Politieke ontleders en joernaliste merk voor elke nasionale verkiesing op dat dié een die belangrikste nóg in Suid-Afrika se geskiedenis is, naas dié van 1994 natuurlik.
Dit is 30 jaar later en 29 Mei kom nader. Ek roep my eerste herinneringe aan ’n verkiesing op. Ek was slegs nege jaar oud in 1994. Dit was ’n plofbare situasie in ons land en onluste is wyd gevrees. My pa was in daardie stadium ’n brigadier in die polisie en 24 uur op bystand. Selfone was nog nie vrylik beskikbaar nie en ’n tweerigtingradio was pal in sy hand.
Kinders waarvan beide die ouers in die polisie was en by stemlokale ontplooi is, is in koshuise van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gehuisves, waar daar na hulle omgesien is. My ma het nog etes gekook wat sy daar gaan aflaai het en ek het met die maatjies gespeel.
Ek onthou die beriggewing oor daardie verkiesing, onder andere van ’n bejaarde swart vrou wat in ’n lang ry by ’n stembus inmekaargesak en gesterf het. Sy sou nooit haar kruisie in die land se eerste demokratiese verkiesing kon trek nie. Daarom het my ouers ons van kindsbeen af gemaan dat dit belangrik is om te gaan stem. “Dit was nie altyd almal beskore nie en jy het nie ’n reg om te kla oor die stand van sake as jy ’n draadsitter is nie.”
In 2004 kon ek vir die eerste keer stem. My ouer sussie het nog by die huis kom vertel hoe ’n vrou voor haar by die stembus omgedraai en eerder huis toe gegaan het – net omdat sy nie ’n penmerk op haar nuut gemanikuurde jel-nael wou hê nie. “Sy het vir die man met die merkpen gesê dat sy vroeër daardie dag haar naels laat doen het nie en dan eerder nie gaan stem nie,” het my sus verontwaardig gesê.
Jacob Zuma sou later aan bewind kom en sy nalatenskap kan met een woord opgesom word: staatskaping. Cyril Ramaphosa het hom intussen vervang en die land het gejuig. ’n Skatryk sakeman – met oënskynlik geen motief om die staatskoffers te plunder nie – sal mos altyd bo verdenking wees, of hoe?
Die res van die wêreld bevind hom al in ’n vierde nywerheidsrewolusie met kunsmatige intelligensie. Suid-Afrika sukkel nog om die tweede een onder die knie te kry – elektrisiteitsvoorsiening. Ons is vuisvoos. Ons belasting beland in ’n bodemlose put terwyl ons ten duurste boorgate laat sink, sonpanele opsit en vir private vullisverwydering moet betaal.
Ek gaan my nie uitlaat oor vir wie jy in die nasionale verkiesing moet stem nie. Ek wil bloot by jou pleit om wel jou kruisie te gaan trek. Moenie die besluit ligtelik neem nie. Maak dit ’n saak van gebed.
As jy tevrede is met jou lot onder die regerende party, is dit reg. Gaan trek dan jou kruisie langs hulle naam om dit te beaam. Indien jy nie tevrede is nie, kan jy jou steun gee aan een van die 114 ander politieke partye wat aan die verkiesing gaan deelneem. Jy sal nooit ’n party kry wat jou ideologie 100% verteenwoordig nie. Moet dit dus nie voorhou as rede om weg te bly van die stembus nie.
Deur nié te stem nie, stem jy wel in wese vir die ANC. Dit is soos om met ’n tuinslang water teen ’n baksteenmuur te spuit met die hoop dat dit sal verkrummel. Die muur bly egter onwrikbaar staan.
Ons is vinnig om te kla (en dis goed so) oor regte wat ons ontneem word. Daarom is dit vir my vreemd wanneer mense wel ’n reg wat hulle so vrylik kan uitoefen (soos om te stem), nie opneem nie.