La Niña voor die deur
Die weerprofete voorspel ’n verandering vanaf ’n El Niño na neutraal, met die sterk moontlikheid van ’n La Niña vir die komende seisoen. Hierdie verskynsel word sterk met normale tot effens bo-normale reënval vir Suid-Afrika geassosieer. Dit lyk derhalwe of die droogte eers verby is en of ’n natter seisoen op pad is.
Volgens Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK, is die ondergrondse vog uitgeput as gevolg van die droër seisoen wat geheers het en gaan produsente in die NWK-gebied die nuwe seisoen met droë grondprofiele tegemoet.
Kry die grond gereed vir die volgende seisoen
- Evalueer grondbewerkingstelsel: Daar is nog ’n laaste kans om wortelstudies in profielgate uit te voer om te evalueer tot watter mate die plantwortels die bewerkingstelsel ervaar. Dit is ook die ideale tyd om die lande vir die voorkoms van verdigte sones te toets. Die presisiespan is gereed om verdigtings met ’n penetrometer te kom meet en om produsente oor die aangewese bewerkingsmetodes te adviseer.
- Chemiese presisie: Dit is nou ’n baie goeie tyd om chemiese presisie op die gestroopte lande uit te voer. Dit gee produsente genoeg tyd om moontlike regstellings te doen. Die presisiespan kan hiermee help en is boonop agente vir Bastion-kalk, wat ’n wye keuse van kalksoorte bied sodat die produsent die regte hoeveelhede op die regte plekke in die landerye kan toedien.
- Droë grondprofiele: Laat die ondergrondse vog in lande toets. Lande met geen ondergrondse vog nie moet eerder oorgelê word om vir die volgende seisoen op te gaar.
Raad aan veeboere vir die wintermaande
Pieter le Roux, hoof- vee-en-weidingkundige by NWK, herinner veeprodusente dat spaarkampe, staandehooi, oesreste en die voerbank met die aanvang van die wintermaande ingespan moet word om ruvoer te voorsien. “Waar moontlik moet spaarkampe eerste benut word.”
Hier is nog wenke vir wintervoeding:
- Fokus op vleie indien beskikbaar, aangesien dit in die lente vinnig uitloop en weer vroeg in die somer weiding beskikbaar stel. Hierna kan oesreste en/of aangeplante weiding as staandehooi benut word en laastens word die opgebergde voerbank gebruik, indien nodig.
- Diere met hoër voedingsbehoeftes – soos verse of koeie wat laat gekalf het en nog soog
– kan vroeër op die staandehooi gaan en vroeër met kuilvoer gehelp word. - Besin deeglik wanneer die beskikbare bronne aangewend gaan word om genoeg goeie gehalte ruvoer regdeur die winter te kan voorsien.
- Winterveld en staandehooi is laag in ruproteïen. Daar moet dus teen Mei (op die laatste) met proteïenaanvulling begin word vir diere wat hier wei. Hou egter die mis dop – wanneer dit begin droog en hard raak, moes aanvulling reeds begin het.
- Onthou om diere altyd eers op ureumbevattende lekke aan te pas. Maak ook seker dat lekbakbestuur korrek gedoen word en dat diere daagliks die korrekte hoeveelhede inneem.
Dis nou belangrik
Uitmuntende onkruidbeheer is nou van die uiterste belang om die laat herfs- en winterreën in die grond te bewaar. Begin deur winteronkruid betyds te beheer. Oorgedraagde vog lewer ’n groot bydrae tot die nuwe seisoen se gewaspotensiaal en winteronkruid benut dit met oorgawe. Oorhoofse bespuitings oor die ongestroopte gewasse is ’n goeie praktyk om winteronkruid te neutraliseer. In wye rye kan onkruid ook geskoffel word. Andersins moet dit direk ná stroop geskoffel word.
Nuus uit AgTech se ruimte
Sommige van AgTech@NWK se spanlede het Modimolle in Limpopo gedurende April besoek vir verdere opleiding deur DJI.
Tydens die Noordwes Kragdag, wat in Februarie by die Agri-Klippanterrein naby Slurry aangebied is, het Okkie Vermeulen van AgTech@NWK vir Bakgat meer vertel oor die voordele wat die DJI Agras-hommeltuie vir ’n boerdery kan inhou. Klik op die skakel https://www.facebook.com/share/v/swfkWz4ztaUWisXv/?mibextid=oFDknk om na die onderhoud te kyk.
NWK kuier by boeredae
Die Wolmaransstad Studiegroep se Groendag het op 10 April plaasgevind en NWK was ’n trotse borg van die geleentheid. AgTech@NWK se span het ook verskeie demonstrasies gedoen.