens hom het sy grond se waterinfiltrasievermoë “vertiendubbel” sedert hy herlewingslandbou toepas.
Geploegde land lyk soos Mars
Magnus vertel dat hy destyds ’n praatjie oor herlewingslandbou bygewoon het toe die fasiliteerder ’n foto van “mooi, rooi geploegde grond” vertoon het. “Hy het ons gevra wat dit was. Ek het gelag, aan ’n pêl langs my getik en gesê dis Mars. Dit was régtig Mars,” vertel hy.
Hy het ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer en in 2004 by sy pa op die plaas aangesluit. Sy pa het hom gevra om hom te help ploeg en toe hulle ná die tyd hul handewerk bewonder, het dit vir Magnus “dood” gevoel.
Dit het hom laat besluit om ’n rip-op-die-rystelsel op die proef te stel en Rovic Engineering het vir hom ’n skeurtandploeg wat hy self ontwerp het, gebou. “My pa het dié implement so gekyk en gesê: ‘Jy bring dit nie naby my lande nie,’” lag Magnus.
Hy het egter dubbel die opbrengs as ander huurders op sy oupa se grond behaal.
Hierna het Magnus die rywydtes verander. “Ons het rye van 0,9 m by 2,3 m geplant. As dit nie kliphard droog was nie, was dit oortrek van die onkruid. Hoekom? Binne die rye van 3 voet was daar egter nie onkruid nie. Hoekom nie? Ons moet na die natuur kyk en dit mimiek.”
Die volgende jaar het Magnus die planters begin aanpas. “My pa het gesê dis die begin van die einde,” lag hy weer. Die opbrengste het egter bly styg en die onkruiddruk het afgeneem.
In 2014 het hy oorgeslaan na geenbewerking omdat dit ekonomies meer sin gemaak het. Hy het self die planter gebou waarmee hy nou nog plant. Hy het bewaringslandboupraktyke (praktyke wat bestaande stelsels onderhou) ingespan voordat hy in 2021 herlewingslandbou (praktyke wat stelsels herstel) omarm het.


Hoë insetkoste was die laaste strooi
Magnus het nie daarvan gehou dat hy “afhanklik” was van die prys van kunsmis nie. Hy is een van min produsente wat vloeibare kunsmis gebruik en is deur die geenbewerkingsklub op Ottosdal genader om proewe met vis-hidrolisate te plant.
Hy is per geleentheid saamgenooi na een van Suid-Afrika se pioniers in herlewingslandbou – Hannes Botha naby Carolina. “Op pad soontoe het ek gehoor hoe mense van die Johnson-Su-proses praat. Ek het dit gegoogle en gesien dit is ’n bioreaktor wat aërobiese fungus-gedomineerde kompos maak. Ek het nie geweet wat om te verwag nie!” Hannes maak onder andere sy eie kompostee met ’n Johnson-Su en het Magnus se voete onder hom “uitgeboul” met sy kennis oor grondgesondheid.
Terug by die huis het Magnus met die proewe met die vis-hidrolisate weggespring. Hy het baie navorsing gedoen en vasgestel dat ’n gesonde mikrobioom van kardinale belang is. “Daar is meer lewende organismes in ’n teelepel grond as mense op aarde. Elke organisme wat asemhaal, het ’n mikrobioom wat gevoed moet word.
“Goed oorheers altyd sleg. As iets siek is, is daar prosesse om dit gesond te maak. As jou grond nie gesond is nie, is daar natuurlike prosesse om dit te herstel.”
Magnus meen dat ’n gesonde grondmedium allerlei sintetiese byvoegings onnodig maak. “In ’n tegnologiese era soos vandag is dit egter sinneloos om vanuit ’n Mercedes in ’n donkiekar te klim. Gebruik die beskikbare middels tot jou voordeel.”
Só kan jy byvoorbeeld humate wat gemyn word en ’n uitstekende bron van koolstof vir mikrolewe is, inspan. “Hoewel dit in ’n kan kom, is dit anaërobies en klaar verwerk en kan dit beter werk as ’n rou produk soos hoendermis.”
Grasveld word bakteries gedomineer, terwyl boomspesies deur fungusse oorheers word. Met herlewingslandbou sal jy tipies na meer fungusse in die grond streef. “Dit gaan oor armour. Jy soek beskerming teen die son se ultravioletstrale,” verduidelik Magnus.
Vis bevat baie meer fungusspore en die stikstofvrystelling hieruit is daarom ook heelwat meer.
Magnus het opgemerk dat rooi lieweheersbesies (inheems) volop was op die proewe met die vis-hidrolisaat, teenoor kontroles wat sintetiese stikstof ontvang het. Hy het in die eerste jaar reeds ’n verhoging in sy opbrengs waargeneem – 80 kg/ha meer met sojabone en 160 kg/ha meer met mielies.
Aangesien herlewingslandbou sterk op diversiteit steun, het Magnus reeds in 2021 begin om dekgewasse tussen sy graangewasse te plant. “Jy soek soveel moontlik wortels in die grond om die biomassa te verhoog en diversiteit te skep,” verduidelik hy.
Vogbewaring spreek vanself
Magnus fokus op sy dominante kontantgewas en vul dit aan met spesies wat dit nie sal opponeer nie, maar eerder sinergisties sal werk.
Hy het in Januarie 2023 slegs 17 mm reën ontvang. Tog het hy sy beste opbrengs nóg op sy sonneblom behaal en die tweede beste mielieoes. “Dekgewasse het beslis ’n rol gespeel. Ek het 2 t/ha meer behaal in 2022 en die gehalte was uitstekend. Waar ek dekgewasse geplant het, het ek WM1 behaal, maar in ’n blok net langsaan het ek WM3 gestroop. Hierdie mielies is egter op dieselfde dag onder dieselfde omstandighede geplant.”
Op 29 Januarie vanjaar het 50 mm reën in slegs agt minute op Magnus se plaas geval. “Daar is maar 10 mm op die plaas langsaan gemeet. Ek moes daardie massas water so gou as moontlik in die grond kry. As die grond se aggregate nie reg is en ek nie die regte beskerming bo-op het nie, kan ek dit nooit opvang nie. Dit werk erosie 100% teë.”
Magnus vertel van ’n buurman wat konvensioneel boer en hom gevra het of hulle profielgate kon grawe om hul grond te vergelyk. “Sy grond was ook bottersag. Ek het naderhand nie meer geweet hoe om hom te oortuig nie.” Hy het ’n emmer met water agterop die bakkie gehad. Hy het ’n kluit van sy eie grond en dié van sy buurman gevat en beide in die water gesit. “Syne het onmiddellik geblus, maar myne het tien minute lank nog behoue gebly. Sy water gaan Barberspan toe loop,” lag Magnus.
Dekgewasse verskaf waardevolle bykomende voeding
Magnus en sy vrou, René, bedryf ’n Brangusstoet – A-Maize-Ing Brangus. Hulle het in 2020 hoëdrukbeweiding begin toepas en het kampe van 40 ha tot sowat 18 ha gehalveer. Hoewel hulle stelsel dié van die tradisionele wawiel is, verleen die topografie hier hom meer tot ’n reghoekige een.
Hulle kan meer beeste aanhou danksy die dekgewasse wat bykomende voeding bied. “Die hoëdrukbeweidingstelsel is fenomenaal. Die beeste én die grond wen.”
Daar is in 2009 pekanneutbome op die plaas gevestig. Later is ook hier dekgewasse geplant, wat hulself elke jaar hervestig. Skape wei in die boorde en daar wag reeds lêhenne in die skaapkraal, wat ook later hier sal kan skrop.
“By die jong bome plant ons ’n somerdekgewas, wat twee keer bewei word. Hierna word ’n winterdekgewas aangeplant, wat ook twee keer bewei word. Ons besproeiingstelsel is só ontwerp dat ons maksimaal kan natmaak, nie net op die bome nie. Danksy hierdie praktyk kon ons al teen die derde jaar neute oes,” sê hy.
Magnus moedig graanprodusente aan om ’n dierekomponent in te bring om hulle grond meer divers te maak. “Hulle feses, urine, speeksel, die manier hoe hulle loop… ’n Dier se hoef is wonderlik ontwerp. Ons móét probeer om die natuur te mimiek.”
Hy het intussen sy eie Johnson-Su-bioreaktors gebou en in gebruik geneem. Ou pekanneutblare word gekomposteer en met ander organiese middels vermeng en as kompos ingespan.
Gewasse met meer voedingswaarde is die mikpunt
Magnus is tevrede met sy opbrengste en jaag nie tonne nie. Hy probeer eerder om sy wins per hektaar te verbeter. ’n Deurslaggewende komponent hiervan sal wees om die vraag na sintetiese middels binne die volgende vyf jaar met ten minste die helfte te sny. “Veerkragtigheid is my eintlike doel. Ek wil nie so gevoelig wees vir reën nie. In ’n jaar wanneer die reën ’n paar weke laat is, moet ek kan oorleef en wil ek my diere langer kan huisves.”
Ten tye van NWK Arena se besoek aan Magnus, het hy sonneblom met ’n skepelmassa van 40 na perse aangery. Sy mikpunt is om regeneratief geproduseerde sonneblom- en sojaboonolies vir die mark te isoleer vir gesondheidsdoeleindes. Hy meen grane is geneties aangepas vir grootskaalse voedselproduksie, dikwels ten koste van voedingswaarde.
Magnus beoog om sy graan se proteïen- en veselinhoud te laat ontleed, aangesien hy oortuig is dat dit danksy herlewingslandbou toeneem.

Bestry plae natuurlik
Magnus gebruik nie meer insekdoders nie. “Dit wemel van lewe in die lande! Jy hoor daar is partytjies daar,” lag hy. Hy het ’n paar jaar gelede las van springhaasrotte gehad, wat hy met natuurlike lokaas beveg het. In 2022 is daar 1,5 t koring gestrooi, die volgende jaar 200 kg en vanjaar slegs 25 kg.
Geen uil, slang, ystervark of erdvark word doodgemaak nie. René vertel: “Magnus het nog altyd naby aan die natuur geleef, maar doen dit veral nou. Hy seil op sy maag rond in die lande!”

Dit is nie ’n kitsoplossing nie
Die sojaboonaanplantings is vanjaar met sowat 114 ha vermeerder. “Dit is die goedkoopste misoes,” lag hy. “Sojabone hanteer droogtes beter as mielies. Talle perse het ook van sonneblom na sojaboon verander.”
Hy wil ook ná oestyd ’n winterdekgewas in sy sojaboonlande plant sodat hy teen laat September ’n weigeleentheid sal hê.
Magnus kon reeds binne twee jaar sy glifosaatbehoefte halveer. “Waar ek tussen 2 liter en 3 liter per ha gebruik het, het ek verlede jaar slegs sowat 1,6 liter per bespuiting nodig gehad. Dit het hierdie jaar gewissel tussen 800 ml en 1,2 liter.”
Hy verstaan waarom produsente skepties is om herlewingslandbou op die proef te stel. “Ek moet ’n omset in my boerdery hê om rekeninge te kan betaal. Ek kan nie net ’n kontantgewas onttrek om met ’n dekgewas te eksperimenteer nie.
“Daar is mos grond tussenin waar ek dekgewasse kan plant. Grane is klimaksplante en onkruide is pioniersplante. Daar is dus allelopatie tussen mekaar. As jy binne klimaksplante nóg klimaksplante plant, ontstaan daar sinergie tussen hulle.
“My oupa het dit gedoen sonder dat hy dit geweet het. Hy het wye rye gehad en stoelrog en boontjies in Januarie en Februarie tussenin geplant sodat hy later weiding sou hê.”
Magnus besef egter een produksieseisoen is ‘maak of breek’. “As ek gly, is ek uit die game. Begin net iewers op ’n klein stukkie. Pasop net dat dit nie té klein is sodat jy dit halfhartig doen of afskeep nie.
“Almal soek kitsoplossings. Die natuur het sy eie tyd, dit gebeur nie oornag nie. Jy sal egter bykans onmiddellik ’n verbetering in die grond se mikrolewe sien.”